
Helen Cook en Deborah Steinmair (fotograaf: Elthea Schlesinger)
Deur my lewe was daar ’n galery van vroue wat my sterk gemaak het, wat my gewys het ek hoef nie ’n poppie te wees nie. Een van hulle, toe ek baie jonk was, was Helen Cook. Sy het in haar sewentigs uit die VSA gekom om by haar seun te kom aftree. Hy was ’n sielkundige en teoloog wat ’n sendingstasie in Hillbrow bestuur het, die hawe vir haweloses waar ek gewerk het. Helen se seun Stuart het nooit geld bymekaargemaak nie, net mense. Hy het alles wat hy het in sy sendingwerk gestort. En hier arriveer Helen, welgesteld. En stop gate toe, sonder omhaal.
Sy het besighede gehad en ’n gebou besit in Casper, Wyoming. Sy het my vertel (ons het graag gekuier) dat sy met ’n kort man met ’n groot neus getroud was. ’n Man van min woorde, maar kind, het sy gesê. Hy was ’n motorwerktuigkundige en is later gevra om ’n werkswinkel te bestuur, maar het nie kans gesien vir die verantwoordelikheid nie. Hy het gerook en is redelik vroeg oorlede. Toe het Helen met haar sakebrein uitgespring en ’n klein ryk gebou.
In die vervalle ou gebou waarin ons almal gewoon het, was haar woonstel ’n oase. Dit was kunstig en kleurvol, goed toegerus. Sy was ’n onversadigbare boekwurm. Sy het in alles op aarde belanggestel en oor alles geweet. Sy het nooit gekla oor ouderdom of skete nie. Dit het gevoel asof sy my ouderdom was, net ongelooflik wys. Sy het ’n kurkdroë humorsin gehad en ’n diep, sardoniese stem. Daar was daardie lekker androginiteit omtrent haar wat sekere ouer vroue het wat hulle nie gesteur het aan hormoonvervanging nie, wat tuis is in hul lyf. Hulle is moerig en kort van draad met swape en besit steeds ’n orgaan vir verwondering.
Ek het net een foto van haar. Ons staan in ’n deuropening in die tagtigs. Ek lyk beskimmeld soos immer in my jeug, effens koponderstebo in my charity shop-rok. Sy leun op haar staf en glimlag breed, vol selfvertroue en lewenslus.
Ek onthou haar stem, maar met tyd vervaag iemand se woorde en bewegings. Daarom was dit louter vreugde om haar in ’n roman raak te loop. Of dan, iemand wat presies soos sy is. In Alison Dye se The Sense of Things is een karakter, Jesus Perez, effens outisties. Sy ouers was druggies en hy is grootgemaak deur sy ouma, Lydia Enwright, wat in haar jeug ’n suffragette was. Hier is die verteller, Joan Marie Pardee, se beskrywing van Lydia. Joan is self redelik ver op die spektrum:
A woman is moving slowly towards me. As if in a dream. Slightly bent, she walks carefully. Placing a rubber-tipped mahogany cane firmly ahead of her right foot while the left glides to a rest beside it. She is taking each step this way: right foot, cane, left foot, cane, left foot, rest. What must be long hair, perfectly straight, auburn with highlights of blonde, is piled on her head and neatly pinned. She wears thick glasses with sturdy gold rims. Cloudy lenses. Her eyes are perfectly blue, but look giant behind the glasses. She has had cataracts … She halts just in front of me. The cane is securely fixed to the floor. Lifting her face almost imperceptibly towards mine, she soaks me into the blue pools behind the glasses. She has radiant, supple skin which has defined the allotted time. She is wearing a creamy silk blouse with pearl buttons down the front and on the sleeves. And a long skirt into which the blouse is loosely tucked. Black and burgundy print from India. Sandals.
Jesus het sy oog op Joan Marie en het haar kom voorstel aan sy ouma. Joan is angstig en raak paniekerig in sosiale situasies. Lydia Enwright probeer die jong vrou op haar gemak stel: “Do you like sherry, Joan? I find it cures most social difficulties.” Dan noem sy ander opsies ook: “Whiskey, bourbon?” En Joan antwoord: “I’ll have the one for social problems, please.” Lydia antwoord: “Ah, sherry. You have fine taste. Meaning my own, of course. I like anyone who agrees with me.”
...........
En daar het jy vir Helen in ’n neutedop. Reguit, uitgesproke, vol opinies maar ook hipersensitief en bedagsaam, ingestel op ander. Subtiel-wys. Onsentimenteel, amper bruusk, maar met ’n wêreld se begrip in haar oë agter dik brilglase.
...........
En daar het jy vir Helen in ’n neutedop. Reguit, uitgesproke, vol opinies maar ook hipersensitief en bedagsaam, ingestel op ander. Subtiel-wys. Onsentimenteel, amper bruusk, maar met ’n wêreld se begrip in haar oë agter dik brilglase.
Ek kan hierdie boek nie hoog genoeg aanbeveel nie – die skrywer se dapperheid, of is dit domastrantheid, om ’n vrou heeltemal ontdaan van selfinsig haar eie storie te laat vertel. Ek lees dit weer en weer, want dit resoneer.
Soos Helen geresoneer het. Daar is vriendskappe, heeltemal buite geslag, ouderdom, selfs spesie, wat ’n geval van liefde by die eerste aanblik is. “Kindred spirits,” het Anne of Green Gables dit genoem.
............
Daar is vriendskappe, heeltemal buite geslag, ouderdom, selfs spesie, wat ’n geval van liefde by die eerste aanblik is. “Kindred spirits,” het Anne of Green Gables dit genoem.
...............
Later het ek baie negatiewe dinge omtrent Amerika agtergekom, maar Helen Cook was die toonbeeld van daardie klein, suiwer restant van edel Amerikaanse vroue: onverskrokke pioniers, vlymskerp, eerlik en sonder bedrog, van humor en wysheid aanmekaargesit, en ’n lekker skoot korrelkoppigheid. Vroue soos Laura Ingalls, Louisa May Alcott, Lucy Maud Montgomery, Patti Smith en Laurie Anderson.
William Butler Yeats het geskryf:
When you are old and grey and full of sleep,
And nodding by the fire, take down this book,
And slowly read, and dream of the soft look
Your eyes had once, and of their shadows deep;
How many loved your moments of glad grace,
And loved your beauty with love false or true,
But one man loved the pilgrim soul in you,
And loved the sorrows of your changing face.
Ek neem hierdie boek The Sense of Things telkens op om te onthou hoe Helen was. Dit voel elke keer asof ek weer by haar gaan kuier in haar sonnige woonstel in die skilderagtig-vervalle ou gebou op die lawaaierige Louis Bothalaan. Ek vermoed ek was soos Joan Marie, redelik ver op die Aspergerspektrum, angstig en op soek na duidelikheid. Ek wou gewys word hoe om te wees, nie vertel word nie. Helen se robuuste, sarkastiese takt (as so iets moontlik is) het my laat ontspan. I remember you well, Helen.


Kommentaar
Beautifully written. We all have books like that. The one book you'd take to the desert island. Mine is an old paperback, falling apart, much read. Long out of print.
Op Helen se sherryskool. Ek kan haar sien. Mooi.
Ah i remember you well too .. die skitterede bastion van Aleithia, so bes verwoord, DeVoraH. Ek onthou ook die groot en wonderlike Amerikaanse kwilt teen haar muur! xxx
Ja, die monumentale kwilt. En jy, Elthea. En Jerry Pat Allen se droewige bekfuitjie in die donker trapskag.
Dankie, Deborah. Sal die boek beslis moet lees na jou treffende beskrywing. 'n Mens voel eintlik hartseer dat jy haar nie self kon ken nie.
Bekfluitjie, bedoel ek.
Ja, bekfuitjie klink nogal seer, maar darem nie soos harp- en sitertone nie. x
Lieflike erkenning aan 'n besondere verhouding en mens, onmiddelik uit jou skrywe.
Ek wens ek het hierdie woorde self uitgedink.
'n Kort rubriek propvol menslike lekkerte. Ek voel altyd 'n sterk aangetrokkenheid tot die Helens en Lydias wat soms oor my pad kom.
"Ek wou gewys word hoe om te wees, nie vertel word nie". A truth that should be universally acknowledged. So mooi geskryf.
Ek het my nou verlustig in Deborah se beskrywing. Ek het niemand om sulke heerlikheid mee te deel nie, maar baie dankie dat ek dit kon lees en selfs beleef.
Baie dankie, Deborah, na die lees van jou treffende eerbetoon en onthou van Helen Cook, het jy ’n dankbare gevoel van blydskap vir sulke mense in my betref. Hoe goed en hoe mooi is dit nie om so oor ’n medemens te getuig nie!