Elders gesien: Strokiesprentdag in die VSA

  • 0

Foto: Riaan Strauss

Riaan Strauss het op Vrydag 25 September die volgende op Lekkerleesboekrak, ’n Facebook-ruimte, geskryf:

Dit is vandag (nasionale) strokiesprentdag in die VSA, maar dit is ’n voldwonge feit dat strokiesprente oor die laaste paar dekades wêreldwyd in gewildheid toegeneem het, en ’n uiters winsgewende industrie geword het.

Daar was natuurlik altyd die stigma aan strokiesprente, ook hier in die “ou” Suid-Afrika, met die idee dat dit glad nie lees bevorder nie. Maar eintlik het dit meer gegaan oor spesifieke temas in sommige strokiesprente, met vrese dat dit geweld en misdaad verheerlik, en sodoende jeugmisdadigheid en anti-sosiale gedrag aangemoedig het. En moet nie vergeet van die “euwel” van fotoboekies, wat onbetaamlike seksualiteit en sensasionele temas uitgebeeld het nie.

Die werklikheid is dat strokiesprente eintlik as ’n “gateway drug” vir “regte” lees gesien kan word. My eerste strokiesprentboek was hierdie spesifieke uitgawe van Mighty Mouse (ek het nou nog AL my strokiesprente uit my kinderdae). Hierdie een het ek gekry toe ek waarskynlik 5 jaar oud was, want ek onthou nog goed hoe ek in die bed in my eerste slaapkamer op ons plaas, deur hom geblaai het. En so 4 jaar later (in Standerd 1), het ek “dik” boeke sonder prentjies gelees. Nou ja toe…

Ek dink die gemiddelde Rakker sou, as hy of sy mooi daaroor terugdink, besef hoe strokiesprente in verskillende vorme deel van hulle lewens was, eens op ’n tyd. Die blou konyn Bollie (afkomstig van die Nederlandse Bobo), was reeds in die 1960’s ’n weeklikse verskynsel in die Huisgenoot, met die Bollie-tydskrif wat in Oktober 1968 ook die lig sien. Hy lyk dalk deesdae bietjie anders, maar is nog lank nie van die drukpers af nie.

En so is daar vele ander voorbeelde. Kom ons vat bietjie ’n wandeling deur media van ouds. Wie onthou vir Ben, Babsie en Familie, Die Skim en Tarzan, elke Sondag in Rapport Tydskrif? In die Huisgenoot het Liewe Heksie, Maja die By, Peanuts en Hagar die Verskriklike vir Bollie geselskap gehou. As dit kom by tradisionele strokiesprente, ken ons almal vir Superman en Wonder Woman. My persoonlike gunsteling is The Punisher, wie se wedervaringe in sommige lande gesensor en verban is vir ’n tyd, want daar was kommer oor grafiese geweld, naaktheid en eksplisiete taalgebruik. Harvey Comics het hope karaktertjies gehad, van Casper die Vriendelike Spokie, tot Richie Rich, die arme ryk seuntjie.

In “boekformaat” het Tintin (oftewel Kuifie) en Asterix die hele wêreld se harte gewen (met nuwe Asterix-verhale wat steeds gereeld uitkom). En in Suid-Afrika hoef ons talentvolle Afrikaanse skrywers glad nie terug te staan nie: voorbeelde soos Francois Bloemhof se Agent Snoet, geïllustreer deur Alistair Ackerman, Fanie Viljoen se Laaste lewe, met illustrasies deur Daniël Hugo, en Cecilia Steyn se ’n Hart is net atome, geïllustreer deur Danielle Albertyn, maak vandag se jonger en baie jonger garde vroeg lus vir lees. Om nie te vergeet van Afrikaans se nuutste strokiesprentheld, die liewe Bobbob van Marion Erskine en Heléne de Clerq nie (met illustrasies deur Bernard de Jager).

En verlede jaar word Nathan Trantraal se grafiese roman, Die man wattie kinnes vang, deur Rapport aangewys as een van die 100 beste Afrikaanse boeke van die afgelope eeu, voorwaar ’n baanbrekersoomblik!

Lees jou kind of kleinkind graag strokiesprente? Laat hulle, want dit gee hulle ’n visuele brug na ’n lewenslange liefde vir boeke, waar prentjies en teks saamspan om die verbeelding te help groei.

Lees ook:

Hoe die Franse dit regkry dat kinders lees – en wat Suid-Afrika dalk miskyk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top