Elders gesien: Kepsie af vir die tolke in hierdie saak

  • 2

Marné Pienaar skryf op Facebook:

Ek kyk verbete na die Joshlin Smith-saak in die naam van navorsing en ek moet gewoon ’n lansie vir die tolke breek. Ek is ’n geakkrediteerde simultane tolk, het verskeie kursusse oor tolking aangebied, M’s en D’s daaroor begelei en geëksamineer, ken die teorie en, skiesie dit klink regtig grootpraterig, maar het ook hoofstukke in handboeke daaroor geskryf en lang, kritiese relase gepubliseer oor die tolking tydens Mandela se begrafnis en die Oscar Pistorius-saak.

Die regter in die Joshlin Smith-saak het onlangs die isiXhoza-tolk die middag af gegee om na haar psigiese welstand om te sien. Ek verstaan. Die laaste keer toe ek in die hooggeregshof getolk het, het ek fisies naar geword. Akuut. As tolk is jou status laer as die van die skoonmaker en al die hooggeleerdes om jou is reg en gereed om jou te korrigeer.

Voorbeeld:

  • Die klaagster sê: “Die koeël was deur die kerk”.
  • Ek tolk: “It was too late”.
  • Die regter dring aan op ’n letterlike vertaling. Ek verduidelik dat “The bullet was through the church” nie sin maak nie. “Gie, gie” lag die regter wat baie goed Afrikaans verstaan en sê “Die koeël was deur die kerk en die dominee het vertrek”. Hy geniet sy eie grappie terdeë.
  • Op welke punt ons ander hooggeleerde vriend, die advokaat, in hogere Engels aankondig “My Lord, I believe the idiomatic expression in English would either be the horse has bolted, or the ship has sailed”.

Dus: dis maklik om te dink jy kan dit beter doen. Probeer dit in die druk van die oomblik. Kepsie af vir die tolke in hierdie saak en vir die simpatieke regter wat iets van die taalsirkus blyk te verstaan.

  • 2

Kommentaar

  • Theo du Plessis

    'n Oulike anekdote wat net weer die boeiendheid belig van tolking oor die algemeen en in Suid-Afrika in die besonder, waar vanweë 'n vorige hoofregter se ongrondwetlike maar onbetwiste dekreet alles nou in Engels gedoen word terwyl heelwat van die deelnemers soms, soos in hierdie geval, wel Afrikaans verstaan en selfs beheers.

  • Joan Hambidge

    'n Regter het op 'n keer vir my vertel hoe sy 'n advokaat moes aanpraat.
    “As u daardie woord gebruik, maak u van u kliënt 'n leuenaar. Hy begryp nie wat die woord alles impliseer nie.”
    Dieselfde geld besoeke aan hospitale.
    Om siek te raak in 'n vreemde land kan in 'n nagmerrie ontaard.
    Om siek te raak in Helsinki verduidelik die woord hel.
    En inderdaad skryf jy: “As tolk is jou status laer as die van die skoonmaker en al die hooggeleerdes om jou is reg en gereed om jou te korrigeer.”
    Mense wat inderdaad nie verstaan wat dit behels om onder druk te vertaal nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top