...
’n Studie van Harvard Universiteit het in 2009 bevind dat Mbeki se weerhouding van teenretrovirale middels in die laat 90’s en vroeë 2000’s direk gelei het tot die dood van meer as 330 000 mense, sowel as die voorkombare infektering van 35 000 ongebore kinders.
...
PP Fourie skryf op Facebook:
Ek probeer om nooit op sosiale media politiek te praat nie – ek doen genoeg daarvan vir my werk; buitendien, my eie spesialiteitsveld lê eerder by Internasionale Politiek. Maar soms kan ek myself net nie help nie. Soos nou weer met Thabo Mbeki. Die oud president het verlede week in die openbaar Brian Molefe se rekord as hoof van Eskom verdedig – blykbaar het beurtkrag onder Molefe (na wie Mbeki as sy “vriend” verwys) verbeter. Mbeki het egter nie die aanklagte van korrupsie en die Zondo-kommissie se verwysings na Molefe genoem nie. Hy het ook nie eienaarskap geneem van ’n elektrisiteitskrisis waaroor hy as staatshoof gewaarsku is en wat hy toe geïgnoreer het nie. Dit is ook nie die eerste keer dat Mbeki die geskiedenis selektief onthou nie. So het hy ook al probeer om die geskiedenis van sy eie katastrofiese bestuur van die Suid-Afrikaanse vigspandemie te herskryf. ’n Studie van Harvard Universiteit het in 2009 bevind dat Mbeki se weerhouding van teenretrovirale middels in die laat 90’s en vroeë 2000’s direk gelei het tot die dood van meer as 330 000 mense, sowel as die voorkombare infektering van 35 000 ongebore kinders. Mbeki is na my mening die mees destruktiewe president wat SA tot op hede gehad het in die ná-1994 era. Dis onder Mbeki dat kaderontplooiing behoorlik ingeskop het, sistemiese korrupsie geïgnoreer is, die elektrisiteitskrisis geïgnoreer is, die Zimbabwe-krisis ontken is, en MIV/vigs geïgnoreer is – alles vir ideologiese redes, en uit ’n patologiese oortuiging dat hy ’n monopolie op wysheid het. Ek kan nie verstaan dat daar steeds mense is wat nostalgies is oor hom nie – die meeste van die chaos in SA vandag is te danke aan dit wat hy toegelaat en moontlik gemaak het. Ja, die diewery het onder sy opvolger absurde vlakke bereik, maar ook dit wat onder Zuma gebeur het, is die indirekte resultaat van Mbeki se ego en ideologie; hy het die landery voorberei waarop die misoes nou staan.
Kommentaar
Die Zondo-kommissie is die kleinkind van die Waarheids-en-Versoenningskommissie. 'n Tandelose, simboliese kommissie, bedoel om te paai en te sus en verantwoordbaarheid te ontduik. So is elke ander nig-en-neef-kommissie ook. Politici se beste tool om niks te doen nie. Die verslag is net dit, 'n verslag. Dis nie 'n hofuitspraak nie.
Ten opsigte van Mbeki. Hy is net 'n mens soos elke ander politikus. Mense is bevooroordeeld. Mense maak uitsprake oor dinge waarvan hulle min weet. Mense misgis hulleself. Mense maak foute. Mense oorskat hulle kennis. Ons doen almal hierdie dinge. Was Mandela so wonderlik? Hang af wie jy vra. Was FW de Klerk so wonderlik? Hang af wie jy vra. Ek dink nie veel van FW de Klerk nie. Hy en al die NP politici het nie pa gestaan vir apartheid nie. Dis maar my opinie. My opinie tel niks in die groter prentjie nie.
Mbeki het ook vir Zuma gefaaier. Mbeki het hom ook uitgespreek teen 'skiet die boer'. Ek is geen aanhanger van Thabo Mbeki of van enige ander politikus nie. Paul Kruger het ook sy foute gehad. Mense is maar mense. Dis jammer daar is nie gode nie. 'n Perfekte foutlose opperwese sou 'n goeie president kon wees. Dalk.
Ek dink mense is meer nostalgies oor die Mbeki-era as oor Mbeki self. Dit, ten spyte van die tragedie van MIV/VIGS.
Goeie stuk, veral omdat Mbeki as die "groot intellektueel" voorgedoen word, asook die man wat sogenaamd grootgemaak is om die post-apartheidstaat na nuwe hoogtes te lei. Sy geloof in etlike ooglopend-onbvoegde mense soos Manto en Selebi was egter verbysterend. Mandela het beweer dat Mbeki reeds die land geregeer het toe Mandela president (einltlik net diplomaat en fondsinsamelaar) was - met Mandela se goedkeuring. Dus was Mandela ook eintlik aandadig aan Mbeki se gemors, soos Mbeki aan Zuma s'n, hoewel op 'n ander manier.