
Willemien Brümmer skryf op Facebook:
Hierdie is ’n ode aan alle goeie Samaritane, en veral aan Joseph Davids wat my vanoggend op Nelson Mandela-snelweg gered het.
Ek, al van donkernag wakker weens ’n gesondheidskwelling, besluit om vroegoggend langs die Seepunt-promenade te gaan draf sonder selfoon of handsak. (Dis ’n gewoonte omdat ek as vrou daarvan hou om op my eie te gaan stap of draf en nie ’n "teiken" wil wees nie).
Op die Nelson Mandela-snelweg digby Zonnebloem kom ek agter daar's iets ysliks fout met my Polo en sy wil nie juis vorentoe of agtertoe nie. Ek kry dit reg om op ’n padskouer af te trek, en sien daar's ’n gapende gat in my band. ’n Hawelose man kom waarsku dis gevaarlik en vra vir geld, en ek probeer kyk of ek self kan uitfigure hoe om ’n band om te ruil (die reine waarheid is, ek kan nie).
Ek probeer die aandag trek van die verbygaande motors, maar al wat BMW en Porche Cayenne is snel verby. Na seker twintig minute stop ’n wit bakkie en Joseph Davids van Athlone klim uit. Hy werk vir I&J as welder en hy's op pad werk toe. Hy sê: "Ek kan nie volgende keer kerk toe gaan en my hande in die lug sit en nie vandag vir jou help nie."
Ek vind uit sy kinders gaan skool net om die draai van my huis in Mowbray. Hulle is slim en wil oorsee gaan studeer. Binne tien minute is die spaarwiel aan en Joseph ry ’n ent agter my aan om te kyk of ek veilig is.
Ons wuif vir mekaar, maar ek het sy nommer, in ’n rooi koki in ’n oefeningboek. As Suid-Afrikaners het ons soveel meer wat ons deel as wat ons verdeel.
Dankie Joseph uit my hart uit. Jy het my dag, en sommer my week, gemaak.


Kommentaar
Dankie Joseph, mag die Here jou ryklik seën.
My het gesê die Here is nie net in die Hemel nie maar kom in baie gesigte ... Dankie, Joseph.
Willemien is familie van ons en ons wil ons dank aan hierdie goeie man betuig. Dankie, Joseph.
So toets God ons baie kere of ons wel 'n helpende hand na mekaar sal uitreik, soos Hy wil hê ons moet doen. God praat soms met ons deur hawelose mense ook, en wat maak ons? Ons minag hulle, instede om 'n oor te hê en net te luister of te bid vir daardie persoon.
Dis so goed om goeie stories in 'n stukkende wêreld te vertel. Dankie daarvoor.
Die Here leef in mense wat tyd maak vir ander, soos Samaritane!