Elders gesien: Die illusie van normaliteit

  • 2

Foto: Daniel Borker | Pixabay

Clinton V du Plessis skryf op Facebook:

Die illusie van normaliteit
(If we choose, we can live in a world of comforting illusion – Noam Chomsky)

Die sirkelspikkels van sproeiers op die gras by die krieketbaan
die stoele sonder sitvlakke van lynregters langs die tennisbaan
die selfoon, onwettig teen mamma se oor, só agter die stuur
maar, dit is hoe ons vooraanstaand, gesiend, (nie)wetsgehoorsaam roll
die man met die oorpak, die slaggat en sy geduld, oor die etensuur
die geel linte van hoop gestrik rondom bene van dennebome voor skool
die gewaande veiligheid van voetoorgange en spoedhobbels
die blaffende honde se halfhartige waarsku vanagter palisade en elektriese heining
die verbete stap teen hartaanval, beroerte, beheer van bloedruk en cholesterol
die stil buurte, die toegetrekte gordyne, die pynlik perfekte beddings gras
die klein lewens, gekokon binne, verwyder van buite, geskans agter sandblasted glas
die troppe trokke - buite hoorafstand, buite sig, voed die dorp se junkie en prostituut
onophoudelik, die vele gemeentes met vroom gesalfdes en bekeerdes ontdek opnuut
elke Sondag die munt en noot vir kollektebordjies, tiendes word gerieflik
die afkoopboetes vir skuldige gewetes
die aankoop migreer aanlyn, die einde van trollie of stadige betaalpunt of karwag

dié verblyf is elders, soos in ’n beswyming die belewing
die wolke afgekamp, die son gehok,
die doringboom bonsai in die voorportaal,
dié republiek is ’n lugborrel,
’n ballon wat wag dat die werklikheid,
soos ’n naald,
kom prik.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top