Met hul bonsende ritmes en treffende lirieke het die Afrikaanse elektro-rapgroep Bittereinder sedert hul debuut met ’n Ware Verhaal in 2010 aanhangers aan’t dans én dink. Hierdie week word die musiekvideo vir “Donderwolk” vrygestel, en dis Bittereinder soos jy hulle nog nooit vantevore gehoor het nie. Dis ook die groep, bestaande uit Jaco van der Merwe, Peach van Pletzen en Louis Minaar, se eerste enkelsnit in meer as twee jaar. Annie Klopper, wat pas ’n doktorsgraad oor rap voltooi het, het met dié groep se woordeman, Jaco, daaroor gesels.
Dié onderhoud is saamgestel uit gesprekke tussen Annie en Jaco oor verskeie digitale platforms.
rondomtalie om en om
donker soos ’n donderwolk
alles is nog opgefok
kots drup oor my trotse tong
verraai ek net my eie volk?
hoor ek nog die stem van God?
[...]
ek loop soos ’n spook rond
skeur soos ’n oop wond
iets in my bly hoopvol
blaf soos ’n groot hond
stilte in my dood mond
sluk my soos die oop grond
Annie: Shit, Jaco, hierdie song is hectic. Dis nie die Bittereinder wat met “Ware Verhaal” deur ’n vervlegting van pret en plesier sin probeer maak het uit hul herkoms en identiteit nie. Nog is dit die bonsende Bittereinder wat met “Kwaad Naas” in 2012 grappies gemaak het oor Souties wat Afrikaans praat. Hier, met woorde soos “die donker kom van binne”, het ons iets wat met die eerste kyk en luister lyk na ’n eksistensiële krisis met ’n elektriese ritme, of hoe? Wat het aanleiding gegee tot die skryf van hierdie song?
Jaco: Krisis is dalk bietjie sterk, maar maybe nie! Ek dink jou eerste indrukke is skerp, maar ek voel daar is wel ’n lineage van Bittereinder-liedjies wat op al vier vorige albums besig was met hierdie selfde idees, tracks soos “Altyd genoeg” se Steppenwolf-skaduwee, “Penworstel” se stem wat saam swem in die modder of selfs “Die ooreenkoms” se storm wat in die verte wag.
Maar ja, jy is heeltemal reg, Bittereinder van 2017 is natuurlik nie Bittereinder van 2009 nie. Dit laat my dadelik dink aan cultural theorist Stuart Hall se stelling dat identiteit eintlik ’n constant becoming is, nooit ’n fixed essence nie – terloops, ek en jy het daaroor gechat met jou PhD research ook, right? Ons is met ander woorde altyd besig om onsself te word, which implies constant change as much as anything.
Hierdie liedjie is letterlik op Kersdag en Boxing Day 2016 geskryf. Ek was diep in die bos in Botswana iewers, reflecting on what it means to be in my mid-thirties in the Age of Algorithm en ek het so ’n lieflike beat wat Louis op my iPod gemaak het by my gehad.
nog ’n jaar is ingekleur
nog ’n droom is uitgevee
nog iemand het opgegee
[...]
tyd is op vir boek skryf
flieks wat ek nog moes kyk
leemtes in ’n huldeblyk
A: Die tema van verganklikheid het alreeds in van julle vorige werk begin deurskemer met titels soos Dans tot die dood (2015). In die openingslied van daardie laaste kortspeler, “Die mes”, is die woorde: “ek is nog nie dood nie”. Nou, in “Donderwolk” se koor sing jy: “oe, Here God, vat my nou / vat my nou, vat my nou / want ek kan niks meer onthou nie”. In watter mate is daar ’n deurlopende narratief hier? Is dit ’n ontwikkelende verhaal of staan al die albums en lirieke onafhanklik van mekaar?
J: As ’n vertrekpunt het Gabriel García Márquez se opening tot die eerste (en sadly toe enigste) volume van sy memoirs my baie inspireer: “Life is not what one has lived, but what one remembers, and how one remembers it in order to recount it.” Ons elkeen vertel eintlik maar oor en oor ons eie lewe se storie vir onsself, en dan vir mekaar. Hoeveel van dit “waar” is, en hoe mens daardie “waarheid” meet is in elk geval veels te kompleks om ooit regtig te begryp, maar die belangrike idee hier is die storievertellery.
So ja, die liedjie gaan seker maar oor so ’n tipe disillusionment, in the good way, waar mens eers bewus, en dan ontslae raak van verskeie illusies wat voorheen dalk groot dele van mens se constructed identity was. Dis eintlik iets wat die heeltyd met ons almal gebeur, mens tref mos maar net partykeer ’n paar particularly insiggewende oomblikke, en ’n mid-thirties-iewers-tussen-quarter-life-en-mid-life-crisis is seker potentially een van die diepstes.
Ek sou sê my lirieke, waarmee ek altyd probeer eerlik wees en nogal neig na introspective streams of consciousness, vorm definitief ’n patroon van ’n lewe, ’n deurlopende narratief. Op my eie intertextual manier verwys ek gereeld terug na my eie vorige werke, so ja, daar is definitief motifs en dinge wat herhaal, maar ek is redelik oortuig dat al ons liedjies op hul eie ook iets kan beteken vir ’n luisteraar/leser/video-kyker.
A: Met Louis Minnaar wat nie slegs ’n lid is van Bittereinder nie, maar ook die groep se videos skiet en redigeer, is Bittereinder nog altyd meer as slegs ’n musiekgroep, dit is eintlik nog altyd ’n oudiovisuele projek. Jy het self ook onlangs begin films maak. Vertel my van die konsep van hierdie video en hoe dit visueel skakel met die lirieke of boodskap van die song.
J: Jip, Bittereinder se driemanskap het van dag een af (Februarie 2009) onsself verstaan as ’n audio-visual project meer as net ’n band. Ek dink in baie mense se verwysingsraamwerk is Bittereinder se beeldwêreld amper net so memorable en sterk as die musiek en lirieke. En wat “Donderwolk” betref, ek en Peach en Louis voel amper asof hierdie liedjie bestaan sodat hy die klankbaan van hierdie video kon wees. Louis het regtig iets vasgevang met die beelde wat diep resoneer met die woorde en die musiek. Hy het self die snorricam wat ons gebruik het ontwerp en gebou, dis ’n kamerategniek wat nogal sterk emosionele dinge kan doen – check byvoorbeeld die short films God View en The Irrational Fear of Nothing uit:
Die tegniek is so gripping want dit gee mens ’n tipe “mental subjectivity” gemeng met “perceptual subjectivity” (om nou my favourite film theorists Bordwell & Thompson bietjie in te bring), dinge wat mens gewoonlik separately met voice-over narration of POV [Point of View] shots sou doen word amper gelyktydig gedoen met ’n snorricam, jy is simultaneously in die karakter se fisiese en kognitiewe spasie.
Fok, ek het dit actually self so pas uitgefigure soos wat ek hierdie tik – thesis idea! Om dit dan weer by die lirieke uit te bring, die “mental subjectivity” is duidelik in die stream of consciousness, maar daar is ook nogal ’n sterk visceral gevoel (en dus ’n meer fisiese “perceptual subjectivity”) aan die wêreld van die lirieke – ek dink jy’t dit self beskryf as a punch to the stomach toe jy dit die eerste keer geluister het? Die jakkalse wat skreeu, die stemme wat roep, die spinnende rondomtalie, die dominee wat in die kerk preek, die flikkerende neonligte en kringe van rook wat jy nog aan jou vingers kan ruik ...
A: Soos die visuele ’n belangrike rol speel in die oordra van die boodskap, speel die musiek ’n ewe belangrike rol in die oordrag van die tema of gevoel van die song. Die nostalgiese elektro-vuishou-ritmes in hierdie spesifieke liedjie kan ten beste beskryf word as ’n bittersoet simfonie, maar dis dalk omdat jy so à la The Verve in die video rondstap ... Wat is die verhouding tussen bitter en soet vir jou in hierdie stadium van jou journey as kunstenaar en hoe kom dit tot uiting in dié track?
J: Ek het onlangs ’n podcast met Sam Harris en Neil deGrasse Tyson geluister, waarin Neil na amper elke vraag vir Sam gesê het “that’s a great question Sam” voor hy begin antwoord het, soveel so dat ek hom amper nie eers meer geglo het nie! Behalwe dat Sam Harris natuurlik moer goeie vrae vra. In elk geval, mag ek begin deur te sê “dis ’n lieflike vraag, Annie”.
Ja, ek het “Donderwolk” self beskryf as ’n “melancholy hymn” vir die press release, ek dink die liedjie vang daai happy-sad gevoel goed vas waarna jy ook nou verwys. Dink dis Victor Hugo wat gesê het “melancholy is the pleasure of being sad”. Dis seker maar deel van hoekom artists soos The National en Sufjan Stevens vir my al hoe liefliker word; in my 20s wou ek net Rage Against the Machine en Black Star luister en die wêreld verander, nou wil ek net rustig sit en bietjie sad wees oor hoe onmoontlik dit is om die wêreld te verander, insert smiley emoji, or maybe the one with the tears of laughter.
Ek dink nie ek is ’n particularly bitter mens nie, as ek terugdink oor al die dinge wat ek gedoen en gesê het, weet ek my hart was altyd op ’n quest om eerlik te wees, so ek het nie baie regrets nie. En selfs al voel die lewe nogal donker onlangs, is daar nog steeds daai reëltjie “iets in my bly hoopvol” in die tweede vers (jy’t dit eers gehoor as “iets in my bly oopfok”, right? Ha-ha-ha, dis seker ook gepas). As ’n kunstenaar en mens is dit definitief vir my ’n tyd van diep dink oor wat agter my is, asook wat voorlê, en die ietwat ondermynende feit dat mens in elk geval baie meer moet probeer fokus op die huidige oomblik.