Elders gesien: Die harde sypaadjie is sy huis én slaapplek.

  • 0

Foto: Hannes Stander

Hannes Stander skryf op Facebook:

Ontmoet vir X1. Adres: Hoek van Marine Drive en Athens Road in Blouberg. 61 jaar joud.

Ek het dikwels vantevore by dié hopie mens verbygery. Hy bedel nooit. Die harde sypaadjie is sy huis én slaapplek. Langs hom is ’n bord wat basies opsom waar sy lewe vroeg reeds ontspoor het. Ons was beide gedurende 1986 op die grens. ’n Mens het destyds drie keuses gehad: Vlug land uit, gaan tronk toe of voltooi die twee jaar diensplig en veg PW en Magnus se oorlog wat ons nie verstaan het nie.

Hy vertel dat hy steeds saans nagmerries kry van mortiere wat neerreën, bedags steeds flashbacks van makkers wat langs hom deur vyandelike vuur aan flarde geruk word.

PTSS (Post-traumatiese stressteuring) is destyds as “bossies” afgemaak. Niemand is daarvoor behandel nie. Dit het sy lewe, soos die van duisende ander, onomkeerbaar-negatief beïnvloed... huweliksonmin, egskeiding, werksverliese, dikwels substansverslawing om die pyn te probeer verlig en uiteindelik uitgespoel op die strate, vervreem van families wat nie verstaan het nie en sonder inkomste.

Terwyl ons gesels, sê ’n vrou wat verbyloop: “Just don’t give anything, they’re all hooked on booze and drugs.” Ek het op my tande gebyt en niks gesê nie. Dit is maklik om sulke aanmerkings te maak as jy vanaand na afloop van jou Netflix-fliek onder jou warm duvet gaan inkruip, terwyl hy nog ’n Kaapse winternag op die sypaadjie moet trotseer. Ek twyfel of sy weet wat “kontak slaan”, “doodsakker”, of om ge-“rev” te word, beteken. Hy het vier dae laas geeët, sê hy.

Ek het vir hom KFC gekoop. Wat hy met die kontant gaan doen, is sy saak. Ten minste is ek nie voorskriftelik en arrogant nie. En kan ek vanaand met vrede in my hart onder my duvet inskuif.

Nota:

1. Sy naam en van is aan LitNet bekend. Dit word weerhou om sy privaatheid te beskerm.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top