Elamshal

  • 0

Donderdagmiddag is ek en ou Swarie jagplaas toe. Die berge word plek-plek persrooi puinhope met grasgoud stoppels baard. Gee vir my ’n vinger sodat ek vir die masjiene in die sand die afdruk van ’n windskeef witwanguiltjie langs die pad kan los. Van Northam tot reg voor Elamshal se hek vliet rooi spatsels seeroogblomme en die herinneringe aan ’n Wildflower Rescue op Roossenekal waar ’n dam beoog was: sleepwavragte pap knoppiesaalwyne,  groenes wat senegalias met koevoete red, tannies wat opgewonde rondhardloop met steggies pienkaandblom en stukke seeroogblombolle wat oral rondlê en getuig van sofistikasie.

“Ek hoop nie ons word ’n statistiek nie,” skerts Swarie terwyl hy die hoë hek oopbeur. Ek gryns onseker. So volg ons goedsmoeds die spoor van ’n vreemde voertuig op die reënpatroon van ’n grondpad tot die plaashuis. ’n Gebande muishond kyk, skarrel verder en kyk weer, impalas en gemsbokke vlug, ’n horinglose renoster storm die doringbosse in. Ons stop en ’n geelbekneushoringvoël kom kok-ok-k. In die verste jakkalsdraadhoekie van die plaaswerf luister kameeldoringpeule vir saad in die wind.

Swarie fluister: “Moenie roer of raas nie, die ken-van-kyker is die baas hier.”

Vlak van ’n kolletjie groen gras in die sand gloei die vrug van ’n skoonma-se-tong – klein Halloween-pampoentjies. Die son verteer skild vir skild ’n skilpaddop teen die plaashuismuur.
Vrydagoggend  op pad huis toe wys ek Swarie die son het ook ’n kennisgewing herskryf: Broederstroom is beeldsko.

Terug in my plek van veiligheid bly die draadloos die ganse daaropvolgende week op The Beastly Boys vashaak: “I come with panga, I come to club, I don’ come singing rub a dub dub ...”  Waarom waak ek nog? Laat ek eerder loop lê en slaap. In my drome kan ek kalanders versier met Voodoo-poppies vir Krismis. Maar dan kom die nagspook van Elamshal se jagkamp en goël by my. Wurms peul in en uit bokhorings. Boere hang oopgespalk soos Rembrandt se Geslagte Os aan die vleishakke onder die watertenk. Een vir ’n flat skin, een vir ’n full mount.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top