Elders gesien: Gebed vir die afbreek van Hangberg

  • 2

Foto: YouTube

Ivor Price skryf op Facebook:

My God, my God, waarom het U dan die armes van die Wes-Kaap verlaat? Hoe durf U toelaat dat ampsdraers, soos JP Smith, die armstes van die armes se huise in die reën afbreek, in die middel van ’n pandemie in die provinsie wat die swaarste deur COVID-19 getref is?

Hoor U dan nie die hartverskeurende snikke van ’n ma wat, omring deur gewapende polisiebeamptes, moet toekyk hoe die karige strukture van haar blyplek in gietende reën afgebreek word nie?

Sien U dan nie die kaalvoetkinders wat langs die owerheid se voete staan terwyl die oorblyfsels van hul waardigheid fisies afgebreek word nie? Here, het dit dan nou belangriker geword om binne die wet op te tree as om jouself oor die armes te ontferm?

Weet JP Smith en sy trawante dan nie dat onmenslikheid die ergste vorm van geweld is nie? En as hulle dan werklik nie meer teen Hangberg welkom is nie, Here, waar sou U verkies dat hulle nou hulle koppe neerlê, want dit kan sekerlik nie onder die ooptes van die hemele wees nie?

Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

Amen

  • 2

Kommentaar

  • Stof tot nadenke. Dis hartseer hoe ongevoelig met die armes omgegaan word in stad genaamd die Moederstad. Stiefmoeder sou selfs dit nie aan haar kinders gedoen het nie.

  • Die publiek dra by tot die voorsiening van voedsel vir die armes in die COVID-19 pandemie en dan vernietig die Staat huise van die armes. Dit is mos nie reg nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top