Vriende van NALN skryf op Facebook:
Pasbekroonde Ingrid Jonker-pryswenner oorhandig debuutdigbundel Donkerberg/Bloodwood (Dwarsrivier, 2021) aan NALN.
Dominique Botha het vanmiddag saam met haar man, Adi Enthoven, broer André en ouers, Andries en Sandra Botha, heerlik by NALN gekuier! Sy het ook die Skrywersmuur in Vriende van NALN se Boekemark in die Ketelkelder geteken.
Dominique se debuutroman Valsrivier word bekroon met die Eugène Marais-prys (2014) vir ’n eerste of vroeë werk, die Jan Rabie-Rapport-prys vir vernuwende fiksie en die Universiteit van Johannesburg-prys vir ’n debuutwerk. In dieselfde jaar is dit ook op die kortlys vir die toekenning van die KykNet-Rapport-prys. Die roman is eers in Engels geskryf en sy vertaal dit daarna in Afrikaans. Die Engelse weergawe van die roman, False River, word eweneens in 2014 bekroon met die Universiteit van Johannesburg-prys vir ’n debuutwerk in Engels en is in dieselfde jaar op die kortlys vir die toekenning van die Sunday Times-fiksieprys. Sy skryf ook gedigte en verower in 2014 die tweede prys in Versindaba se lykdigte kompetisie oor gestorwe digters met haar gedig oor Eugène Marais, “I always loved the wildest things best”.
Dominique se lewenslus en onblusbare energie het ons gevul met nuwe entoesiasme.
Baie dankie vir die inspirerende besoek, Dominique Botha, Adi Enthoven, André Botha en trotse ouerpaar Andries en Sandra Botha. Dit was ’n voorreg om u by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum te kon verwelkom. Dankie, Fritz Krohn, dat jy die geliefde gesin na NALN toe gebring het.