Elders gesien: "Só ’n begrafnis wens ek vir elke boer in hierdie land"

  • 8

Naòmi Morgan skryf op Facebook:

Vandag, Saterdag 10 Oktober 2020, het ons nog ’n boer begrawe: Johannes Lodewicus Steyl.

’n Paar maande na sy 85ste verjaarsdag het ons hom teruggegee vir die grond waar hy sy kinderjare deurgebring het, in die familiekerkhof op die plaas Brightside, naby Sannaspos. ’n Kerkhof met ’n klipmuur en ’n draadhek, en grafte waarvan sommige net poëtiese ruïnes is.

Hy het verlang na diegene wat daar vir hom gewag het: sy vrou, ’n paar van sy kinders, en sy pa, wat dood is toe hy nog maar ’n kind van sewe was. Dit was ’n helder dag in die Vrystaat, die lug was blou en wolkloos, die veld geel en droog. Een van sy kleinseuns het die musiek gekies waarmee die kis stadig tot op sy laaste rusplek afgesak het, met woorde wat so goed by sy oupa gepas het: “Toe maak ons Vader ’n boer.”

Toe dit tyd word om die graf toe te gooi, het een van sy seuns ’n baal voer losgemaak en oor die kis gestrooi. Die lug was vol van die reuk van pasgesnyde gras. En toe die kis mooi toegegooi was met ’n groen voerkombers, het die grawe die holte met Vrystaatse aarde opgevul.

Dit was doodstil en oneindig vreedsaam in die kerkhof, en daar was groot dankbaarheid vir sy lewe by almal om die graf, want hierdie boer het nie gewelddadig gesterf nie.

Só ’n begrafnis wens ek vir elke boer in hierdie land.

  • 8

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Naomi Morgan se hart klop reg. Ek lees tans Jean Paspail se boek, Omsingel die laer van die heiliges, vertaal deur Naomi Morgan en gepubliseer in 1990.

  • Beste Johannes Comestor, Raspail het net so 'n pragtige begrafnis gehad (hy is vanjaar oorlede, op 13 Junie). Die foto's is op die internet. Dit was nie 'n nasionale begrafnis soos ons dit ken nie (daarvoor was hy te uitgesproke!), maar 'n ou-Franse begrafnis met monargistiese en Katolieke simboliek. Werklik roerend.

  • Avatar
    Norman Strike

    Dit is hartverskeurend - tragies - dat so 'n eenvoudige, vreedsame begrafnis vir ons in hierdie gewelddadige tye buitengewoon is. Jou foto's betreur 'n vergange wêreld.

  • Daar is ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan. Ons Boere se tyd om te gaan het nog nie aangebreek nie. Ons is steeds hier om lig in die duisternis te bring.

  • Liewe Norman, hoe heerlik om van jou te hoor, en natuurlik het jy, wonderlike stipleser wat jy nog altyd was, tussen die lyne gelees. Waardeer jou kommentaar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top