Elders gesien: Die ATKV groet Danny Titus

  • 0

Susan Smith skryf op Facebook:

Ons groet Danny Titus by die ATKV:

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW sê dat die afsterwe van Danny Titus, voormalige uitvoerende hoof: korporatiewe aangeleenthede by die ATKV ’n groot leemte laat en ’n baie hartseer dag is. Sonél sê dat Danny diep spore getrap het in periodes van verandering, in Suid-Afrika en by die ATKV. Danny se leierskap, integriteit en empatie sal haar altyd bybly. “Hy was die regte man op die regte tyd.”

Danny Titus (foto: Naomi Bruwer)

Die afgelope 12 jaar het Danny hom beywer vir taal en kultuur. Saam met die ATKV het hy Afrikaans toegankliker en inklusiewer gemaak en hiervoor sal hy onthou word.

Dié 63-jarige regsman, taalman, historikus en meningsvormer se nalatenskap is een van groter begrip en inklusiwiteit oor die kleurgrense heen.

In 1983 is hy as advokaat tot die hooggeregshof toegelaat en het hy as staatsaanklaer by die departement van justisie gewerk. Hy is in 1987 Nederland toe om sy studie aan die Universiteit van Leiden voort te sit en hy keer in 1993 met ’n meesters- en ’n doktorsgraad na Suid-Afrika terug.

In Februarie 2020 het hy as deel van sy geboortedorp, Worcester, se 200ste bestaansjaarvieringe die Freedom of the Town ontvang. Danny was besonders trots op hierdie toekenning en het ná die toekenning geskerts en gesê: “Dit is vir my baie aangenaam. Jy leef jou lewe rustig en ander sien dit raak.”

Ons gebede gaan veral uit na sy twee dogters, Daléne en Neriska.

Ons gaan jou mis dr Titus, en groet jou met groot respek en groot dankbaarheid vir die verskil wat jy gemaak het en die lewens wat jy geraak het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top