Elders gesien: Plaaslike skrywers moet eenvoudig boeke bemark

  • 0

Sketse deur ColoringCurations van Pixabay

Marion Erskine skryf op Facebook:

As jy skrywersvriende in Suid-Afrika het, het jy dit waarskynlik al raakgesien: hulle bemark voortdurend hul eie boeke. Party help selfs om ander skrywers se werk te bemark.

Die rede is eintlik eenvoudig: die Suid-Afrikaanse boekbedryf werk nie soos dié in baie ander lande nie.

’n Uitgewer neem reeds ’n groot risiko wanneer hulle besluit om ’n boek uit te gee, te druk en op winkelrakke te probeer kry. Daar lê nie miljoene rande se ekstra bemarkingsbegrotings en wag om elke nuwe boek op busse, advertensieborde en langs hoofweë te plak nie.

Vir baie plaaslike skrywers is die werklikheid dus eenvoudig: as hulle nie hul eie boeke bemark nie, verkoop die boeke nie.

En as die boeke nie verkoop nie, raak die kans op ’n volgende boek al hoe kleiner. ’n Droom waaraan iemand jare gewerk het, kan baie vinnig daar eindig.

So wanneer jy volgende keer effens geïrriteerd voel omdat ’n plaaslike skrywer wéér oor hul boek praat, onthou wat agter daardie bemarking sit. Hulle probeer nie net aandag trek nie. Hulle probeer hul werk ’n kans gee om te oorleef. Want glo dit of nie, ek kan op een hand tel hoeveel Suid-Afrikaanse skrywers hul huispaaiement met hul tantième kan bekostig.

Koop plaaslik. Lees plaaslik. Deel plaaslik.

Dit kos niks om ’n deel-knoppie nou en dan te klik nie. Ook nie om vir iemand te vertel van wat jy lees of raaksien nie. Elke bietjie help. Ondersteun ons skrywers en ander in die kreatiewe kunste.

As ons nie ons eie werk ondersteun nie, wie gaan?

#Afrikaans #boeke #kunste

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top