Skryfkompetisie: "Ek Jane, jy Grysbaard"

  • 0

Twee wysvingers raak byna. Die haarlose wit een bewe effens, die harige swart een verken dié indringer in sy koninkryk.

Ek Jane, jy Grysbaard, dink die jong vrou in die kakiekortbroek en safarihemp, haar blonde hare in ’n poniestert vasgevang. Ek hoop ons kan vriende wees.

Dis moeilik om die donker oë te peil (prosopagnosia is ’n pes), maar sy oortuig haarself sy sien geamuseerde belangstelling terwyl ’n lang hand haar hemp oplig en onder inloer.

Jy's nuuskierig oor my. Ek brand om alles oor jou te leer, vriend. Kom ons help mekaar, toe?

"Watse twak is dié naamgeëry van jou? Jy nommer hulle. ’n Wetenskaplike behou ’n wetenskaplike afstand. Gee ’n dier ’n naam, en jy raak persoonlik betrokke. Probeer nou ’n hoender of ’n kalkoen met ’n naam vir die Kersmaal te slag …"

“Jubilee."

"Wat?"

"Jubilee. My heel eerste sjimpansee se naam was Jubilee."

"Waar het jy ’n sjimpansee gekry?"

"By my pa. As kind. ’n Opgestopte speelding in plaas van ’n teddiebeer, domkop. Sy naam was Jubilee.”

"En nou's dit skielik David en Flo en Goliath en Mike. Pasop, Jane, dis rêrig nie mense nie.”

"Jy het geen idee hoe klein die verskil is nie. Ons en hul gene verskil met minder as een persent. Tog kyk ons heel arrogant die 99 persent se eendersheid mis en staar ons blind teen daardie een persent wat anders is. David Greybeard is ’n uitvinder.”

"’n Uitvinder! Toe, trek my ander been.”

"Hy's mal oor termiete. Njam! Maar hoe kry hy hulle uit die nes?”

"Breek die nes oop.”

"Nee, dan skarrel die termiete weg, en hy kan hulle nie een-een vang nie. Hy steek eerder ’n grasspriet in die nes, wag tot dit vol termiete is, trek dit uit, en lek die lekkerny af. Slim, né? Hy los die res vir later.”

"Ek brand om te hoor wat jy hulle nog gaan noem."

Jane Goodall 2

Berekenende moordenaars – jagters van stompape. Krygers wat die aangrensende Kahama-sjimpansees in ’n oorlog van vier jaar byna uitwis. Dit is wat Jane Goodall die Kasakela-sjimpansees ook noem. Aap hulle ons na, of is moord en doodslag bloot deel van ons en hul gene?

Ek wonder hoe dit voel om die enigste mens te wees wat ooit deur ’n groep sjimpansees as volle lid van hul bakleiende, liefderyke, selfversorgende, vindingryke familie aanvaar te word, al was sy op hul heel laagste statusrang? Veel bevredigender, sê ek vir myself, as enige eerbewys deur ’n universiteit, organisasie of regering.

Jy Jane, ek grysbaard-bewonderaar.

Ek vrees egter ons naaste nefies en niggies sal ondanks jou vroumoedige pogings net van die kospotte, die afkap van hul bome en algemene agteruitgang van hul woonwêreld gered word as ons, die haarlose ape, ywerige slagters van alles wat leef en beef, onsself eers as spesie uitwis.

Maar ten minste probeer jy, en daarvoor sou ek graag my wysvinger uitsteek om aan joune te raak.

Skryf hier in:

Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top