
“Ek speel vijool” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Ek speel vijool
“ek wonder nie meer nie
ek speel vijool ...”
(Marlene van Niekerk)
Skaars twee maande nadat sy met ’n bottel pryswenner-witwyn, geel rose en ’n Carol Boyes-vaas aftree, is Bella weer terug in haar onderwyspos. Bertus, haar man, dink sy is van haar sinne af. Sy besef sy het in die opwinding van al die aandag gesê: “Bel my as ek enigsins kan help ...”
Maar sy is nie spyt nie. Sy dink aan haar ouma wat op 65 dolgelukkig was om soggens die oggend om te kook op haar Dover stove, smiddae ’n middag-tabberd aan te trek en randjies om ’n vadoek te hekel. Self het sy nou al haar kaste reggepak, sy het ’n geskenkbewys vir ’n spadag gebruik en pilates is vir haar effe vervelig. Ouma het haar gesig net met louwarm water afgespoel en veroudering was nie iets wat met serums en sensoriese ervarings gekorrigeer is nie.
Bertus, reeds afgetree, had prentjies van ontbyt by Kirstenbosch en middel-van-die-week-wegbreke in sy kop gehad. Ook nie vir hom die oggendkoerant deurwerk op die tablet en smiddae ’n bietjie skoffel tussen die pinksterrose nie. Hy het darem ook sy stokperdjie: die herstel van bladmusiek vir die konserwatorium met ’n hele laai vol Plastifilm, gaas en fyn messies. Hy verstaan Bella se penarie. Sy het begin skoolhou met lessenaars in rye soos skoenbokse en ’n skryfbord met kryt en aangewarrel tot veelkleurige tafeltjies in rondtes, Google Classroom, die slimbord, Covid-maskers en aanlyn klasse. Dit is sekerlik ’n bietjie van ’n slag om van die sneltrein af te spring.
Bella sien hoe waai die wind. Sy troos. Dis darem net vir ’n kwartaal. Bowenal kan sy ’n kreatiewe skryfkursus aanbied oor vlogging en die variante van Afrikaans in die digkuns. Niks van die vriendskaplike briewe aan familielede waarmee sy destyds begin skoolhou het nie.
Plus: Dis geld vir twee vliegtuigkaartjies Rome toe om vir ’n week hul eie ding te doen. Hul was ’n paar jaar tevore daar. Kostekerwer-toer met twee aande en een dag in Rome. Flou gehardloop om die Vatikaan, Colosseum en die Trevi-fontein te sien. Dit dan Rome.
Kry jy jou visum, beveel sy. Bella besit ’n Italiaanse paspoort. Sy is in Rome gebore, want haar pa, pasgetroud, het ’n beurs gewen om vioollesse by ’n maestro in Orvieto te neem. Twee jaar kon haar ouers daar bly. Dis ook waar sy haar naam gekry het. Orvieto, ’n ou heuwelstad, het glo ’n asemrowende uitsig oor Umbrië en haar ma het daarop aangedring dat die baba Bella-Vista genoem word. Gelukkig is dié mondvol gou afgekort na Bella toe. Haar ma, wat met haar graad in Afrikaans-Nederlands net kon huishou in Orvieto, het seker haar hande te vol gehad met die nuwe baba om nog met so ’n uitlandse naam te sukkel. En ouma Isabelle was heel in haar skik toe sy na die twee jaar se studie “die klein, donkerkop Italianertjie” die eerste keer sien om te veel te skimp oor die nuwerwetse verandering van doopname.
Van Orvieto het haar ouers nooit veel vertel nie, net dat hul ’n uurlange treinreis moes aandurf vir die geboorte in ’n hospitaal in Rome wat nog gesteier het na die oorlogskade. Oor die bevalling self het haar ma net altyd liggies geril en deklameer hoe die nonne by die Vincent Palotti-hospitaal in Kaapstad haar op die hande gedra het toe Bella se boetie sy opwagting drie jaar later gemaak het.
“Dis asof ek die eerste vrou was wat ooit geboorte geskenk het,” het sy met genoegdoening verklaar. So was dit maar altyd vir Bella: ’n hals-oor-kop dramatiese ma en ’n nederige, talentvolle pa. Na die Italiaanse ekspedisie het hy musiek by ’n hoërskool in die Kaap gegee. Doodtevrede om die uitvoerings en konserte vir sy leerlinge te gun. Die verste wat hul as gesin ooit gereis het, was een keer Wildtuin toe. En met sy aftrede kry hy ’n pen met sy naam op gegraveer. Geen laatontbyt by ’n hotel en sjampanje met vrolike kollegas nie. Hy het rustig afgetree tussen die biblioteek, die Bybelstudie en ’n bustoer vir seniors na Namakwaland.
’n Groot reisgogga het egter vir Bertus en Bella gebyt toe hul kinders uit die nes vlieg. Dit is dus met genoegdoening dat Bertus die Rome-ding haarfyn beplan en ’n hele dag vir ’n besoek aan Orvieto inwerk. Treinreis van ’n uur en al.
Hul vertel opgewonde vir haar ma in die versorgingsoord van hul planne. Haar toenemende demensie beteken hul moet met elke besoek van voor af verduidelik. Bella is bly haar pa is hierdie skim van sy eens vibrante vrou gespaar.
Die dag van die Orvieto-besoek is helder; die tandrattrein om by die stad bo-op die berg te kom ’n hele aardigheid. Dis asof die tyd gaan stilstaan het in ’n vorige eeu toe hul uitstap op een van die vele piazzas. Terracotta, keistene en blombakke oral. Hul eet vars broderye by ’n restaurant naby die treinstop. Hoe nader aan die Duomo, hoe meer die euro, het ’n kollega raad gegee.
Ongelukkig is die Duomo bottoe. Net werksmense oral. Hul moet hul maar verwonder aan die buitekant. Oorgenoeg om te sien en soos alles in hierdie land, voel dit vir Bella, sou haar kinders praat van “Instagram-oomblikke”. Neffens die enorme gebou is die Piazza Duomo met ’n lae muurtjie. Hul mik soontoe. En daar: die “bella vista”. ’n Verbysterende mooi uitsig oor die vallei. Heuwels, wingerd, olyfboorde en doer die speelgoedtreinspoor. Dis somer. Oral is veldblomme, lang gras en sowaar ook ’n klomp wilde katte wat laat spaander toe hul hul bene oor die muur swaai. Anders as die paar jongmense wat laer af, by Piazza Marconi se kant, die uitsig ignoreer en eerder kafoefel. “Dis seker Die Laan van ons dae,” lag Bertus en druk vir Bella.
Dis tweeuur en eensklaps is alles toe soos in ’n sprokie. Gaats. Hul het vergeet van die “riposo” of middagslapie. In Rome bestaan dié gewoonte nie in die toeristedele nie. Nou drentel hul maar tussen die huise deur en verlustig hul aan alles wat amper net aan hulle behoort. Tog jammer hul het nie die adres waar haar ouers gebly het nie. Maar toe hul haar ma se goedjies ingepak het, het hul die meeste papiere en flenters weggegooi.
Toe sien Bertus dit: Teatro Mancinelli in Corso Cavour. En die deur is sowaar oop!
“Dalk het jou pa hier gespeel ...” Hul gaan in en verkyk hul aan die voorportaal. Skilderye en beeldhouwerk en afbeeldings van die drie muses wat jou innooi om te kom kyk. Verbruikersvriendelik, want daar is Engelse byskrifte. Om te dink die eerste vertoning was al in 1866.
Agter die toonbank sit ’n ouerige vrou. Sy suig Coke uit ’n blikkie en vis met lang rooi naels Tuc-beskuitjies uit ’n pakkie. Haar selfoon lui. “Pronto!” ’n Kort gesprek en sy peusel weer.
Bella nader haar huiwerig en vertel van haar pa en die vroeë vyftigs. Engels, sien sy, verstaan die vrou. Effe.
“Wait,” beveel sy en verdwyn. Na ’n ruk kom sy terug met ’n verslete boks waarop daar in die kenmerkende Europese skrif 1954 – 1956 geskryf is.
“You look.”
Bella blaai deur vergeelde teaterprogramme. Alles Italiaans. Die meeste lyk soos kamerorkesvertonings, want die name van die kunstenaars wat optree, is maar min.
“Kyk hier!” roep Bertus. ’n Program met uittreksels uit Italiaanse operas. Binne, ’n foto van die orkes. Bella herken dadelik haar blonde pa in die agterste ry. En daar staan dit, tussen al die Italiaanse name: Dewald Joubert. Sy beduie vir die vrou wat kom kyk waaroor hul so opgewonde is. My pa!
“You take. We have copy.”
Die gewone middag lewer ’n skat. Bertus vou dit versigtig in ’n plastiekbuis wat hy altyd in sy rugsak dra vir papieraandenkings.
Tuis in Suid-Afrika, wy hy ure aan die restourasie van die program. Hy kyk fyn na elke moontlike krakie, skeurtjie en bruin kolletjie. Bella spot en sê hy ken nou al die musici op die program asof hul almal familie is. Sy pak reg, druk foto’s uit en draai haar ma se geskenkies toe. Saterdag ry hul Paarl toe vir ’n besoek. Bella is rustig. Dis asof die toer vir haar ’n bevestiging was dat daar lewe buite die klaskamer is. Van nou af gaan sy meer tyd maak om vir haar ma te gaan kuier. Daar waar die hekwag nou na Covid vir hulle maan, “TOUCH the Don’t touch button”. Om af te tree is net om in ’n ander rigting te tree, dink sy.
By haar ma aangekom, is sy bly om hulle te sien. “Hoe was Hermanus?” vra sy.
Bella verduidelik weer mooi van Orvieto en gee die pakkie. Versigtig haal sy die blompapier af en stryk dit plat. ’n Gewoonte wat sy by haar ma geleer het. Die oumense kon die jonges iets leer van herwinning, meen Bertus altyd.
Haar ma lag van vreugde toe sy die serp met rooi papawers, blou koringblomme en pers viooltjies uithaal en oor haar skoot sprei.
“Dis nie al nie, Ma,” sê Bertus. Hy oorhandig die program. Sy vat dit verwonderd aan. Streel daaroor; maak dit oop.
“Aaah, Sergio, Sergio ... Marconi ... Bella vista,” sug sy.
Bertus verbleek sigbaar. Bella dink hy gaan flou word. Hy gryp haar aan die arm.
“Jou ma is af vandag. Kom ons ry. Ek het die program ingeskandeer. Los hierdie maar vir haar ...”
Toe Bella haar kom kry, ry hul deur die hek met die vrolike hekwag. Verstom is sy. Tsk, Bertus. Bertus wat altyd vir haar maan om meer geduldig met haar ma te wees. Bertus wat só lief is vir haar ma, hy sê altyd sy ouma se opmerking van: Al is ’n skoonmoeder hoe gesuiker, sy bly maar suur, is nie op sy skoonma van toepassing nie.
Met die oprit na die N1 plof nog ’n sêding in haar kop. Een van haar pa: “Ek het ’n pennie laat val en ’n Krugerpond opgetel.”
“BERTUS!”
“Los dit,” sê hy en vryf oor haar been.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie


Kommentaar
Ek sien die tonele voor my afspeel. Stunning!