
Enoch Powell (Foto: Allan Warren via WikiMedia | CC BY-SA 3.0)
Daniël Lötter skryf op Facebook:
Enoch Powell is eenmaal beskryf as “The greatest prime minister Britain never had.” Ek het hom nog altyd as ’n politieke profeet beskou. Sy “Rivers of blood”-toespraak bykans 60 jaar gelede was toe wel die einde van sy politieke loopbaan, maar dit was ’n ongelooflik akkurate voorspelling van die krisis rondom die ekonomie en immigrasiekwessies waarmee die Weste oor die afgelope dekade worstel.
Dit was ook hy wat die stelling gemaak het dat alle politieke loopbane uiteindelik in mislukking eindig.
Ek dink vanoggend daaraan toe ek raak lees dat Kanada ook die heersende winde van konserwatisme in hulle seile gevang het. Na nege jaar as eerste minister het Justin Trudeau bedank, in aanloop tot die verkiesing. Sy rampspoedige sosialistiese ekonomiese beleid het hom die vertroue van sy party en sy mense gekos. Donald Trump se beoogde verhoogde invoertariewe het bepaald ook ’n rol gespeel, maar dit is ’n kwessie wat Trudeau ’n paar jaar gelede maklik sou kon hanteer. Hierdie keer verkies hy om oorboord te spring voordat hy oorboord gegooi word.
Trudeau was eenmaal die dinamiese, liberale leier wat skandaal en aanslag kon oorleef en met sy sjarme, vlymskerp intellek en sy seunsagtige glimlag aan die stuur kon bly. Nie meer nie. Die ewe vurige, jong konserwatiewe opposisieleier van die Konserwatiewe Party, Pierre Poilievre, gaan volgens vele kenners die nuwe kaptein aan boord wees na die verkiesing.
Politiek, het dieselfde Powell eenmaal kwytgeraak, is soos die stadige pendulum van ’n horlosie. Dit wentel van een draaipunt na die ander. Heen en weer. Met Trudeau se bedanking, Trump se verkiesing, die krisis in Duitsland en almal wat wonder wat die volgende Franse verkiesing gaan oplewer met Macron wat dieselfde pad loop as Trudeau, lyk dit asof Powell weereens reg voorspel het. Die pendulum van Westerse politiek is by sy keerpunt verby op reis na konserwatiewe oortuigings.
Daar wag ’n interessante drie dekades op die Westerse samelewing.
Kommentaar
Dit is totaal en al onverstaanbaar hoekom die Europeërs nie oor hulle voete val om hulle eie tale vir Arabies te ruil en nie Islam aanneem nie en ander kulture nie in hulle huise in verwelkom nie. En kerm en kla oor als. Europa het dan so hard baklei teen apartheid in Suid-Afrika. Die enigste logiese verklaring, is dat hulle klipharde, hartelose koverte rassiste is en nog altyd was.