Sonja, baie geluk met die verskyning van Sirkusboere. Jy was vir 16 jaar stil ná die publikasie van Spoor. Het jy net, soos ’n wafferse Suid-Afrikaanse Donna Tartt, lank aan Sirkusboere geskaaf, of was daar ander oorwegings wat jou vir so lank uit die literêre loop gehou het?
Baie dankie: vir die gelukwensing en vir die goeie geselskap waarin jy my plaas. Donna Tartt speel in ’n veel beter liga as ek, maar ek identifiseer tog met die redes wat sy aangevoer het vir haar lang stilswye (ons het ook bykans dieselfde haarstyl). Sy het in onderhoude gesê sy sou graag ’n boek ’n jaar wou skryf, maar slegs as elkeen ’n goeie boek kon wees. Só voel ek ook. Ek wou dus eerder stilbly as om een of ander twakkerige gedoentetjie op te klits (en met daardie opmerking verraai ek nou natuurlik die versigtig-optimistiese, eerder as verwaande, hoop dat Sirkusboere nie té twakkerig is nie.)
In ’n onderhoud met Diane Awerbuck verwys jy na die selfmoord van Sello Duiker, en hoe sy dood vir jou ’n les was om die skrywersinstink te gehoorsaam. Het hierdie ervaring aanleiding gegee tot jou skuif vanuit media en televisie na die akademie? Vind jy dat jou akademiese betrekking jou meer tyd gee om te skryf?
Hoewel ek eintlik al tien jaar gelede geweet het ek wil Sirkusboere skryf, het dit my lank geneem om my lewe so in te rig dat ek iewers tyd kon steel (dit is steeds nie maklik nie). As draaiboekskrywer het ek saans, na ’n dag se gestoei met die 7de Laan-karakters, soveel ander stemme in my kop gehad dat ek my eie nie meer mooi kon hoor nie. Ná Sello se dood (en daar was baie ander redes ook) het ek my geleidelik losgemaak uit die wêreld van media en televisie, maar toe kom die omwenteling van ’n verhuising na Londen en sy baie verleidings, die geboorte van my twee kinders veertien maande uitmekaar en die opwindende geleentheid om dikwels te reis. Terug in Suid-Afrika het ek ’n pos as bemarkingsbestuurder van ’n groot uitgewershuis aanvaar en daarmee saam het my fokus verskuif na ánder skrywers se tekste. Die waansinnige lang ure het beslis geen ruimte vir skryf gelaat nie. In die akademie is daar ook meer druk en minder tyd as wat mense dink, en my grootste frustrasie is dat ek graag meer skryftyd sou wou hê (ek is seker talle ander skrywers sal dit luidkeels beaam), maar ek vind tog dat ek in die akademie effens meer geleentheid kry om na binne te leef.
Dit sit nie in enigiemand se broek om ’n geskiedkundige roman van hierdie omvang te skryf nie. Ek kan my indink dat jy ’n geweldige klomp navorsing moes doen om hierdie storie oortuigend te kon vertel. Gee jy om om meer oor hierdie proses te vertel? Ek weet dat jy in 2004 na Amerika is en oa besoek afgelê het by Coney Island, waar Cronjé in ’n spektakel opgetree het wat tonele uit die Boereoorlog uitgebeeld het. Het jou navorsing ook ander reise behels?
Ek kon steun op die navorsing van onder andere die sporthistorikus Floris van der Merwe van die Universiteit Stellenbosch, maar ek het dit oor ’n lang tydperk aangevul met navorsingsreise en uitgebreide leeswerk en navorsing van my eie. Behalwe die besoek aan Coney Island het ek ook die St Louis-staatsargief in Missouri besoek, waar ek bykans ’n week lank verlore geraak het in die historiese bronne oor die Boere se avonture by dié stad se Wêreldskou in 1904. As my man my nie later vermis en daar kom uitpluk het nie, het ek seker nóú nog daar gesit, vooroorgebuig oor ’n stapel knipsels. Gedurende die drie jaar waartydens ek in Londen gewoon het, was ek ’n “reader” van die British Library, waar ek so gelukkig was soos ’n varkie in modder. Daardie dae wanneer ek by King’s Cross uitstap en op ’n drafstap vir my lessenaar in die Humanities Reading Room 1 gemik het, was pure geluk. Ek wou bitter graag ook Ben Viljoen se spore in Nieu-Meksiko gaan soek, maar my beursie was te leeg. Miskien doen ek dit nog eendag. Op die ou end was dit natuurlik ook ’n groot uitdaging om die navorsing eenkant te skuif en die storie toe te laat om sy eie voete te vind, want ek is ten slotte ’n skrywer en nie ’n historikus nie.
Jy het self vir ’n tyd in die buiteland gewoon, maar in 2009 teruggekeer na Suid-Afrika. Sou jy sê hierdie eerstehandse ervaring van die lewe as kontemporêre “sirkusboer” het bygedra tot die vorming van jou roman?
In die buiteland kon ek veral identifiseer met Ben Viljoen, wat brand om weg te kom uit die versmorende en benepe klein binnekring, en wat ongeduldig raak met mense wat nie kan aanbeweeg en oorbegin nie. Dit was vir my heerlik om in ’n groot stad te verdwyn en heeltemal anders te leer dink en bestaan. Met die tyd saam het ek ook meer deernis gekry vir iemand soos Piet Cronjé, wat dit nie regkry om hom los te maak van die plek en die dinge wat hom gevorm het nie.
In sy bespreking van jou roman fokus Chris van der Merwe onder andere op die vervalsing van die geskiedenis soos dit in Sirkusboere vergestalt word, maar ook op die universele neiging van mense om ’n sirkus van die geskiedenis te wil maak, ’n weergawe wat die pyn van die verlede verswyg en slegs die doel van die sirkusbaas dien. Wat is jou opinie oor die Suid-Afrikaanse retoriek van Waarheid en Versoening, en hoe sluit dit aan by jou siening oor die “sirkus” en die vervalsing van geskiedenis oor die algemeen?
Ek voel ek kan my hieroor nie op ’n meer genuanseerde wyse uitlaat as wat ek dit in die roman (probeer) doen het nie.
In jou essay “Circus Boers” skryf jy oor jou bewondering vir die toneel in Niggie, waarin Cronjé se oorgawe beskryf word. Jy beskryf dit as “some of the best writing I have ever read” en probeer jou broer laat sien hoe goed dit is, hoe snaaks en hoe hartseer. Buiten Ingrid Winterbach, wie is die ander skrywers na wie jy opkyk, en aan wie se werk jy jou eie skryfwerk meet?
Etienne Leroux is maar nog die ou grote. Ek behandel tans Magersfontein, o Magersfontein! met my tweedejaarstudente en ek is opnuut betower deur hom. Tydens die skryf van Sirkusboere het ek ook baie aan Christoffel Coetzee se Op soek na Generaal Mannetjies Mentz gedink en die werk van ouer, Afrikaanse skrywers soos Neser was vir my ’n verdere bron van inspirasie.
Terwyl ons by die stand van die letterkunde draai: Wat lees jy tans? En broei daar reeds ’n volgende roman in jou kop?
Ek lees op die oomblik die Nederlandse skrywer Arnon Grunberg se jongste roman, Huid en Haar. Soos alles wat hy skryf, is dit briljant. Daar broei inderdaad ’n volgende roman in my kop, maar wie weet: dalk neem dit nóg tien jaar voor ek daarmee klaar is.

