
Foto: Leon van Nierop
- Leon van Nierop skryf elders op die sosiale media die volgende, en dit word met sy toestemming op LitNet gepubliseer.
Natuurlik wemel en gloei die 14de Silwerskermfees met absolute oorspronklike en verrassende films, dokkies wat jou kop oopmaak, en kortfilms wat jou sintuie en emosies aanval. Maar gesoute feesgangers, wat al soos ek sedert die heel eerste fees op Prins Albert in die gehoor was, kry ’n bloedhondneus vir die klein juwele, soos ’n werkswinkel, aangebied deur een van Suid-Afrika se top kinematograwe in samewerking met SONY – Jorrie van der Walt. Jy snuffel hulle uit.
Jorrie se kinematografie, veral die bitter moeilike aksietonele (knap geregisseer deur Jozua Malherbe), is iets om op trots te wees. ‘n Man wat die gang van ongeforseerde aksie, wat geweldige voorbereiding gekos het, deur en deur ken. Hy het ook met INVISIBLE, ’n nuwe kykNET-reeks wat later op die kanaal begin en gebaseer is op ’n Deon Meyer-verhaal, bewys dat hy saam met aksie en binne-in die aksie in beweeg en die kyker altyd in die prentjie hou.
Sy gesprek met die kleurversorger van die reeks was net so insiggewend om te sien dat laasgenoemde ’n soort tegniese masjien-skilder is was ’n toneel van koud na warm kan verander met ’n paar drukke van die vingers.
En van kinematograwe gepraat. Aasvoëls, deur Dian Weys wat buite kompetisie vertoon is, spog met dieselfde briljante verbeelding, die slag deur kinematograaf Pierre de Villiers, waar die kamera feitlik deurgaans met die hand vasgehou is om die onstabiliteit en aggressie van die gebeure raak vas te vang en die grinterigheid van die situasie beklemtoon. Dit gaan nog baie pryse wen. En Weys het ook ’n insiggewende werkswinkel oor kortfilms aangebied.
Nog ’n hoogtepunt wat ’n mens kon uitsnuffel, is RSG se Pieter Steyn se fenomenale reeks Die Bom wat in September op kykNET begin. Vergeet van Oppenheimer. Kyk bietjie wat destyds in Suid-Afrika gebeur het met kernkrag. Dis gedissiplineerd, hou jou aandag vir elke sekonde, en het kenners moet wie onderhoude gevoer word (met kort, ekonomiese vrae) en ander deelnemers, ook op tegniese gebied (veral musiek) wat amper militêr-gedissiplineerd, sonder om manipulerend of opruiend te wees, gaan jou laat regop sit. 'n Top dokumenter.
En dan natuurlik die twee briljante jong rolprentmakers uit die Noord-Kaap, Jason Jacobs en Devon Delmar se Variasies op ’n tema, waar die gehoor bestaan het uit die inwoners van Kharkams waar die ware verhaal hom voltrek en hulleself dalk die eerste keer op die silwerdoek sien.
Dis ’n hartsfilm wat jou saam met die donkies in die fliek laat sterre tel. En dit was ’n voorreg om ouma Hettie in die hoofrol op die verhoog te hoor gesels, en sy het ’n heerlike mededeelsame mond aan haar, hoor! En kan sy vertel! Dit maak die fees net nog meer genoeglik.
Geluk aan die hele kykNET-span onder Waldimar Pelser wat elke jaar sorg vir vernuwing en groter wenners. Wat ’n voorreg om hier te wees. Die SSF hoef nie ’n tree vir Cannes terug te staan nie. En hy trek nou maar eers in sy tweede dag.

