Elders gesien: Vroeër die middag het Sonia Cabano gesterf

  • 8

Foto: Henk Serfontein

Gisteraand is die krag om tien namiddag afgeskakel in die stadskom. Daar waar die stadsliggies gewoonlik soos ’n melkwegtapyt in die stadskom lê, het net ’n swart leemte oorgebly. Vroeër die middag het Sonia Cabano ongeveer ’n blok vêr van Firdalia Heights gesterf. Ek het ongeveer 10 dae gelede agter haar by die toonbank gestaan by ons hoekwinkel. Soos ek, het sy gestap tot daar. Sy het groente en botter gekoop. Seldery, sampioene, parmesaankaas en eiers. Sy het dit in ’n mandjie met wiele gepak wat sy agter haar aangetrek het terwyl sy uitgestap het. Haar hare was vasgemaak met ’n serp wat sy om haar kop gedraai het. Ons het nooit ontmoet nie, maar omdat sy 'n bekende sjef, skrywer en model was, was ek altyd bewus van ons parallelle lewens in die stad. Toe haar seun klein was, het sy hom dikwels by Rumarco Court afgelaai. Hy was maatjies met die seun wat in nommer twee gewoon het. Vir my was Sonia ’n treffende skoonheid met androgene gelaatstrekke soos Josie Borain.

Ek wonder of ander mense ook soms wens dat hul sekere mense voor hul dood, in hul lewens sou kon ontmoet. Daar was byvoorbeeld die bejaarde vrou waarvoor ek vir bykans 8 jaar gewaai het wanneer ek voor Rumarco Court parkeer het. Sy het in die blok oorkant my gewoon in Derwent Straat. Reeds om 5 uur die middag het sy soos ’n nagtegaal op haar stoep in haar pajamas gesit. Ek verbeel my sy het gerook. Sy het saam met haar suster daar gewoon. Ek het haar nooit ontmoet nie, maar na 8 jaar het die nagtegaal eendag verdwyn en het net een suster op die balkon oorgebly. Die motors het steeds voor die blok parkeer. Ek het die een suster in die Gardens Centre herken en gevra hoe dit gaan. Sy het my vertel dat haar suster gesterf het en dat die nagtegaal waarvoor ek vir jare gewaai het, eintlik ’n professor in Ortodokse Grieks was. Die oorblywende suster het my vir koffie genooi en sy drink steeds weekliks ’n koffie by Vida Café saam met 'n groep gay mans in hul sewentigs. As ek in die omtrek is, bestel ek gewoonlik ’n tweede koffie want dis die tipe van gesprek wat jy toevallig wil aanhoor terwyl jy jou koerant lees.

Ek wonder of ander mense al ooit gedroom het daarvan om ’n ete te hou vir mense wat jy graag in jou lewe sou wou ontmoet? Wie sou hierdie mense vir jou laaste Avondmaal wees? My fantasiegastelys sou die volgende mense insluit: die Grieks Ortodokse professor, Karel Schoeman, Topsy Venter, Elisabeth Eybers, Madeleine van Biljon, Harry Kalmer, Wopko Jensma, Cecil Skotnes, Ingrid Jonker, Braam Kruger en Adam Small. Dalk sou Sonia Cabano vir ons kon kook. Dalk iets vegetaries soos ’n groentetert met sampioene, seldery, parmesaankaas en eiers.

Ek sou Gewürtztraminer-wyn skink en net stilbly en luister terwyl die geur van die roosblare in die wyn, in die lug verdwyn, amper nes die stadliggies tydens ’n kragonderbreking.

  • 8

Kommentaar

  • Avatar
    Caroline Heydenrych

    Henk hoe het ek nou hierdie skrywe geniet, terwyl jy eintlik so 'n sad situasie uitgelig het. 💔

  • Sonia was n geliefd mense mens. Ek het die voorreg gehad om haar persoonlik te ontmoet by n bekende Wynfees in die Boland jare terug. Ons het vir ure gesit en gesels oor kosse, natuurlik met 'n ou glasie wyn in die hand. Rus in Vrede, liewe Sonia.

  • Ek en Sonia was saam in die klas destyds in standerd 6 en 7. Sy het ook in my “autograph” geskryf ... 'n boekie wat ons almal daai tyd gehad het. RIV Sonia.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top