Elders gesien: 'n Griefskrif deur Nini Bennett

  • 7

Die digter en skrywer, Nini Bennett, deel haar griewe op Facebook. Die foto hieronder is slegs ter illustrasie.

Foto ter illustrasie. Fotobron: Pixabay.com

Ek moes dit net van my hart afkry. Ek het 'n lys van die 15 stereotipes, wat my grensloos irriteer, saamgestel.

Die wat pas tot bekering gekom het: Party wedergeborenes is erg annoying. Onder leiding van die Heilige Vrees dreig en verdoem hulle almal met sône en die hel en volg betraand die gillende televangeliste op die kassie. Kyk, as jy graduate in Die Geloof, dan spreek jy in vreemde tale of dryf jy dy-wels uit. Hierdie mense voel hulle aangetrokke tot antropologiese gode. Angus Buchan is 'n profeet, "die vader van die Suid-Afrikaanse nasie" (soos hy homself al genoem het), en dan is daar sy Afrikaanse sidekick, Rooies Strauss, wat op Kruiskyk-TV preek. Gretha Wiid dek Buchan se vroulike vleuel. Mighty Men en Worthy Women – o ala! Let op die alliterasie. Hierdie lekepredikers oorheers die Christen-scene en verenig die getalle op hulle. Want die gospel in 'n hoogs bemarkbare kommoditeit – jy moet net inspeel op primitiewe male-bonding en toksiese manlikheid en daar staan 'n miljoen goedgelowiges op hul knieë vir jou en wag. Jy word selfs na die Parlement genooi as spreker! Rooies, op sy beurt, is 'n krokodilboer en rooihaar-heethoof van die Noordkaap wat die demone tydens sy eredienste sommer kaalhand vang, nes sy krokodille. Hy preek graag in 'n short, two tone-hemp en crocs en is lief om kak te soek met die Jehovas of die townships in te vaar waar hy die Rastas verpes en fluks begin daggaplante uittrek. Die vermetelheid. Rooies dra ook 'n stetson. Man, wat is dit met daai groot, swart hoed? Deel van die truuk, dalk, waar gesag en patriargie verenig in 'n soort sheriff-image? Rooies het 'n baie simplistiese lewensbeskouing; alles is óf van God, óf van Satan. Die teorie van die Self en Other vir beginners. Hoe groter die God of Jesus, hoe groter moet die Bose proporsioneel toeneem om momentum en definisie aan die Self te gee. Wanneer hy 'n dy-wel uitdruf, sidder hy en kyk die besetene vas in die oë soos 'n All Black wat die Haka doen. Hiér is geestelike oorlogvoering in aksie. Sy bediening heet School of Fire, wat herinner aan psigotiese moraliteitsteater – en sy gunsteling onderwerp is pornografie (“daardie kaalvroutydskrifte wat so ge-vacuumpack (sic) vir jou loer uit die winkelrakke” (sic)). Rooies het die mentaliteit van 'n juvenile delinquent, maar wie sal nou kla? Dis after all gekondoneer deur die gospel. En gooi dan nog seks en testosteroon in die kombo, en die kredietkaarte swipe hulself. Gretha weet. Godsdiens is, net soos die patriargie, 'n platform waar jy die hoogste sport kan bereik sonder enige meriete.

Die wat pas tot bekering gekom het, wég van hulle geloof af: Aan die teenoorgestelde kant van die spektrum kry jy hierdie mense – wreed ontnugter deur die kerk, God, geloof, hulle Calvinistiese opvoeding, ens. Hulle kan nie wag om hulle nuut ontdekte agnostisisme, ateïsme of renons in die kerk met ander te deel nie. Hulle herinner nogal aan 8-jarige kinders wat vir die eerste maal ontdek kersvader is eintlik hul pa, en 'n infantiele kick daaruit put om ander kinders, wat steeds in die Noordpool-omie glo, te skok. That's me in the corner / that's me in the spotlight / losing my religion…” Hulle is nes die wedergeborenes, dieselfde anders.

Die wat pas ophou rook het: Hulle kan nie uitgepraat raak oor hoe "vars" hulle voel nie, en só gesond, soveel meer energie en hoeveel geld spaar hulle nie nou nie, as kompensasie maak hulle somme hoeveel rande hulle die lug ingeblaas het, hulle het dit "net so" gelos (hulle lieg), maar hulle loer leepoog en slu na ander rokers se brandende kooltjies, asem vir asem en sien jy die versmagting in hulle oë as jy rook en weet hulle haat jou nou heimlik. Van hierdie mense verkla ook anoniem restaurante wat kwansuis nie by die rookregulasies hou nie. Daar skop so roofdieragtige glans in iemand se oë in wat pas ophou rook het. Hulle maak my bang.

Die wat pas ophou drink het: Hierdie mense is net so pyn. Hulle identifiseer nou vinnig drankprobleme by anders drinkers, tel rondte vir rondte die drienks en ervaar skielik tussen hulle drinkebroers ‘n vreemde gevoel van uitgeworpenheid, soos 'n virgin in 'n bordeel. Dan kry jy ook diesulkes was óphou ophou rook en drink het; die lewensiklus voltooid. Nóú stook en en syp hulle vir ‘n vale hel om op te maak vir die verlore tyd en geleenthede.

Die ideologies versteurdes: Hierdie is verwarde siele wat glo die hele lewe is een groot conspiracy theory. Hulle voel hulle aangetrokke tot die Illuminati, die Nuwe Wêreldorde, die Derde Oog loer vir jou vanuit 'n dollarnoot....hulle glo die maanlanding was 'n hoax, die kwien het Lady Di vermoor, die Pous is die antichris, daar is ISIS-spioene in die regering, die Springbokke het die wêreldbeker gewen om 'n weerligafleier te skep vir grondgryp (want dit was alles 'n slim georkestreerde set aan regeringskant, sien). Wel, as dit enigsins waar was, het ons geen rede tot kommer gehad met soveel breinkrag en intelligentsia in die ANC nie, en het die toekoms rooskleurig gewink. Ek kry mos toe seker so maand gelede 'n oproep van 'n Private number en toe ek antwoord, is daar 'n swaar gehyg van asem voor 'n donker stem sis: jou donnerse kommunissss, en naamloos die foon dooddruk. Die laaste twee s’e het deur ‘n stel plattelandse valstande geborrel. Nodeloos om te sê – dit het my dag gemaak. O ja, hierdie mense land gereeld in fights oor die Vrymesselaars of oor Siener van Rensburg se profesieë, want hulle verbeeldingswêreld vol komplotte is omtrent so ruig soos 'n John Le Carré-spioenasieriller. Hulle het Donald Trump aangewys as hul opperhoof, vas oortuig climate change is ook ‘n hoax. Hulle voel hulle aangetrokke tot ondergrondse organisasies en Geheime Ordes, die eindtye, hulle haat (of beny) die Broederbond of enige obskure male-bonding organisasie wat in die skaduwees operate. Of dit nou die Boksem-bende of die Mafia is, hoekom hou mans van geheime organisasies? Hulle is helbang vir die okkulte. Hierdie poepholle share al wat fake news is, tot ergenis van almal om hulle. Eendag het daar 'n oom (van seker 80) in die middel van Shoprite gestaan, geklee in 'n boksershort, langmouhemp en kerkskoene met sokkies. Hy het uit die bloute uitgeroep "Pankop de Klerk, wat het jy gedóén!!!" En uitgebars in trane. Was hy nie so pateties nie, het ek my dalk vererg.

Seksistiese humor: Dis so eg Suid-Afrikaans soos 'n Faf-onderbroek, Margaret van Wyk-grap of 'n My fok Marelize-meme. Dis die mans en vroue wat met 'n Men-are-from-Mars en Women-are-from-Venus-mentaliteit deur die lewe gaan. Hulle grappe het gewoonlik ‘n seksistiese ondertoon waarin die stereotipering van geslagte as Absolute Waarheid opgedis word. Ná die derde dop stoot 'n man sy kakekbeen uit as hy 'n vuil grap vertel en lag so slapbek, hoog in sy skik dat hy 'n eva so lekker bygekom het met sy ou stekie. Van die vrouens sal jags saamgiggel, sletsappie in die hand.

Die sneeuvlokke: Hierdie is die highly strung moeders van koliekbabas. Sneeuvlokke is gewoonlik hoër middelklas, vroulik, wit, broos en offended deur alles. Hulle stort in duie as hulle huishulp met verlof gaan, moet berading kry as iemand van hulle op Facebook verskil en voel hul aangetrokke tot joga, kristalle en eksotiese tee. Hulle woon onder meer in Tuscan-huise iewers in 'n estate in Pretoria-Oos en is bitter bang vir misdaad. Hulle eet graag Eggs Benedict in luukse shopping malls, en die Ooste se malls skuif nou ook hoeka al hoe verder oos. Met die eindelose uitbreiding van golf-estates begin Pretoria se oostelike uithoeke al vir Bronkhorstspruit te bekruip… Hierdie dames ly heel waarskynlik aan Fibromyalgia (vroeër was dit Yuppiegriep of ME/CFS of ander duistere immuunsiektes); hulle hang uit by shrinks, of skryf gedigte waarin die naam van hulle psigiatriese pille in die titel voorkom. Hulle manipuleer hulle omgewing met huilerige stiltes en pop agteraf hande vol kalmeerpille terwyl hulle skelm hulle eie Tarot-cards lees. Wees gewaarsku: sneeuvlokke ly deur die bank aan 'n passive aggressive disorder. Die meer robuuste sneeuvlokke word keyboard warriors van formaat. Hulle eindig graag met hulle sinne met ellipse...vir die nodige gevóél. Sneeuvlokke bevind hulle gewoonlik in stede en dorpe waar daar ‘n (oorwegend) Afrikaanse universiteit is. Die jonger sneeuvlokke is die aandagafleibare wunderkinder van Generasie Z, en, soos die ouer geslag, is hulle offended deur alles. Hulle quote graag uit Fokofpolisiekar of word dronk in Stellenbosch. Greta Thunberg is 'n jong sneeuvlok. Tydens 'n tantrum stoot sy haar onderlip 21 mm uit soos 'n 2-jarige voor sy asemsnakkend hyg: how DARE you. Sneeuvlokke verteenwoordig 'n Neo-Victoriaanse broosheid, dink almal hulle is geniaal en koester heimlik fantasieë om soos Van Gogh of Ingrid hulle ore af te sny of die see in te donner.

Die New Agers: Wanneer jy graduate as New Ager, dan 'manifest' jy. Wanneer jy graduate as Christen, dan spreek jy in tale of dryf jy dy-wels uit. Baie New Agers weet waarskynlik nie hulle is New Age nie – hulle is lief vir woorde soos 'Universe, Light, Source' en 'energy', of 'ek stuur Lig'. New Agers verhef bygeloof tot 'n mistieke dimensie, en eintlik is hulle 'n spul goeie siele, minder annoying as Christene en heel waarskynlik beter mense ook, maar met dieselfde charismatiese optimisme. Waansin op wiele is wanneer hierdie mense se diskoerse babels begin saamgesels: "I'm going to manifest – thank you Universe Lord Jesus – amen! Yes!"

Die wat altyd op dieet is: Hulle sit met 'n leë bord voor hulle terwyl ander eet en volg elke skeppie met oë smalgetrek van begeerte. In die meantime werk hulle breine soos Excel-sheets op en af terwyl hulle somme maak oor hoeveel kalorieë jy nou eintlik inneem, of hulle herinner jou ook sommer heel kras daaraan. Hulle ken die energieverbruik van kosse en oefentoeps uit hulle koppe uit – dis onverdunde hel om hierdie honger beheervrate om jou te hê.

Kulinêre snobisme: Dit is die kos-connoisseurs wat die cliché "jy is wat jy eet" letterlik opneem. Asof mense beheer het oor armoede of hongersnood. Hulle enigste claim to fame is die spogrestaurante waar hulle uithang en die duur, eksotiese kosse en wyne wat hulle inneem. Kos is die enigste vorm van estetika waar die artefak opgevreet en weer uitgeskei word. Met meer as 10% van die wêreldbevolking wat hongerly, is hierdie regtig obseen.

Daar is niks so so slim soos 'n kind wat pas matriek geskryf het, 'n student wat pas graad gevang het, 'n man wat pas 30, en 'n vrou wat pas 40 geword het nie. (Addendum: En daar is niks so slim soos ‘n eerstejaar-sielkundestudent nie).

Gesondheidsfanatici: Hierdie mense koop free range- en organiese kosse, of produkte wat die volgende aandui: gluten free, lactose free, sucrose free, caffeine free, fat free...hulle pos graag foto's op Instagram van borde kos met 'n rits hutstekens langer as 'n spoorlyn: # feeling great, gevolg deur glutenfreevegan, free free free no MSG, no aspartame, no tartrazine – die kos uiteindelik gestrip van nutriënte, supergesond, ten duurste. Hulle preek vir ander oor die koolstofvoetspoor wat hulle eetgewoontes agterlaat.

Facebook-verslaafdes: Ag, eintlik pla hierdie mense nie te veel nie. Hulle is lonely of het hulle redes hoekom hulle heeldag in die swartspieël staar. Maar sommiges is pleinweg ongeskik en vee hulle gatte af aan 'n (regte) geselskap, sit slapnek in die selfabsorberende geheimhouding van 'n foon terwyl die indeksvinger wielie-walie oor die skerm en 'n lig in die oë opvlam met elke pieng! Maniere! Ek weet van 'n kind wat traumabehandeling moes kry vir die dood van haar aanlynpersona nadat haar Instragram-profiel ge-crash het. Hectic.

Die petisie-befoktes: Hierdie mense stuur elke dag vir jou mails en kennisgewings om al wat petisie is, te teken. Hulle bedoelings is opreg, maar hulle is net so knaend soos ‘n spul Johava-getuies met ‘n Wagtoring.

Die hopelose optimiste: Hulle is die heilsame hiperpositiewe siele wat absoluut geen skaduwee laat nie – ook nie 'n Jungiaanse een nie. Hierdie mense dartel deur die lewe soos wit vlinders en hulle tone krul by die aanhoor van Desiderata. Hulle is die engele wat die populêre kultuur se Nirvana bereik het en verkondig graag "swaarkry bou karakter". Hulle glimlag is op default-setting gestel (pure lewensvreug) en herinner aan Amore van der Westhuizen toe sy begin panne smous het op Verimark. Daar is min dinge wat hierdie klomp as 'human' of 'humane' definieer – sonder 'n skadukant kan jy nie empatie hê nie. Hulle is toksies van die lewensmoed en herinner aan Breyten se karikature wat liggaamsoefeninge doen in die skemer. Jy kan altyd 'n prekie, krom vinger of morele pedanterie verwag, want hulle dink dat hulle die morele hoëgrond beklee en daarom op 'n pedestal bó jou staan. In die meantime is hulle persoonlike etiek bedenklik. Om die een of ander rede is die vroulike hopelose optimiste baie lief om rose op Facebook te post.

  • 7

Kommentaar

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Netjies, op 'n enkele uitsondering na. Die een van 'politieke korrektheid........' 'n akute "siekte" van ons tyd. "Die een oor "hopelose optimiste" hierbo kom weliswaar naby hieraan.

    Gister toevallig 'n onderhoud met Annelie Botes oor haar nuwe boek "Kammaland" gelees waar sy hierna verwys en die volgende sê : "As 'n mens alewig alles moet wegsteek wat in jou gedagtes ronddwarrel, of die waardes waarvan jý oortuig is se mond toedruk, leef jy 'n lieg."

  • Baie dankie vir n lekker agter-oorsit-en-lees oor die middagetensuur. Ek moet bieg: ek was ook eens van daai wat nie kon wag om my nuutgevonde renons in geloof en kerk in almal se keel af te druk nie. Ek het darem tussenin bietjie kalmer daaroor geraak, en hou dit maar nou deesdae vir myself. Maar, ek dink jy het vergeet van diegene wat pas vegan geraak het. Goeiste! Daar is nie n groter "killjoy" as 'n vegan wanneer jy die kaasbord met die room van kase voorsit nie.

  • “Pas-bekeerdes en pas-geswaaides” soos P.G. Du Plessis na hulle verwys het.
    Vind dit altyd fassinerend as mense verwys na “Calvinistiese opvoeding”. Ek verstaan wat jy insinueer as jy die term gebruik so moet seblief nie vir my kwaad word nie. Ek probeer nie puntenerig wees nie.
    Soms kry ek die idee enigiemand wat vir teologiese, ideologiese of plein simpelgeid homself bevry van die morele toerekenbaarheid van geloof, die woord “Calvinisme” soos ’n vloekwoord begin rondgooi sonder dat hy werklik weet wat dit beteken.
    As ek vir jou sê ek het ’n Armenienistiese opvoeding gehad, sal jy verstaan wat ek sê? Of wat van ’n Wesleynistiese (of is dit nou Wesleyistiese) opvoeding?
    Die arme oom Jan Calvyn. Kry ook die skuld vir als en hy’t net goed bedoel.
    Hierdie was ’n uitmuntende (“awesome” vir die wat die woord nie ken nie) skryfstuk. Ek stem saam met Hennie. Vegan, vegan, vegan. My broertjie-dood. Mense wat nie vleis eet nie omdat die koeie op die plase so sleg behandel word maar in dieselfde asem aborsie voorstaan, i.e. moord op ongebore babas!
    Ek het al in my eie skryfwerk verwys na die Pretoria-Oos of “Die Ooste” soos hulle dit hier noem. Die mammas met R1500 haarkapsels, ’n Fortuner, ’n bedorwe werpsel telge op die agtersitplek op pad na die “regte” skool voordat kos (net by Woolies gekoop) gevreet word.
    Booi kan ek aangaan hieroor.
    Lekker geskryf. Ek’t lekker gelees. Ek wag vir die volgende een.

  • Dink nou net hoe saai die lewe so gewees het as almal eeners was dan het Nini amper niks gehad om oor te skryf en skinner nie,behalwe dat dat almal vervelend eeners was.

  • Avatar
    Waldemar Gouws

    Hoe verder ek van nr. 1 af gelees het, hoe intenser het ek verwag om die vyf wyse maagde uitgewys te sien. Maar nee.

    (Soos Henri Beyle het me Bennett nie baie vriende nodig nie.)

  • O aarde, wie bly oor? Ek vermoed ek is in ten minste 7 van daardie stereotipes genoem …
    Wat noem mens die stereotipe wat hul nie steur aan ander se doen en late nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top