Elders gesien: Ons is nie almal so nie?

  • 1

Die skrywer, Hettie Scholtz skryf op Facebook:

No bleeding heart, not wanting you to don a hairshirt, en regtig min gepla met snedige kommentaar wat kan volg, ek het iets op die hart.

Op die Woordfees in Maart vanjaar word ’n biografie oor die skrywer Jeanne Goosen vrygestel. Sy mag ander genres goed bemeester het, maar die boek waarvoor sy altyd onthou sal word, is die seminale Ons is nie almal so nie. Dis ook die eerste woorde wat by my opgekom het toe ek onlangs in totale verstomming die verklaring van ’n vorige president van ons land se siening van apartheid gelees het. Nog meer so vanoggend met die “onvoorwaardelike” mosterd na die maal wat pas aangebied is as verskoning.

En dit met ons land op ’n mespunt.

Ek vra net dié van julle wat ook lesers is en in julle lewens ook streef daarna om in opregtheid voetjie vir voetjie nader te probeer beweeg aan dit wat ons soveel jare lank ontneem is: natuurlike wisselwerking met ons naaste op grondvlak, watter sotlikhede ook al op politieke verhoë gebeur. Besef julle ook dat ons nie naastenby genoeg doen om traksie te gee aan die stelling dat ons nie almal so is nie? Een van die mees ontroerende boekbekendstellings wat ek by verlede jaar se Woordfees bygewoon het was dié van Chase Rhys in die Adam Small teater se Seminaarkamer. Daar was skaars ’n handjievol mense. En wat het hulle nie gemis nie! Die vorige jaar toe die Hip-Hop/Rapper Hemelbesem opgetree het was daar wel meer mense agv sy bekendheid as kunstenaar en in vraetyd na ’n jolly goeie gesprek wat wyd geloop het oor die lewe en sy oortuigings, het ’n dame in haar goue jare haar hand opgesteek en reguit vir hom gesê dat sy voor dié gesprek hoegenaamd niks van hom geweet het nie, nie eers sy naam geken het nie, maar dat dit vir haar die beste optrede was wat sy bygewoon het.

By hierdie jaar se Woordfees is daar ’n hele paar aanbiedings deur gevestigde, bekroonde bruin skrywers, sowel as van opwindende opkomende én nuwe stemme. Kom wys vir hulle ons wíl weet van mekaar se stories? Tien teen een meer van mekaar leer, aangemoedig deur die leuse van vanjaar se Toyota US Woordfees: "Aanhou beweeg en geraas maak." Vanself gaan dit nie gebeur nie.

Fynkam asb die skrywersprogram en merk sulke aanbiedings? En as die begroting kaput is, kontak die organiseerder van die Skrywersfees, Elmari Rautenbach en hoor of daar nie perdalks, net miskien, ’n gratis kaartjie of twee spesifiek daarvoor is nie. So leef ons ook die borge van die Woordfees se credo uit: Saam is ons sterker.

Kontak die Woordfeeskantoor met voorstelle.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Monica Hammes

    Hettie, ons het reeds daardie kaartjies gekoop en ek sien veral uit na die gesprekke oor en in Kaaps.

    Maar nou dat jy dit aangeroer het: ek verbaas my ook oor die min belangstelling vir sommige besprekings en opvoerings. Miskien kan die feesbestuur self ’n bietjie meer kreatief te werk gaan om belangstellendes te lok en te behou.

    1. Hier in Pretoria was daar vanjaar nie eens programme beskikbaar nie. As mens van hier af die fees wil bywoon moet jy boonop ook nog jou vliegtuigkaartjie en verblyf inreken. Dan praat jy van R6000+

    2. En wat van ’n bietjie erkenning vir getroue feesgangers met iets soos ’n lojaliteitsprogram? Ons gaan reeds die afgelope 10 jaar of meer, en ek is seker dat hulle maklik sulke kaartjiekopers kan identifiseer want my naam staan op elke kaartjie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top