Elders gesien: Uitrysondae

  • 7

Elise Bishop skryf op Facebook (Graaff-Reinet History Group):

“Barnit, gaan ons dam nie ’n entjie ry met die kinners nie?” het Ouma gewoonlik die noot ingesit as sy om die kamerdeur roep na Oupa innie eetkamer voor die wireless.

Hy was Barnard, but dit het altoos geklink sy sê Barnit. Hy was al op gewees ná hul middagrus op ’n Sondag. Oe, dan kan sy kwaai geraak het as hy die middeldeur te hard oopmaak en deur loop eetkamer toe, of hy die vloer so hard laat kraak voor haar wastafel. Sy kon haar sommer opruk! Prôpperste.

Oupa was maar tight met die purse strings. “Nou toe, maar nou nie weer so vér nie, nè? Die mouter ry nie op water nie!” So het hy gewoonlik terug geroep terwyl hy weet petrol one en six ’n gallon was.

Ouma het solank ’n haarnet opgesit, ’n skoon hankey uitgehaal, en gedêb met Potters en Moore, en onder die horlosieband ingedruk.

Sy was reg vir die uitstappie as Oupa van die sidestoep roep. En vinnig buk sy oor die medisynekassie langs haar bed vir ’n mespunt Mentholathym in die neusholtes, just in case die stof haar hay fever gee.

“Nou maar waar’s julle?” roep hy kamma kwaai by die kombuisdeur.

Ek hardloop verby op vol vaart oor die gravel in die jaart, onderdeur die adamsvyboom deur, garage toe om die garagedeure oop te stoot. Mens moes die groen houtdeure weerskante oopstoot en inhaak voor Oupa kon reverse.

Mens het altoos so important as ou Drury, die traffic cop, gevoel as jy in die straat staan en handjie waai om te wys hy kan reverse ry. Maar same time moes jy right en left kyk dat g’n karre aankom nie. Al was dit ’n one-way. Dan het hy die kar laat idle langers Mrs du Toit se huis terwyl hy wag totdat ek haastig die garage se deure toegemaak het.

Eindelik is ons almal in die 1953 Anniversary Ford (CAZ 307), die kardeure toe en slotte ingedruk. Ons kan nou ry; Ouma voor by Oupa en Mammie tussen ek en Lollie op die agterste seat. Dis eers toe ek groter was laat ek geweet het wat divorce betekent ...

Anyway, behalwe vir ’n paar maal deur Graaffernet se dorpstrate waar die mooi tuine bont-vol aanie blom was, het Oupa dan die nasionale pad gevat op koers na Middelburg. Verby Andries Pretorius se monument wat Noord kyk en wys, met sy linkerarm, en met die Van Ryneveldspasdam agter in die verte.

Min mense weet dis nie net Andries Pretorius se monument nie, maar ôk Gerrit Maritz s’n. Hy’t ôk weggery met sy ossewa daardie tyd saam met die Groot Trek.

Verby die golfbaan ry ons, die skietbaan op regs, oor die Sundays River, oor die Pienaarsrivier tot so aan die voet van Perryshoogte ry Oupa met ons. Dáár was die afdraai na FP van der Merwe se plaas, so al in die arm van die pad se steilte. Paardekraal. Rekent hy’t al op 16 ’n driver’s licence gekry, want sy pa was hemel toe en die plaas moes gemanage word en sy ma kon g’n mouter ry nie. Die kinders was só jealous by die Sondagskool laat hy rêrig agter die stuurwiel kon inklim sonder laat ou Drury hom stop en fine. Dié moes hom mos uitpass voor die licence  geissue was. So hy’t geweet.

Daar by die afdraai het ’n klein sinkhuisie gestaan waar melk en room opgelaai was van die plase. Dit was na Mrs Gous gevat by die dairy oppie dorp, maar dit was Sondagmiddae altyd leeg.

Room was meesal net bolangs uit die melkkanne afgeskep daai dae, voor mens van ’n separator gehoor of geweet het. Rêrige full cream milk was verkoop - niks low fat nie.

Langs die huisie het ’n paar verdwaalde karoobossies en buttercupbekruipers gesukkel om te oorleef. Hier en daar het ek ’n blommetjie gepluk van die buttercups, ’n asblommetjie en vygies en vir Ouma en vir Mammie gevat terwyl hulle almal in die kar bly sit het, terwyl hul die karre dopgehou het wat verby gery het.

Partymaals het iemand anders ôk gestop en het die grootmense uitgeklim en gesels terwyl die kinders gespeel het. Maar ons mag nie naby die pad gegaan het nie.
Ons het partymaal touch gespeel, of even wegkruipertjie, depends hoeveel kinders daar was.

Ander kere het ons Adendorp se kant toe gery en partykeers ingedraai en by die Setzkorns verbygery en ’n draai op Kriekbult gemaak, of anners was daar verbygehou Kruidfonteijn se hoogte toe. Dan het ons by oom Johnny se plaas Rhyneath verbygery.

Dit was darem so ’n vreeslike shock toe ons die news gekry het daai dag toe die trein hom doodgetrap het. Sy mouter het glo vasgehaak tussen die railways op die crossing en hy konnie die kar weer opgestart kry nie. Dis toe laat die trein hom doodgery het.

Dit was seker Graaffernet se grootste funeral ooit gewees.

Ek was al in high school en het dit selwers gesien.

Die Nuwekerk was gepak met mense tot bo op die gallery. Hy en ant Ada is in die Nuwekerk se begraafplaas begrawe. Rekent, so teen die grensdraad wat die cemetery weghou van die stofstraat wat Kroonvale toe gaan. Die arme grafsteen was altyd onder die dust, al was hy so glad en blink ...

Party Sondae het Oupa net met die Murraysburg se pad opgery sodat ons oor die dam kon kyk as daar water in was. Droogtetyd was die dam net vol gekraakte kleigrond.

Gone were the days wat ek aan sy hand oor die brug kon loop as die dam oorloop.

Laterjare het hulle die pad geteer en mens was nie so bang as Oupa daai skerp mespunt-draai moes ry nie. Hy was weggevat en die pad was meer regguit gemaak. Ek was net so bly as Ouma en Mammie.

Ons het nooit verbygehou Valley of Desolation toe voor ons twee einde van junior school was nie. Dan sou ons nie meer “onverantwoordelik” wees en tot op die rand van die hoë kranse loop nie. Oupa was altyd bang ek en Lollie val daar oor.

Ander kere het Oupa ons getreat en gestop by die Corner Tearooms om vir ek en Lollie orange ice suckers te koop waaraan ons kon suig soos hy ry oor die causeway onderkant die dam, reg rondom die Urquart Park en die grondpad van Mountain Drive vat. Maar dis min gewees. Ouma het so gekla van die sinkplaat wat haar naar maak as dit die kar so skud. Al langers die Sondagsrivier.

As ons gestop het, het Oupa altyd vir ons van veldplante geleer; van vygies, aalwyne, flappe, turksvye, noorsdorings, garingbome, doringbome en spekbome, alles kon mens kry langers die Mountain Drive.

Die grondpad het mens gevat tot by die teerpad van Spandauville se Woekestraat waar mens links draai in Liebenberg, verby die Melvilles, Groenewouds en die Delports, om die draai af in Albertynstraat, verby die Middellandse Hospitaal waar my mangels en appendix uitgehaal was, Huis Viviers, die College en die WE Pienaar-skool oppie hoek, voor jy die draai vat terug huistoe, op met Kerkstraat oor die Berrangé Bridge oor die Sundays River.

Wonner nog steeds tot vandag – hoe’t hy sy naam nou gekry? Sondagsrivier?

Hy het dan net water gehad as die dam oorloop? Sunday’s River? Sondagsrivier?

  • 7

Kommentaar

  • Pragtige beskrywing! Ek verstaan net nie waarom die mengels nie. Die mense het sekerlik altyd maar 'n paar Engelse woorde vir sekere goed gebruik, maar ek vind die baie Engelse woorde voeg geen besondere waarde toe nie, doen eerder afbreuk aan die andersins goeie Afrikaans en is nie getrou aan die spreektaal van die middel-vyftigs nie...

  • Philip Laubscher

    Amazing. Kan my so inleef in hierie story. Dis soos 'n movie wat in my brein afspeel. Briljant.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top