Neels Jackson skryf op Facebook [18/03/2020]:
Ek sien die aantal bevestigde gevalle van COVID-19 in Suid-Afrika is nou oor ’n honderd, nadat dit vier dae gelede nog op 39 gestaan het.
Ek het vanoggend op die webwerf worldometers.info gaan kyk na syfers oor die virus se effek in verskillende lande en op ’n klompie interessante dinge afgekom.
Hoe lank het dit in ander lande geneem vandat die aantal gevalle die 100-kerf gebreek het totdat dit die 1 000-kerf gebreek het? In Italië was dit 6 dae, in die VSA 10 dae en in die Verenigde Koninkryk ook 10 dae.
In die VSA het hulle die 1 000-kerf op 11 Maart oorgesteek. Gister, 6 dae later, was hulle syfer op 6 411.
In Italië is hulle op 29 Februarie oor die 1 000, op 10 Maart verby, 10 000 op 14 Maart verby 20 000 en op 17 Maart verby 30 000. Ondanks hulle sterk kwarantynmaatreëls het daar die laaste 4 dae telkens meer as 3 000 gevalle bygekom.
In die Verenigde Koninkryk is hulle op 14 Maart verby die 1 000 en teen gister, drie dae later, by 1 950.
Op die dag dat die VSA by 100 gevalle uitgekom het, was daar al 6 sterftes. In Italië was daar 3 en in die Verenigde Koninkryk 1.
Op die dag dat die VSA by 1 000 gevalle verby is, was daar al 38 sterftes, in Italië was daar 29 en in die Verenigde Koninkryk was daar 21.
Teen gister (17 Maart) was die VSA se syfers op 6 411 gevalle en 109 sterftes. Dit beteken dat die aantal sterftes 1,7% van die aantal bevestigde gevalle was. Maar van die 6 411 gevalle wat teen gister bevestig was, was 1 748 gevalle wat gister eers bygekom het. En ’n mens moet in ag neem dat daar waarskynlik ’n paar dae verloop vandat iemand gediagnoseer is totdat hy of sy sterf. So as ’n mens die totale aantal sterftes teen gister uitdruk as ’n persentasie van die aantal gevalle vyf dae tevore, dan is die syfer 6,42%
In Italië was die syfers gister 31 506 gevalle en 2 503 sterftes. Die aantal sterftes was 7,94% van die aantal gevalle wat teen gister bevestig is, en 16,56% van die aantal gevalle wat vyf dae tevore bevestig is.
In die Verenigde Koninkryk was die aantal gevalle teen gister 1 950 en die aantal sterftes 71. Die aantal sterftes was 3,64% van die aantal gevalle wat teen gister bevestig is en 12,03% van die aantal gevalle wat 5 dae tevore bevestig is.
China se kurwe het nou al baie afgeplat. By hulle was die totale aantal sterftes sowat 4% van die totale aantal bevestigde gevalle.
’n Mens moet versigtig wees om vinnig afleidings uit syfers te maak, maar vir my is ’n paar dinge duidelik:
1. Die virus versprei geweldig vinnig.
2. Die siekte is gevaarlik. Die persentasie sterftes is hoër as wat baie mense aanvoer.
3. Suid-Afrika is twee weke of meer agter hiedie ander lande. Hopelik dra die feit dat ons regering vroeg sterk opgetree het, daartoe by dat ons minder erg deurloop as hierdie lande.



Kommentaar
As mens nie almal wat simptone het kan toets nie omdat daar ’n tekort is aan dit wat jy nodig het om mense mee te toets, soos hier, kan daar nie akkurate voorspellings gemaak word nie! Glo nie een woord oor die sg. getalle nie! Werklike feite word weerhou! Daarby word net mense wat aan sekere kriteria voldoen a.g.v van die tekort getoets!