Elders gesien: "my man was in die army"

  • 6

Illustraise verskaf deur Lidi de Waal

Lidi de Waal skryf op Facebook:

my eks man was in die army
en op die grens
vir 20 jaar was ek met hom getroud
ek het twee seuns gehad van wie
ek die ma was en hy die pa
hy't ook ’n vorige vrou gehad
met twee kinders van wie hy die pa was
en sy die ma
dalk kan sy julle meer vertel
want ek het ’n pakkie briewe gekry
in ’n kas
nadat ek met die man getrou het
wat hulle in jeugdige liefde vir mekaar geskryf het
toe hy op die grens was
en my goeieliewefoktog ek het dit
in my jeugdige stupid niksweetgeit uitgeverbrand een oggend toe hy weg was
(hoe wens ek met my hele hart
wat soveel jare later meer verstaan...
ek kan dit ontdoen)
hy't integriteit galore gehad wat in hom ingedril was
luitenant sersant majoor kaptein
(of het ek die volgorde nou verkeerd)
ek weet hulle het al op die grens gewag om te kan huistoe gaan
toe hulle sommer net so woeps hoor
dat hulle nog ’n jaar langer moet bly
ek kan nie die byname onthou van die armyseuns nie
maar hy't raarliks so
soms vertel van hulle
maar ek onthou van landmyne
en veel later die trojaanse perd
en ysterplaat
ek onthou van die majoorskursus
in kimberley
en toe hy terugkom moes ek
my rod stewart tapes uitbrand
(ek was so besotted oor daai tapes)
oor louter onsin wat nog vir oulaas
in hulle koppe ingeprent was
maar nooit maar fokken nooit
het enige iemand van uit die blou van onse hemel uit die diepte van ons see
ooit gekom en gesê
ons het ’n blote kind gevat
en hom geleer van vasbyt oor berge en oor dale
en hom sommer net so woeps ’n luitenant gemaak
hom ’n geweer in die hand gestop
en in ’n kasper of ’n ratel ingeprop
en hom in ’n bos duisend myl van hier
laat oorlog maak
nie kammalielie oorlog nie
nee die regte modder en bloed en kak en derms en bene afgeskiet en vrekskiet-oorlog
en toe als eindelik verby is
toe kom hulle terug na ons ewige gebergtes
waar die kranse antwoord gee
en toe antwoord niemand op hulle roepstem nie...
want die vrouens met wie hulle getrou het
hulle het nie geweet hoe nie
en hoe om te troos nie
en wat om te antwoord as die nagmerries wreed gallop nie
en hulle het nie geweet wat meer om nog op te offer nie
want oorlog stroop als van almal
vir toe en vir jare en jare later nog
kring en kring dit steeds uit

  • 6

Kommentaar

  • Pateties - so min wat jy hier skryf was hoe dit was. En as jy vir simpatie soek - dit is tussen shit en syfilis in die woordeboek ... aldus my Sersant.

  • Welgedaan Lidi - jy verwoord die situasie so raak en die kringloop wat dit veroorsaak het! Oorlog is altyd afbrekend - baie van ons het familielede heeltemal "anders" sien terugkom.

  • Chris Swanepoel

    Jan, tipies van jou sersant kon hy nie sifilis korrek spel nie. Ek was een van daai troepies wat op 17 ingeklaar het en 6 maande later 'n pelotonbevelvoerder was met 30 troepe onder my bevel, van wie sommige so oud soos 28 was met 'n vrou en kinders en hulle huweliksprobleme met my bespreek het - hoe absurd. Ek was ook op die grens - en ja, die swart hond en die kortstondige salf van alkohol ken ek ook. Mooi herinneringe is daar ook, soos die PF-sersant wat vir my troepe van wie sommige 'n A vir wiskunde in matriek gekry het, probeer wysmaak het die omtrek van 'n groot sirkel is 360 grade en 'n kleintjies 180 grade. Lidi, dank Vader, my geliefdes bewaar na meer as 40 jaar steeds my briewe, ten spyte van alles.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top