Ek sien twee pole verder uitmekaar uit trek, en in die middel, hier sit ek

  • 0

Ek sit en dink hoe ek my deurmekaar gedagtes kan neerlê vir iets soos LitNet oor 'n onderwerp soos dié. Ek het vir Bok ontmoet en ons het saam met hom opgetree in Stilbaai. Ek hou baie van hom, maar ek kan net nie 'n vatplek kry aan wat hy doen, en aan die storm wat besig is om om hom los te bars nie. Daardie aand het die skare spontaan uitgebars met 'n weergawe van "Die Stem" net na ons show. "Stop julle k*k, dis die nuwe Suid-Afrika!" het die MC oor die mike gebulder voordat die klankman hom afgesny het. Ek het ook so gevoel. Anti-gees.
 
Voor my teen die muur is 'n paar flyers van toere en van "mal, crazy!" gebeurtenisse van 2006. Dan is daar 'n foto van Bob Dylan met sy elektriese kitaar in die tyd toe hy vir al sy folk-fans wat hom as "die bewussyn vir die nasie" aangewys het, 'n vet middelvinger gewys het met 'n "ain't gonna work on Maggie's farm no more" terwyl Robbie Robertson van The Band "mal, crazy!" elektriese solo's laat huil het bo-oor die geboe van die skare. Op 'n foto langs Bob staan Nelson Mandela daar met 'n groot glimlag en sy arms in die lug (met 'n "V for Victory", soos Andy Capastani sou sê).  
 
Laas jaar het ons by Malmesbury se Rockie Fees opgetree. Plattelandse mense geniet ons musiek omdat dit meestal oor die rustige en eenvoudige lewe van die platteland gaan – "dis hemel op die platteland". Ons goeie vriend en bestuurder op daardie stadium was egter nie boer genoeg vir Malmesbury nie. Die twee manne (boere?) in die hoek het my na die show, in die enigste nagklub in Malmesbury, dringend genader met 'n brandtie in die hand. "Jis, ek laaik julle musiek, maar wat maak HY hier?", met 'n knik in die rigting van die bruin man van Rehoboth (met dreads nogal).
 
"O, dis my beste vriend; bliksem, what a ledge," antwoord ek toe, bietjie aspris, alhoewel dit waar is. Ek en my dreaded vriend het gereeld 'n Soweto Pepsi vir 'n skamele R6,50 gaan "libereer" in Happy Rest, die sjebien in Kayamandi. Daar is ek ook beter ontvang as hy, en die manne wou altyd net politiek gesels. So het ek iewers tussen my vier jaar in 'n landbouklas en my uitstappies na swart gemeenskappe besef dat die probleem tweeledig is en dat ek moet veg vir die middelpunt, daar waar twee uiterstes kan ontmoet en kan sê: "Aw, let's braai!"
 
Ek kon nog nooit verstaan hoekom ons so moet veg vir Afrikaans as taal en vir 'n trots vir Afrikaans nie. Ek kan nie verstaan hoekom 'n song soos "De La Rey" nodig is nie en ek kan nie verstaan hoekom mense die ou Suid-Afrikaanse vlag waai as hul dit hoor nie. Al is die bedoeling om vir jou ma te wys jy is lief vir haar, is dit nie goed genoeg nie (in die woorde van my vriend Kaalvoet van Dikazzins: "Dit is nie eers 'n mooi vlag nie, én hy het die Union Jack op.) Ek kon nog nooit verstaan hoekom ons so graag tot iets wil behoort sodat ons ander mense uitsluit nie, en soveel so dat dit selfs kan oorgaan in haat en massamoord (dit was my gedagtes by die genocide museum in Rwanda, met Faithless se woorde in my kop: "Racism is a weapon of mass destruction"). Ek kan nie verstaan hoekom wit en swart op party kampusse nog verkies om apart te bly nie en ek kon nie verstaan hoe iemand in die jaar 2006 na my verwys het as 'n kafferboetie nie, en dit omdat ek ligsinnig opgemerk het dat Wayne Julies 'n legend is. Hoe primitief is dit? Dalk is ek 'n kafferboetie én 'n rassis, tegelykertyd! "Die probleem is net dat ek nie weet wie ek is nie."
 
Ek wonder wat is die kwalifikasies van Boer-wees: Is jy een as jou een ouer Engels is? Is jy 'n boer as jy 'n bruin vriend het? Sal De la Rey jou dan ook kom lei? Is jy 'n Boer as jy eerder wil wit vlag waai as voorlaaier laai (nes De la Rey eers gedoen het)? Ek wil so graag opstaan vir die Boere en vir Boer-wees, want ons is goeie mense, maar ek kan dit net nie altyd doen nie, veral nie in hierdie omstandighede nie.
 
Soos ek met my beperkte kennis verstaan, was De la Rey 'n man van vrede, van dieselfde kaliber as ouens soos Beyers Naudé en daardie brawe manne, maar dit is definitief en ongelukkig nie wat deur die man wat voor in die koor vlae waai by 'n Bok show, se kop gaan as hy sy longe volmaak vir ekstra woema om "soos een man sal ons om jou val" te uiter nie. Dit is ook nie wat deur die man van kleur se kop gaan as hy hoor hoe hy uitgesluit word nie.
 
Sien, "De la Rey" is 'n catchy tune en dit gee mens hoendervleis al stry jy daarteen, en selfs my Ingelse vrinne hou daarvan, maar dit is, volgens my, 'n geldmaak- en bemarkingsfoefie en 'n bitter onverantwoordelike een daarby. Dit is baie geforseerd. Selfs die manier waarop die betrokke partye die moeilike vrae beantwoord, is bietjie puppet-agtig. Ek kan nie help om te wonder hoekom Eden dit nie sing met meisies in die agtergrond van die video nie – hulle het dan after all die song geskryf eendag toe hulle besef het dat ons trots moet wees op Afrikaans en waar ons vandaan kom. Verder is dit presies wat mense wil hoor, en dus 'n wenresep vir verkope. Dan, as ons nou ná die song se tweede refrein weet waar ons vandaan kom, waarheen gaan ons nou? Of vat ons maar net nog 'n teug brandewyn voor ons asem skep vir die laaste refrein?
 
Ek dink óók ons kort 'n leier soos De la Rey, nie die Boere eksklusief nie, maar die land. Ek weet óók dat misdaad net belaglik is. Maar iewers moet iemand besluit om die haat te absorbeer, en soos Nelson Mandela vrede kies, anders waar gaan dit ophou? Ek dink net nie die manier hoe Bok met "De la Rey" omgaan, enigsins positief bydra tot vooruitgang in hierdie land nie. Ons plig as musikante, digters en kunstenaars is om, soos Bob Dylan, vir mense te laat hoor wat ons te sê het, en nie om vir die malende massas te sê wat hulle wil hoor nie. Verder het musikante nog altyd ’n impak op my gemaak as dit wat hulle te sê het, almal insluit, en nie net 'n klein eksklusiewe groepie wat moet uitbeur bo die res nie. "De La Rey" laat mense dink wat in elk geval sou gedink het, en dit sweep mense op wat nie regtig daaroor dink nie, en dit is 'n stap in die verkeerde rigting en dit maak my baie ongemaklik. 
Musicians are artists, they document our culture, cause us to think, provoke us (sometimes) and introduce us to new ideas. And the good ones are philosophers. – Robin Sharma
 
Me only have one ambition, y'know. I only have one thing I really like to see happen. I like to see mankind live together – black, white, Chinese, everyone – that's all. – Bob Marley
 
Ek is verseker ons almal kan saamleef in Afrika, maar ons sal moet besef dit is nou in ons hande om dit waar te maak … – Die Helde, "Reënboognasie" 
Now that’s what I'm talking about!

 

 

<< Terug na die miniseminaar oor "De la Rey" <<

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top