Elders gesien: "This is serious. Things change rapidly."

  • 1

...
Ouma Barrie se houtkissie waarin hulle al hul goedjies in die kapkar gelaai het, toe die Kakies hulle plaas kom afbrand het en haar en haar ma konsentrasiekamp toe geneem het? My ouers se muurbehangsels.
...

Marnus Hattingh skryf op Facebook:

Gistermiddag breek ’n brand uit agter die Hangklip Hotel, by ’n kragboks. Die wind waai Noordwes, vanaf Hangklip na Betties. Die vlamme klim op teen die berg en maal hul pad oop na Silversands, aan Betties se kant. ’n Tjopper kom uit en hou sake dop.

Vroegaand, teen 19:00, sak ’n fris reëntjie uit. Meestal in Kleinmond, maar Betties – en Silversands aan sy verste kant – kry ook ’n paar druppels. Almal is verlig. Die brand is onder beheer, sê die brandweerdienste en die munisipaliteit.

Ek kyk op my weer-app: Die wind gaan draai, môre-oggend, voorspel dit. ’n Suidoos, na Pringle se kant toe.

Vanmôre 09:00 gaan draf ek teen die berg uit, die Brodie Link. Die vlamme is nou net rook-kolle. Hier bokant Silversands, en daar oorkant by die Brodie Link, net bokant Pringle se buitenste ry huise.

’n Geel tjopper kom uit Gordonsbaai se rigting. Tjop-tjop-tjop waai hy oor my kop, bo-op die berg. Hy sirkel oor die rook, drop dan af na een van die vleie en maak sy watertenk vol. Dan bom hy die Silversands kolle so vier, vyf keer.

Ek hou die wind dop. Dit het gedraai. Dit waai nou Suidoos. Na Pringle se huise toe. Terwyl die tjopper aan Betties se kant drop, waai die rook bokant Pringle se huise al hoër. Toe die tjopper sy een draai bietjie wyd neem, vlieg hy bo-oor ’n krans. En sien die vlammehel op pad na die huise toe.

Dadelik begin hy die Pringle-vlamme te bom. Elfuur, terug by die huis, sê die jongste verslae van die burgemeester en die munisipaliteit als is nog rustig en kalm. “Al die vure is onder beheer.” My kantoor laat weet hulle’t gehoor die dorp moet ontruim. Ek soek rond op al die sosiale media groepe, maar die burgemeester en munisipaliteit sê dis nog piekfyn.

Toe kom ’n SMS: Brodie Link se huise moet ontruim. Nog ’n SMS: “This is serious. Things change rapidly.” My wêreld.

Die wind waai nou al lekker fris, maar nie stormsterk nie. Presies soos die app gistermiddag voorspel het. Die enkele tjopper werk hom oor ’n mik. Ek stap uit. Dis nou 12uur. Die wit rook pluim het ontaard in ’n armageddon rooibruin massa van wolke en rook. Jy kan skaars die verste huise op die rand van die dorp sien. Nog ’n tjopper kom join. Dan ’n vliegtuig.

“Almal moet dadelik die dorp ontruim!” sê die nuwe boodskap. Dis 13:00. Ek wik en weeg, maar skielik is als woelig en bedrywig. Geraas. Boodskappe. Rook, roet en tjoppers en brandweerwaens wat toet want hulle kan nie inkom by die dorp nie, soos mense met volgelaaide stasiewaens en SUVs probeer uitkom.

Ek gooi twee hemde, twee broeke en my nuwe draftekkies in my tas, en waai. Dis net ’n huis, maar wat maak jy met jou erfstukke van drie geslagte terug? Ouma Barrie se houtkissie waarin hulle al hul goedjies in die kapkar gelaai het, toe die Kakies hulle plaas kom afbrand het en haar en haar ma konsentrasiekamp toe geneem het? My ouers se muurbehangsels. My toer-memories-goeters.

Ek laai my draftekkies in.

Net voor 14:00 kom die burgemeester se wit Fortuner met blou ligte en CEM 1-registrasieplaat verby my gejaag toe ek Kleinmond toe ry. Dan jaag ’n Hilux verby met ’n brandtol agterop. En nog een. 'Woei! Woei! Woei!' jaag die Hiluxe.

Langs die pad sit ’n groep poachers, oop en bloot hul duikpakke en aantrek.

Die wind het gedraai, soos die app gistermiddag al gesê het. Toe die kol vlamme daar bo-op Hangklip uitgelos is. Toe als onder beheer was. En veilig.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top