Elders gesien: Bejaard in ’n vreemde wêreld van "portals" en "links"

  • 1

Foto: Hannes Stander

Hannes Stander skryf op Facebook:

My bejaarde buurvrou klop vanoggend aan my deur, in haar hande ’n mandjie met steeds warm, geurige anysbeskuit. Sy het onlangs hier ingetrek. Ons ken mekaar net van groet in die verbygaan. Kan ek haar nie asseblief met rekeninge betaal en ’n paar ander rekenaarverwante dinge kom help nie, het sy gevra. Sy voel skaam om vir hulp te vra, maar sy sukkel reeds vir weke. Haar kinders en kleinkinders woon almal oorsee. Op 86-jarige ouderdom weet sy bitter min van “links”, “portals”, “apps” en “online stores.”

Sy het koffie gemaak voor ons haar rekenaarprobleme sou takel. Teen die muur hang ’n geraamde foto van ’n Karoo-landskap met ’n huis op die agtergrond. Sy kon sien ek kyk daarna. Dit is die familieplaas waar sy tot drie maande gelede geboer het, het sy gesê.

Sy het my geraamde familie-foto’s op die tafel gewys. Haar oudste seun, Jaco*, het nie destyds van die Grens teruggekeer nie en sy jonger broer het selfmoord gepleeg. Haar man is kort daarna aan ’n hartaanval oorlede. Sedertdien het sy alleen geboer, het sy gesê asof dit die mees logiese ding is om te doen. Sy glo dit is wat haar man sou wou hê.

Sy het met krom, artritiese vingers gewys wie is wie op die foto’s en toe weer na die geraamde plaasfoto gedraai. Haar man, seun en hulle voorouers lê in die familiebegraafplaas teen die rantjie agter die huis, het sy beduie. Sy kon hulle tog nie alleen daar los nie? het sy gesê-vra.

Sy het haar sakdoekie gefrommel en vir die eerste keer emosioneel geraak. Ek wou iets vertroostend sê, maar kon nie gepaste woorde vind nie. Sy is ’n trotse mens. Om vir hulp by ’n vreemdeling te vra, moes baie geverg het. Sy het vir vier dekades vrou-alleen geboer. Sedert ’n gewapende rooftog op die buurplaas het haar kinders aangedring dat sy dorp toe moet trek. Sy het geweier om “tussen die ou mense” te gaan woon in die tehuis vir bejaardes. Toe trek sy na haar dogter se woonstel hier by die see.

Hierdie vrou is taaier as ’n gannabos het ek stilweg gedink. Maar hoe verplant mens ’n ganna? Ek moet haar ook asseblief met die Zoom-en Skype-gedoentes help, het sy gevra. Sy druk alewig die verkeerde knoppies. Ek het Tannie Hester* (sy weier dat ek haar Mevrou noem) met die vreemde wêreld van aanlyn rekeninge betaal en ander rekenaarverwante probleme gehelp, ook met aanlyn kommunikasie.

Met die groetslag het ek ’n foto van haar geraamde plaasfoto geneem. Sommige van die windpomp op die voorgrond se wieke is gebreek of selfs afwesig. Om in die ongenaakbare Karoo te boer is nie maklik nie.

Sedert ek terug is in my woonstel, dink ek die heeltyd aan Tannie Hester*. Die moderne samelewing forseer bejaardes, soos sy, om kundig te wees met slimfone, app’s, links en portholes.

Sy het vir dekades gesorg dat daar Karoo-lamsvleis in winkels en restaurante beskikbaar is. Van boer weet sy baie, maar sy ken nie die vreemde wêreld van rekenaartegnologie nie. Die vrou by die bank het gesê dat sy die moderne tegnologie moet “embrace.”

Het ons moderne samelewing nie dalk hierdie bejaardes opsy geskuif nie? Hulle het nie almal kinders, kleinkinders of ’n buurman om hulle met tegnologiese probleme te help nie. ’n Selfvoldane samelewing wat sy bejaardes so behandel, is dalk nie so modern en regverdig as wat dit wil voorgee nie.

Ek het iewers gelees dat ’n samelewing se graad van ontwikkeling gemeet kan word aan hoe dit sy gevangenes behandel. Ek sal bejaardes daar wil byvoeg. Mense soos Tannie Hester* het hierdie wêreld help bou, in haar geval ver van moderne tegnologie. Sy was reeds middeljarig toe die rekenaar- en selfoonera aangebreek het.

Sy woon nie nou net alleen nie, maar sy is ook tegnologies alleen en geïsoleer gelaat.

Wat sê dit van ’n samelewing wat sy bejaardes so behandel? Hulle moet sien kom klaar met aanlyn rekeninge betaal en ander rekenaarverwante probleme. Die sisteem het hulle versaak. Moderne tegnologie het hulle myns insiens opsy geskuif en selfs uitgesluit.

Behoort moderne tegnologie nie vir oud en jonk te dien nie? Het die moderne wêreld die Tannie Hesters* van ons wêreld van hulle waardigheid gestroop? Dié wat voor ons hier was, word nou alleen agter gelos om te kom sien kom klaar. Miskien moet ons introspeksie doen?

*Name word weerhou om haar privaatheid te beskerm.

  • 1

Kommentaar

  • Ek het begrip vir jou skielike angs … op jou ouderdom (profiel gelees) voel jy seker al hoe die gesimuleerde intelligensie aan jou enkels hap.

    Njar-njar. Woef.

    My advies aan die ouer garde is om eerder te berus by hoe dit is. Wat help dit tog om met die werklikheid te stry. Wees innerlik dankbaar vir jou herinneringe … maar in hierdie wêreld is dit elkeen vir homself. Selfs geboorte is ‘n eensame proses met ’n hou op die blaaie by aankoms.

    Voorwaar, jy gooi nie nuwe wyn in ’n ou sak nie. (Bybel) Oud maak plek vir nuut. So vang die leeu ook die agterste buffel en die jongetjies se lewens lê daar voor. Kyk maar, ook die ster brand uit.

    Gee oor. Brand uit, Feniks! Herrys uit die as.

    (Dit is op jou versoek dat ek introspeksie doen. Hoop dit is van waarde.)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top