Elders gesien: Mymeringe van ’n pendelaar (vervolg)

  • 0

Foto: Pixabay

Wilna Adriaanse skryf elders op Facebook:
 
Alleentyd agter die stuurwiel maak gedagtes los wat op wye paaie loop. Van my rondlopergedagtes vandag was ’n boodskap aan myself.
 
Wanneer jy weer by die stembus staan moet jy nie stem vir daardie een wat beloftes maak van ’n geil oes nie. Ook nie van vee wat vet staan in die krale nie. Nie vir die een wat net weet hoe om baba’s met rooi bolwange te soen of lief is vir rooi tapyte en linte knip nie.
 
Kies een wat weet van moue oprol, van planne maak. Wat die akker self kan skoffel, en die spreekwoordelike wa man alleen deur die drif sal trek as dit moet.
 
Want dit is die een wat bekwame amptenare sal aanstel, wat weer op hulle beurt weldeurdagte besluite sal neem.
Om deesdae êrens heen te gaan is ’n uitdaging. Om oor ’n grens te gaan nog te meer, en vereis ’n lywige portmento vol dokumente.
 
Vandag daag ek by die grenspos op met elke vorm netjies ingevul. Chaos heers. Vragmotors tou vir kilometers lank. Motorvoertuie kan nie eers by grenspos uitkom nie. Na lang wag lig twee gawe jongmanne my in die grens is vir ’n paar ure gesluit. Geen waarskuwing, niemand wat die woord versprei of ’n kennisgewing opsit nie.
 
Ry na grenspos twee. Stil daar, en kan net instap met my armvol dokumente. Word aangesê dat ek niks daarvan hoef uit te haal nie, die mense wat dit moet nagaan is reeds huis toe.
 
Kies die politikus wat ’n amptenaar sal kies wat weet hoe lyk ’n kalf wat in die put is. Die hemel weet die hele kudde/stoet/kraal is op die oomblik in die put. Duisende, duisende ure word op die oomblik verkwis deur ondeurdagte besluite.
 
Daarmee sê ek eers amen, en gaan weer vol hoop en moed die nuwe dag tegemoet. 🚗
 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top