Elders gesien: Paul McCartney en "Yesterday"

  • 1

Frederik de Jager skryf op Facebook:

In die film Yesterday (wat jy nog tot die einde van die maand op Netflix kan kyk) is daar ’n kosmiese kortsluiting en die hoofkarakter, ’n aspirerende popsanger, glip onwetend ’n parallelle heelal binne. Wanneer hy ’n nuwe kitaar by sy vriende present kry, sê hy: “A great guitar requires a great song.” Dan sing hy vir hulle “Yesterday” van Paul McCarthy.

Sy vriende kan nie glo wat hulle hoor nie. Die mooiste lied wat hulle nog ooit gehoor het. Tot sy verbystering besef hy spoedig dat niemand nog van die Beatles gehoor het nie. In ’n heelal sonder die Beatles is dit net hy wat hulle musiek ken.

’n Meningsopname van BBC Radio in 1999 het “Yesterday” aangewys as die beste song van die 20ste eeu. Die volgende jaar het die tydskrif Rolling Stone en MTV dit bekroon as die beste poplied van alle tye. In die Guinness World Records staan dit aangeteken as die lied waarvan die meeste covers ooit opgeneem is – meer as drieduisend. Net in die 20ste eeu is dit meer as sewe miljoen keer uitgevoer.

Daar is muskiekskrywers wat nie hierdie entoesiasme vir “Yesterday” deel nie. John Lennon self kon dit nie verdra nie. Dit was een van McCartney se “granny songs”, het hy gevind. Hy het ook gesê die lirieke vind geen resolusie nie.

McCartney het vertel die lied het net so in ’n droom by hom aangekom. Die oggend toe hy wakker word, was hy daarvan oortuig die deuntjie wat in sy gedagtes draal, is een wat hy iewers gehoor het maar nie kon onthou waar nie, so klaar en juis was dit. Hy het die ander drie daaroor gevra, en nog mense, maar niemand het so ’n lied geken nie. Dit is opgeneem in die Beatles-album Help! van 1965 en in die VSA ook as single vrygestel, maar nooit in Brittanje nie.

Die sanger het vir ’n lang tyd bespiegelings ontken dat dit gaan oor die dood van sy ma, Mary. Sy was die “mother Mary” van “Let it be”, wat in 1956 na ’n kankeroperasie gesterf het toe hy veertien was. In ’n onderhoud later het hy toegegee dat daar wel ’n verband is.

Die lied is die eerste keer op 1 Augustus 1965 in Blackpool uitgevoer toe die Beatles daar opgetree het in die TV-program Blackpool Night Out. George Harrison kondig die nommer aan. Hy en die ander Beatles verlaat die verhoog. Die ligte word uitgedoof tot dit net Paul in die kollig is met sy akoestiese kitaar. Toe hy klaar is en die ligte aangaan en John, George en Ringo terugkeer na die verhoog, sê John: “Thank you Ringo, that was wonderful.”

Daar is ’n video van hierdie konsert, maar die uitvoering wat daarvan ’n sensasie sou maak, was die 14de van dieselfde maand in Amerika, op The Ed Sullivan show op TV. Soos in Blackpool was dit Paul alleen met ’n backtrack van strykers. Hy gaan staan voor, byna op die rand van die verhoog. Daar is nog ’n paar gille aan die begin terwyl hy open met ’n gebroke akkoord in F, maar dan word die ateljee stil.

Die skraal figuur van die jong Brit is seker aantreklik genoeg vir die Boomer-tieners, maar dit is sy gesig waarvan die kamera nie kan nie wegbly nie. Paul, 23 jaar oud, laat sy gesig oop vir al die kwesbaarheid wat so ’n lied kan besoek aan die een wat dit sing. Dit is ook die kwesbaarheid van sy jeug. Die kop wat so sydelings wegknik asof hy oor sy skouer wil kyk, maar hom bedink. Of bevestiging soek in die gehoor.

Terselfdertyd is sy mannerismes dié van ’n jong kokhaan. Hy maak sy eie bevestiging. Hy weet welke greep hy het op die histeriese adolessente voor hom, hoe hulle na hom verlang, na hom uitgaan, gereed om in hulleself op te neem wat hy bied. Dit is meer as geslagtelike ontwaking. Dit is die oopgaan van ’n hele generasie na ’n nuwe era vry van die beklemmings wat twee wêreldoorloë in dieselfde eeu nie heeltemal kon losskud nie.

McCartney is nou die ontvanger van hierdie energie. Dit kringloop terug na hom toe. Hy word koket, hy word speelman. Sy weerlose swart oë is aan die bereken. Sy kwesbaarheid word instrument. Hy gooi ’n ragfyn, en op die oor af brose, net oor sy gehoor uit en hy bring hulle in. ’n Glimlag kom rakelings oor sy mond, só dat jy dit miskyk tensy jy stip dophou. Hy het die teenwoordigheid van gees om te weet presies hoeveel om af te meet, hoeveel om terug te hou.

Aanskou die kunstenaar van later – die megaster, die kragtoer – in embrio, in ’n neutedop, volledig afgelewer net soos sy lied “Yesterday” by hom gearriveer het.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top