Elders gesien: Jackson Mthembu sal beslis ’n leemte in Suid-Afrika laat

  • 0

Hooffoto verskaf deur die Suid-Afrikaanse regering. Die foto regs toon Mthembu se twitter-foto. Hy het hard baklei teen die virus wat uiteindelik sy lewe geneem het.

 

Barend la Grange skryf op Facebook:

Ek het nie vir Jackson Mthembu geken nie. Ek het wel by een geleentheid, sowat agt jaar gelede, saam met hom en Kobus Van Rooyen, destyds die voorsitter van die Uitsaaiklagtekommissie, aan Freek Robinson se program “Regstreeks met Robinson” op kykNET deelgeneem; ’n gesprek wat gehandel het oor vryheid van spraak en vryheid van uitdrukking.

Na die program het ek en hy buite die ateljee lank gesels en het hy my ook uitgenooi vir ’n afspraak met die president. Hy sal dit reël. Ek het geen rede of behoefte gehad om met meneer Zuma gesprek te voer nie en het nie van die uitnodiging gebruik gemaak nie. Hy het egter wel sy selnommer aan my gegee en gesê ek is enige tyd welkom om hom te skakel.

Sowat ses maande later het daar wel ’n saak opgeduik waar ’n afspraak en bespreking met die president noodsaaklik was, wat iemand anders se lewe en toekoms geraak het en waar alleen die president, binne sy wetlike regte, by magte was om iets aan die saak te doen.

Ek onthou dit was ’n Saterdagoggend toe ek Jackson geskakel en die saak verduidelik en gemotiveer het ... Binne 10 minute het hy my teruggeskakel en gesê:  “You see the president on Monday at 10:00.”

Ek het net by twee verdere geleenthede telefonies met Jackson gepraat en my waarneming oor hom was baie positief.

Toe ek vandag die positiewe, en ek dink eerlike, huldeblyke van John Steenhuisen, leier van die DA en Pieter Mulder, voormalige leier van die VF+ lees, het ek weer besef dat ons kan politieke teenstanders wees, maar ons hoef nie vyande van mekaar te wees nie.

Jackson Mthembu sal beslis ’n leemte in Suid-Afrika laat.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top