Elders gesien: Oor ’n onverwagse meevaller vir ’n handtekeningjagter

  • 0

Gustaf Pienaar skryf op Facebook:

Oor ’n onverwagse meevaller vir ’n handtekeningjagter: Breytenbach, Eybers en Koos Human

Laterig in Januarie 2024 reis ek deur die Suid-Kaap en doen vir middagete aan by die Ou Tronk-restaurant op Riversdal. Dis in sekere opsigte ’n grieselrige plek om te besoek. Die seldeure en ander vertrekke van die eertydse gevangenis is vir binne-besigtiging oop en omtrent in elke donker sel word antieke ware – meubels, skilderye, breekware, noem maar op – uitgestel en te koop aangebied. Daar is selfs die galgkamer met sy galg waar terdoodveroordeeldes hul laaste oomblikke beleef het. Voorwaar grieselrig.

In die restaurant se eetkamer is daar rakke en rakke met tweedehandse boeke wat te koop aangebied word. Terwyl ek wag op middagete, word ek – soos bleddie gewoonlik – verlei na die boeke. Ek kom af op ’n rits boeke wat deur Human & Rousseau (vir lank Afrikaans se voorste literêre boekehuis; deesdae dalk Protea?) uitgegee is. (Hierná sal ek kortweg na “H&R” verwys.)

Onwillekeurig kyk ek of daar nie getekende eksemplare onder die H&R’s is nie. Die hoop beskaam wraggies nie: Ek kom af op ’n eksemplaar van Kerneels Breytenbach se roman Glimlag wat in 1993 deur H&R uitgegee is. Die inskrywing, gemaak met ’n vulpen en in blou ink, lui: “Vir Koos en Trula – gedagtend (sic) aan Felicity en ander skadufigure. Kerneels Breytenbach.” Dis kodewoorde wat destyds seker tot daardie intieme kring beperk is.

Daar kan geen twyfel wees nie: Dit was ’n geskenk aan Koos Human van H&R en sy tweede vrou, Trewhella (neé Cameron), met wie hy in 1986 getroud is. Sy is “Trula” genoem. (Human se eerste vrou was Nakkie, die dogter van NP van Wyk Louw, wat in 1984 oorlede is.) Breytenbach, onthou ek ook, was lank aan H&R verbonde.

Maar toe kom daar ’n werklike gróót verrassing op daardie rak: ’n Getekende eksemplaar van Elisabeth Eybers se digbundel Rymdwang wat in 1987 deur H&R uitgegee is. Die inskripsie op die titelblad lui:

Vir Trula en Koos by geleentheid van hul besoek in dankbare vriendskap, Elisabeth Eybers. Amsterdam 2 Oktober 1987

Eybers had ’n besondere waardering vir haar uitgewer oor soveel jare – Koos Human. In sy bundel biografiese sketse Koos Human - ’n Lewe met Boeke (2006) verskyn daar vooraf ’n gedig “Vir Koos” uit Eybers se pen. Ek heg dit aan.

Human het sy boek op 30 Desember 2013 vir my geteken. Dit verskaf genotvolle leesstof vir liefhebbers van literatuur – bygesê, veral van Afrikaanse literatuur. Hy skryf onderhoudend oor, onder meer, die verbanning van sy vriend, Etienne Leroux, se opspraakwekkende Magersfontein, o Magersfontein deur die destydse Sensuurraad. Die daaropvolgende regsaksies om die bevel ongedaan gemaak te kry, word uitvoerig uiteengesit, sowel as die kartetse wat rondom die SA Akademie losgebars het toe die werk boonop met die Hertzogprys vir prosa bekroon is.

Ek vind ’n mededeling van Human oor sy ontmoeting in 1963 met HF Verwoerd nogal interessant. H&R het ’n Engelse teks deur Jose Burman oor Bolandse bergpasse, So High the Road, gepubliseer. Op aandrang van die skrywer het H&R die premier versoek om ’n voorwoord te skryf. Tot sy verbasing het Verwoerd ingewillig, “...op voorwaarde dat dit nie vir reklame gebruik mag word nie”.

Die uitgewer het ’n stel proewe vir hom gestuur en sy voorwoord het kort daarna opgedaag. Human sê dit was vir hom duidelik dat Verwoerd die proewe self moes gelees het en die voorwoord self geskryf het.

Human en die skrywer het daarna ’n afspraak met Verwoerd gemaak om ’n “spesiaal gebonde” eksemplaar aan hom te oorhandig. Human skryf:

Ons is hartlik verwelkom en getrakteer op ’n monoloog van omtrent tien minute waarin Verwoerd oor die boek uitgewei het (en ek glo nie hy het tyd gehad om sy geheue te verfris nie); kommentaar gelewer op ’n reeks artikels oor grotte wat Burman kort vantevore in die Cape Argus geskryf het en onderwerpe aan die hand gedoen het vir ander artikelreekse. Ons was stomgeslaan. Ek was nog nooit tevore (of daarna) in die teenwoordigheid van so ’n haas ongelooflike oorheersende persoonlikheid nie. Na hierdie kortstondige ontmoeting het ek geen twyfel gehad dat hy sy kabinet, koukus en party volkome onder beheer gehad het nie.

Koos Human is in Augustus 2018 oorlede. Sy jarelange vennoot, Leon Rousseau, is reeds in 2006 oorlede. Human is in 1931 gebore en Rousseau die jaar daarná.

Ek het Elisabeth Eybers by twee geleenthede persoonlik ontmoet – die tweede keer kortstondig en net om haar handtekening te bekom. Die eerste ontmoeting was op 14 Augustus 1979 tydens die Afrikaanse Radiodiens se veiling van skaars en waardevolle Afrikaanse literatuur. Eybers was – soos talle ander skrywers en digters – die Diens se gaste. Ek was toe Organiseerder van Jeug- en Tydskrifprogramme en my taak was om daardie aand ’n soort chaperone vir die digter en Hertzogpryswenner Ernst van Heerden te wees. Hy was reeds gebonde aan ’n rolstoel; ek moes hom tuis met die SAUK se kombi gaan oplaai en hom by die ateljee besorg, vanwaar die boekeveiling op lug aangebied is. Later daardie aand het ek hom weer teruggeneem huis toe, en toe was daar kans om my te verwonder aan sy manjifieke versameling van Suid-Afrikaanse kuns.

Nietemin: Eybers het, soos omtrent al die ander deurlugtige gaste, my eksemplaar van die voortreflike FAK-publikasie Afrikaans – ons Pêrel van Groot Waarde (1974) geteken.

Op 15 Augustus het die toenmalige Randse Afrikaanse Universiteit tydens ’n spesiale gradeplegtigheid vir haar ’n ere-doktorsgraad in die lettere en wysbegeerte toegeken. Ek het die geleentheid bygewoon, en sy was so vriendelik om die volgende dag – 16 Augustus – ook die program van die gradeplegtigheid vir my te teken. Ek wil-wil my herinner dit was tydens ’n private ete in die SAUK se toringgebou wat die Afrikaanse Radiodiens vir haar aangebied het.

My waardevolste stukkie erfenis rondom Elisabeth Eybers het egter uit ’n ander onverwagte oord gekom: My innemende, begaafde, kreatiewe vriend, wyle Matthys Strydom, het vir my ’n wye versameling oorspronklike skrywes deur die room van Afrikaanse woordkunstenaars van die 1960’s geskenk. Matthys het dit op sy beurt geërf van sy broer, Leon Strydom, wat gedurende sy studentejare aan die Universiteit Stellenbosch skrywers en digters genader het om ’n bladsy of so uit een van hul gepubliseerde werke vir hom in hul eie handskrifte oor te skryf. Elisabeth Eybers het aan sy versoek voldoen: Haar bydrae was die gedig “Woordeskat” uit haar bundel Onderdak (1968), waarvoor sy in 1971 met die Hertzogprys in poësie bekroon is. (Dieselfde gesogte prys is vantevore in 1943 aan haar toegeken vir haar bundels Belydenis in die Skemering en Die Stil Avontuur.)

Elisabeth Eybers is op 26 Februarie 1915 op Klerksdorp gebore as die tweede van drie kinders. Haar vader, JH Eybers, was die plaaslike NH of G-leraar wat sy later in ’n jeugherinnering herdenk as “die lang, regop gestalte in die swart toga, die asketiese profiel en die gevoelige skraal hande wat langsaam en liefderik oor die blaaie van die oop Boek beweeg.” Haar moeder was ’n toegewyde onderwyseres. Háár huldig sy in ’n latere gedig om haar “stiletskerp gees”.

Eybers sterf op 1 Desember 2007 in Amsterdam waarheen sy permanent in 1961 – ná haar egskeiding van die nyweraar Albert Wessels – verhuis het.

Lees ook:

Uitgever Koos Human, acquisiteur Hendrik Prins en de schoolboekenmarkt voor Nederlandstalige literatuur in Zuid-Afrika (1969-1987)

Uit NALN se argief: Ena Jansen se eerste onderhoud met Elisabeth Eybers

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top