Elders gesien: Hoekom duld ons dit?

  • 2

Wannie Carstens skryf op Facebook:

My motors se lisensie het tydens die inperkingstyd verval. Hier op Potch was die verkeersdepartement se lisensiekantoor selde oop, en daarom sit ek nou met ’n dilemma, want die lisensies moet ek kry as ek wil ry – wat ek graag in die komende dae wil doen. Die inperking het ’n mens darem te vasgehou.

Maar toe vind ek verlede week uit die lisensiekantoor is net drie ure per dag oop, van 08:00–11:00. Daar is duisende mense wie se voertuie se lisensies hernu moet word omdat die agterstand so opgebou het, maar die munisipaliteit oordeel dat dit nie ’n krisis is nie. 

Ek verstaan dit gewoon nie. Juis om die agterstand in te haal, moet die lisensiekantoor vir minstens ’n maand ses dae per week vir 12 ure per dag oop wees. Skofte kan gewerk word. Maar nee, diens aan die publiek is nie ’n gegewe nie. Die amptenare skyn te dink hulle doen die publiek ’n guns deur op te daag vir werk. Dit lyk my sommige amptenare het selfs lank ná die begin van die formele werkstyd aangedrentel gekom.

Ek sit al sedert 07:00 in die koue in die tou. Teen 09:05 is daar nog vyf mense voor my in die tou. Maar slegs een kassier is oop. In die vyf ander hokkies is ’n verdere twee beman, maar daar word nie gehelp om die agterstand in te haal nie.

Wat is dit met ons land dat ons dit duld? Dat toustaan in lang rye deel van ons doen en late geword het. Dat amptenare nie dink hulle word betaal deur die publiek nie. Dat amptenare dink hulle doen die publiek ’n guns as hulle opdaag vir werk. Dat amptenare dink as hulle opdaag vir werk hulle nie hoef te werk nie. Dink net aan die sukkel om paspoorte te hernu, of ID-kaarte aan te vra. Dit kan mos nie reg wees nie.

Foto: Canva.com

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Andries G H van der Walt

    Geen probleem hier gehad nie. Ook nie in die tou, wat nie so lank was nie gestaan. As pensioenaris het ek nie nodig gehad om in die tou te staan nie. Het vinnig gegaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top