Elders gesien: Oom Duggie, legendariese kroegman, se afskeid

  • 1

Jean Oosthuizen skryf op Facebook:

Oom Duggie se afskeid

Ná meer as 60 jaar agter een van die land se oudste kroeë, was dit tyd om te groet.

Vrydagaand het ons afskeid geneem van een van die land se mees legendariese kroegmanne.

Oom Duggie.

Vir langer as 60 jaar het die 81-jarige oom Duggie al menige dors keel in Klapmuts se kroeg geles. Vrydag was dit sy afskeid. Ons het kom dankie sê. Dankie oom Duggie. Van die welbekende renjaer Sarel van der Merwe tot die inmergeliefde Johan Bakkes was daar. Ek dink nie daar was al ooit so ’n afskeid vir ’n kroegman gewees nie.

Welverdiend!

Oom Duggie was net 20 jaar oud toe hy by die Klapmuts hotel begin werk het in 1961. Hy is nou 81 jaar oud. Op 20-jarige ouderdom het hy uit die Transkei by Klapmuts-stasie afgeklim.

Apartheidsjare in blom.

Dit is hier waar die Boland se mense vandag in hulle hordes opgeruk het om van hom afskeid te neem as kroegman, maar eintlik meer as mens der mense.

As jy meer van die agtergrond oor oom Duggie wil weet gaan lees Herman Lategan se storie oor hom op Netwerk24.

Die jonge Duggie (Dugmore Toyise) uit die Transkei wat tydens tydens die hoogty van apartheid vir hom ’n lewe in die Boland kom soek het. Maar dis ’n ander storie vir ’n ander dag. Daar is soveel meer daaroor om te vertel.

Oor Vrydagaand alleen kan ek ’n boek skryf. Ek volstaan voorlopig met ’n paar kiekies. Ons het kom totsiens sê vir oom Duggie. Om dankie te sê vir al die doppe wat hy geskink het in ons vreugde en in ons verdriet.

En daar ruk hulle toe op in hulle hordes. Die hele lot Bolandse boere wat al in hul lewe oorkant oom Duggie in die kroeg gesit het om te bieg, of lieg.

Vrydagaand is daar veiling gehou om geld in te samel vir oom Duggie se aftrede. In ’n kroeg ja. My soort kerk.

Lang storie kort. Daai legendariese prent van die girl in die see word ook opgeveil ten bate van oom Duggie. En die manne die bie. En die bod gaan op, en op en op... En sowaar as parra manel dra, daai girl se laagwaterprentjie verkoop vir ’n hele R40 000! Ek praat nie strooi nie, kyk die video hier as jy dink ek lieg.

Later kuier ek saam met van die locals. Ek vra hulle uit oor hulle onthou van oom Duggie. Een ou vertel my en sê: ‘’Jy moet onthou, ek kom uit die apartheidsjare. Pas van die grens. Geëtter in my kop. Verstaan jy? Ek haat swartes. En hier is die swart ou agter die toonbank by wie ek my dop bestel. Oom Duggie. En hy swaai my kop.”

Verstaan jy wat ek sê? vra die ou my. Ek dink ek verstaan nou beter.

Ek kan nog baie stories oor oom Duggie vertel en stories oor hom wat aan my vertel is van Bolandse boere, maar dis vir ’n ander dag. Baie van daai boere wat duisende rand gebie het om by te dra tot oom Duggie se aftrede, was destyds jong studente van Elsensburg wat daar loop drink het as jong studente. Vrydag het hulle duisende rand gebie om oom Duggie se oudag mooi te maak. Dis mos mooi genoeg. En dit in ’n kroeg.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top