
Danie van Wyk skryf op Facebook:
Die ikoniese Afrikaanse Taalmonument is onder beleg geplaas deur minister van sport en kultuur, Nathi Nthethwa. Sy “ononderhandelbare” voorstel dat die ATM ’n naamsverandering moet ondergaan is absurd. Die monument was ontwerp en opgerig om die status van Afrikaans as ’n inheemse taal te vier en te omarm.
Dat daar ’n tyd van uitsluiting van benadeelde Afrikaanssprekendes in die geskiedenis van die ATM was, is ’n gegewe. Daai hekkie is egter lankal oorgesteek en is die monument vandag ’n baken van inklusiwiteit. Om nóú voor te stel dat die naam verander moet word wys daarop dat die minister nie die geskiedenis van Afrikaans ken nie en hom skuldig maak aan ’n veldtog om alles wat ruik en lyk na Afrikaans, te verwyder en uit die weg te ruim - ’n totale aanslag teen Afrikaans in samewerking met sy ministerskollega, Blade Nzimande.
Is jy dan “thati” minister Nathi? Waarom nie die R22 miljoen vlagprojek se befondsing aanwend vir die oprigting van ’n monument ter ere van alle inheemse tale in SA nie? Dít sal sosiale kohesie bevorder en ’n nalatenskap laat waarop alle Suid-Afrikaners trots kan wees.


Kommentaar
Mens het nie woorde vir sulke geklikheid nie! Ek hoop van harte dat dit van die tafel gevee sal word!
Dankie vir die sterk standpunt wat julle inneem. Die minister is van lotjie getik!
Sal ons liefs dan by een monument hou en neffens die geskiedenis van Afrikaans ander taalgeskiedenisse byvoeg, dan is daar meerdere miljoene waarmee ons kinders kan laat lees en boeke kan bevorder. Werklik, boeke, skrywers, lesers, Afrikaans, tale in Suid-Afrika, het dit nodig.
Met wie se fondse is die ATM opgerig, en aan wie behoort die grond waar dit staan? As ek die antwoorde kry wat ek vermoed, dan kan dit dalk die einde van Nathi se plannetjie wees.
Sou ons hieroor gepraat of gestry het as daar nie 'n verkiesing in 1994 was nie.
Daar is reeds in die veertigerjare van die vorige eeu begin met fondsinsameling om die oprigting van 'n monument moontlik te maak.
Afrikaans is nauw verbonden met Nederlands. Hier horen wij helaas weinig van de situatie van onze zustertaal in Zuid Afrika. Jammer!