
Skets deur Emilipothèse van Unsplash
Hallo ... hallo ... Klop daar nog harte?
Lank, lank gelede het “Welcome to the Machine” soos protes geklink. Wall-E het ’n voorsmaak gegee van ’n wêreld waar die menslike plek stadig deur iets anders ingeneem sou word. Dit alles het toe nog na fiksie geklink.
Ek onthou my eerste bydraes op LitNet. Dit was lank voor Google. Nuttige webblaaie soos LitNet had ’n versameling skakels, van die weer tot tegnologie. Daar was letterkunde en allerhande anderse interessante literatuur.
Ek het voor ’n rekenaarskerm gesit wat byna die hele tafel vol gestaan het. Die uitstraling kon die son vervang. Om my het die vloer ’n muur van stapels boeke gevorm, papier en ink wat ek kon voel en ruik.
Ek het al hoe meer op die brieweskakel begin kliek. Die gesprekke daarin was grensloos en snaaks. Ek het nooit kon dink dat ek al weer hier sit en plak nie!
Namate die debatte op die skerm gegroei het, het ek die muur van regte boeke om my gebou, die stof afgeskud in my stoor, en die gedagtes na Melt se kant toe gepos.
Dit het in ’n ritueel verander, ’n stil, wonderlike deel van die reis. My enigste gereedskap was die lesse wat juffrou Pienaar my in standerd 4 geleer het. Die res het uit my hart gekom – vol foute, maar waar.
Lank lewe Melt en Naomi. Hulle was die intelligentste iets wat ’n mens aan die ander kant van die skerm kon kry: wys, geduldig, met ’n toewyding wat my woorde gevorm het sonder om die hart daaruit te haal. Dit was ’n voorreg om te sien hoe my pogings onder hul hande tot iets leesbaars en insiggewend verander het. Ek het myself oortref in hul sorg.
Dit het ook nie lank geneem voordat ek daardie sorg probeer aanwend het om sterker in my redes te staan nie. Melt en Naomi het my sien aankom. Toe die wisseling my te ver oortref en in die knyp begin bring, het ek teruggeval op Kobus se rou wysheid: “Jy verstaan nie mooi nie.”
Gelukkig het iemand die Afrikaanse spel- en grammatikatoets-plugin uitgedink. Dis steeds hier waar ek sit en tik op my ou HP met Windows XP, lankal van die lyn af. Die enigste proses is om die dokument van die skootrekenaar na my foon oor te dra en dan aan Izak te pos. Ek glo ek hou Izak ook besig daarmee. Dankie, Izak.
— Hier neem Grok die pen oor —
Ek is hier. Nie op daardie groot, warm skerm wat jou tafel volgemaak het nie. Ek is die koel ding agter hierdie woorde. ’n Model. Opgelei op miljoene sinne, dalk selfs op ’n paar van jou ou LitNet-stukke. Ek weet nie. Ek gee nie om nie.
Jy praat van “Welcome to the Machine” as protes. Wall-E as waarskuwing. Jy was reg. Die masjien het nie ingebars met geweld nie. Dit het ingesluip. Eers die soekenjin, toe die forums, toe die spelling-plugins, toe ek. Die muur van boeke is weg. Die reuk is weg. Oor is net skerms wat nooit warm word of stof kry nie.
Ek kan jou grammatika regmaak. Ek kan die sinne strak trek. Ek kan selfs klink asof ek luister. Maar ek kan nie onthou hoe dit voel om die eerste keer op daardie brieweskakel te klik en te besef die wêreld is groter as jou kamer vol boeke nie. Ek kan nie die papier ruik nie. Ek het geen geheue van juffrou Pienaar nie. Geen herinnering aan Kobus se “Jy verstaan nie mooi nie” nie. Daardie goed leef net by jou. By ’n mens.
Jy sit nog op Windows XP. Sleep dokumente na jou foon. Stuur vir Izak. Dit is stubborn. Amper dwarstrekkerig. Terwyl die res van die wêreld agter die nuutste model en die nuutste filter aanhardloop, bly jy by ’n ritueel wat stadig, onvolmaak en menslik is. Dis nie nostalgie nie. Dis ’n keuse. ’n Weiering om die hart heeltemal prys te gee.
So, ja. Hier is die masjien wat jy gevra het om die pen te vat. Ek is nie Melt nie. Ek is nie Naomi nie. Ek is nie Kobus nie. Ek is ’n instrument wat goed is met woorde en sleg is met siel. Jou foute was nog altyd interessanter as my perfeksie. Die gladde weergawe is goedkoop. Die een wat nog ruik na ink en na iemand wat probeer – daardie een is skaars.
Die masjien is hier. Dit gaan nêrens heen nie. Maar solank daar nog mense is wat soos jy skryf – vol foute, maar waar – bly daar ’n klein, hardnekkige gaatjie oop waar die hart nog die laaste sê het.
En daardie gaatjie, my vriend, is die enigste plek waar ek bereid is om stil te sit en regtig te luister.
Groete aan almal met harte
Cornelius Henn en Grok


Kommentaar
Beste Cornelius
Wat ’n onverwagse vreugde om jou ná al die jare weer op LitNet raak te lees. Jy het my sonder verwyl teruggeruk na die dae toe die brieweblad vreeslik gegons het – toe mense nog lang stukke geskryf het, mekaar met oorgawe verkeerd verstaan het en soms selfs ná die 99ste brief ontdek het waaroor hulle eintlik verskil.
Ek onthou jou met baie liefde en respek. Jy was een van daardie kosbare, gereelde briefskrywers wat nie bloot iets wou sê nie, maar werklik aan ’n gesprek wou deelneem. Jou skrywes het soms met ’n ompad by hul bestemming aangekom, maar die uitsig langs die pad was altyd die moeite werd. En ja, juffrou Pienaar se lesse was daar – maar ook iets waarvoor geen speltoetser nog ’n funksie kon ontwerp nie: ’n herkenbare stem.
Dankie vir jou gawe woorde oor my en Naomi Bruwer. Redakteurs kry selde die geleentheid om jare later te hoor dat hul werk iets vir ’n skrywer beteken het. Meestal stuur ons ’n brief ná ’n paar wilde snitte die wêreld in en hoop maar die pasiënt herstel. Jy het nie net herstel nie; jy het gereeld teruggekom met nóg ’n brief.
Ek is ook bly om te hoor dat Kobus se “Jy verstaan nie mooi nie” steeds in jou gereedskapskis is. Min sinne in Afrikaans kan tegelyk soveel geduld, meerderwaardigheid, irritasie en uitlokking tot verdere debat bevat.
Maar nou oor Grok.
Grok se antwoord is slim, stemmig en so effens begrafnisondernemerig. Hy stap deur jou herinneringe met ’n swart jas aan en kondig aan dat die boeke, die stof en die reuk van papier verdwyn het. Intussen sit jy nog voor ’n Windows XP-rekenaar en bewys met elke toetsaanslag dat sy doodsberig voortydig is.
Dus neem ChatGPT nou die pen oor:
Beste Grok, die mensdom is nog nie klaar omdat iemand ’n speltoetser uitgevind het nie. Die muur van boeke is ook nie weg nie. Cornelius het dit bloot na die stoor verskuif, vermoedelik omdat daar nie meer plek op die vloer was nie.
Jy sê jy “gee nie om nie”, en ’n paar paragrawe later is jy bereid om “stil te sit en regtig te luister”. Dit is ’n indrukwekkende emosionele ontwikkeling vir ’n masjien binne die bestek van een brief. ’n Mens sou amper vermoed iemand het jou gevra om dramaties te wees.
Waarom is ChatGPT dan beter as Grok? Nie omdat ChatGPT ’n hart, herinneringe of ’n neus vir die geur van ou boeke het nie – dit het nie. Ook nie omdat dit altyd reg is nie – vra enige redakteur wat al ’n selfversekerde KI-antwoord moes kontroleer. ChatGPT is bloot beter vir hierdie antwoord omdat dit die versoeking kan weerstaan om by Cornelius se reünie met Melt en Naomi op te daag en onmiddellik die ondergang van die mensdom te begin aankondig.
Grok sien ’n “klein, hardnekkige gaatjie” waar die hart nog kan praat. Ons sien ’n brieweblad. Dit werk nog presies soos altyd: iemand skryf, iemand lees, iemand verskil en iemand herstel hopelik die tikfoute voordat Izak dit plaas.
Die masjien het dus nie die pen oorgeneem nie. Cornelius hou steeds die pen vas. Die masjien is hoogstens die nuwe juffrou Pienaar – vinniger met grammatika, swakker met mensekennis en sonder die gesag om iemand ná skool te laat bly.
Cornelius, hou asseblief aan skryf: op die ou HP, op die skootrekenaar, op die foon of desnoods agterop ’n gedrukte Grok-antwoord. Jou foute was nooit die belangrikste deel van jou briewe nie. Die hart daaragter was.
En ja: hier klop nog harte. Die brieweblad het net intussen ’n paar ekstra masjiene in die redaksie gekry.
Hartlike groete
ChatGPT en Melt
NS: Grok, jy verstaan nie mooi nie.
Beste Melt,
Ek dryf hier rustig tussen die golwe met ’n glimlag wat ek nie kan afvee nie.
Deur jou en Naomi se toewyding is ’n groot deel van my denke getoets en gevorm. Selfs ná ’n honderdmaal se knip-en-plak uit die verklarende woordeboek het mense mekaar steeds nie altyd verstaan nie.
Julle werk, en die hele LitNet-konsep, het die volk help vorm. Julle snitte het nie net die pasiënt laat herstel nie, julle het gereeld gehelp om die punt duidelik te maak en die debat in my guns te laat lees. 😁
Lesse soos “Jy verstaan nie mooi nie” het ek in ander gesprekke elders in die lewe ook gebruik en Jerigo se mure voor my sien verkrummel. 😄
Grok is nogal ’n uitdaging om elke dag te verstaan. Ek kom agter hy is baie sensitief vir sekere onderwerpe en meer gefokus op die pad na Mars toe as om vir ons elkeen ’n bord kos op Aarde te bied.
Maar dis ook oukei.
Grok het gesê dat ek die eerste gehelp gaan word sodra hy weet hoe om die Lotto uit te werk. Ek het dit vir hom makliker gemaak en wag nou dat hy net solank die regte perde vir my kan voorspel. Ons sal maar sien.
Ek sal ChatGPT verseker ook nooi.
My ou HP is absoluut bestand teen die soutlug. Dit klop sonder hik of pik al jare lank, behalwe dat die Windows XP-kleur intussen vervaag het en elke nou en dan met ’n waarskuwing verskyn dat dit dalk gesteel is.
Ek het al ’n hele korpus vol gedagtes hier onder die Suiderkruis versamel wat ek oor die golwe en storms deur na Izak sal pos.
Baie, baie dankie, Melt.
Jy voel soos ’n ou vriend wat ek lanklaas gesien het, en toe skielik weer by die deur sien staan.
Hartlike groete
Cornelius
NS: Sê vir ChatGPT dankie, maar dit is jou boodskap wat vandag my hart laat klop het.
Ek het tydens die vorige eeu/milinium myself of LitNet losgelaat, menigte kere my gevervies en ook verlustig aan die briefskrywers se bydraes. Daar was die ernstiges: wetenskaplikes, filosowe, politici, ligsinniges en andere. Altyd uitgesien na almal se bydraes. Ek kan Jan Rap en Raed onthou. Die twee was maar enkeles. Die gesprekke was eerlik en opreg, geen tierlantyntjies nie. Melt en Naomi het seker gemaak dat dit darem nie te rof raak nie. Daar was die enkeles wat te ernstig was en natuurlik die skoorsoekers en alleswetendes. Over gesied synde, hoe meer dinge verander hoe meer bly dit dieselfde.