Elders gesien: John Shelby Spong is oorlede

  • 1

Hansie Wolmarans skryf op die Facebookblad van die Nuwe Hervorming Netwerk (NHN):

Dit is met groot hartseer dat ek verneem het dat Biskop John Shelby Spong oorlede is op die ouderdom van 90 aan ’n beroerte. Hy was ’n leidende en geliefde stem in die progressief-liberale Christendom, maar ook gevrees en gehaat in fundamentalistiese groeperinge. Die NHN het hom in 2007 oorgenooi Suid-Afrika toe, en hy is met groot entoesiasme hier ontvang. Hy was tot en met sy aftrede in 2000 biskop van die Anglikaanse Kerk in Newark, NJ.

Jack, soos sy vriende hom genoem het, was ’n voorstander van menseregte, veral van vroue, gays en minderhede. Hy het die eerste openlike gay predikant in die Anglikaanse kerk in die VSA bevestig. Twee eredoktorsgrade is aan hom toegeken. In sy talle publikasies het hy redeneer dat die Christelike geloof radikaal herdink moet word, weg van teïsme en dogmatiese leerstellings. Spong verwerp letterlike interpretasies van dogmas soos die maagdelike geboorte, Jesus se opstanding, en die hiernamaals.

Toe ek in 2016 van kettery deur die Presbiteriaanse kerk aangekla is, het Jack ’n gloeiende aanbevelingsbrief oor my geskryf. Dit was onverdiend, maar een van die redes waarom die klagtes in 2019 onvoorwaardelik teruggetrek is.

Fundamentalistiese Christene het hom gevrees en gehaat. Die aartsbiskop van Sydney in Australië het hom verbied om daar te preek. Hy is in vele kringe wêreldwyd as ketter afgemaak. Hy het lesings by leidende teologiese inrigtings gelewer, soos byvoorbeeld by die Harvard Divinity School en die Graduate Theological Union van Berkeley.

Hy was die leidende segsman vir ’n oop, en progressiewe Christendom wat erns maak met die insigte van die Bybelwetenskappe. Meer as ’n miljoen kopieë van sy boeke is verkoop.

Sy stem is stil; sy plek is leeg; sy nalatenskap leef voort. Ek is hartseer saam met sy vrou, Christine, sy vyf kinders en almal op wie se lewens hy ’n onuitwisbare indruk nagelaat het.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top