Clinton V du Plessis skryf op Facebook:
Moerig, die uwe
In die stemseisoen
in die tyd van blatant witvoetjie soek
die kruis en die vloek
die loslaat van die lekhonde
die gatkruipers en die bekruipers
die nuwe joiners
die bedenklike gebroedsels
die opdrifsels drek, tweegatjakkalse
geleentheidsopfokkers
slymswendelaars
aanjaers van formaat
sonder inbors, sonder greintjie gewete
hulle tel vreemde kinders op
soen dié op die wang
dans op maat van
Jerusalema of Koekie-Loekie of masjiengewere
gedoop in gesmelte verdoeselde Krugerrande
hulle groet onbekendes soos geliefdes
edel poleer hulle die leuen blingblink
geliefde broeders en susters, kamerade, landgenote
kom maak die kruis
verrig die patriotiese plig
vir agtersak en verduisterde buit in kattebak
vir flambojante ingevoerde Italiaanse snyerspak
en diskrete houvrou of katelknaap.
Haal die emosie, die woede uit die skrywe uit
beveel die holistiese hekwagters, die fyn woordgevoeliges,
die sektariese skrifgeleerdes,
uit die hermetiese ivoortorings,aan
maar te hel, te hel met dié katvoettrap.
Mzansi brand, soos die berg,
Mzansi lê kaal, opgekrul soos ʼn bergie,
my woorde dus, bedoel om te wond/verwond
wakker te ruk, wakker te skud
soos koeëls uit ʼn AK-47
soos landmyne op stadspleine
soos ʼn selfdoodbom in ʼn volgepakte vergadersaal
soos molotov cocktails deur voorstedelike vensters
kyk:
die politici stoot, soos ou hoere, bloot vir die geld.
Kommentaar
Veerstaal! Dankie vir die vers, Maestro.