Ek het vandag weer vye geëet.
Soet-vars van ’n geil groen boom
Wat hemel- en sywaarts uitreik.
Ek het vandag weer vye geëet.
By ’n opstal-murasie van ’n vreemde plaas
’n Nêrens tussen êrens en êrens.
Die boom het my in die verbyry geroep
Uitspattig groen teen die grou mure van vergeet.
Ek het vandag weer vye geëet.
Ek het stadig ingedraai op die hobbelpad
Tot teen die boom gery, stram-stram uitgestrek.
Ek het vandag weer vye geëet.
My hande het tussen die harde blare gewoel
Sagte vye, die vel al amper geel,
Verwonderd gepluk,
Die vrugsteel gedraai tot dit wit drup.
Versigtig die velletjie afgeskilfer,
Stadigversigtig.
En skielik, ’n leeftyd later, aan jou gedink.
Terwyl my tong dorstig die soet indrink.
Ek het vandag weer vye geëet, vars soos die veld.
Nie winkelvye wat dae lank op rakke lê en kreukel
Of ingelegde vye deur gemmer en suiker verskans.
Ek het vandag weer vars vye geëet.
My in die smaak en onthou van destyds verkneukel
Teenmekaar. Deurmekaargevleg. Onbeskans.
Jou asem het branders oor my kop gebreek,
Jou vingers sandkastele oor my blaaie gehark.
Stadigversigtig het ek jou vlees verken,
Jou middelpunt gesoek.
Verwonderd het ek in jou smaak verdrink
My kop op die smulbord van jou dye
Tot jou bekken my lippe stuwend kneus
Ek het vandag weer vye geëet.
Na jare en jare ophou vergeet,
Nostalgies gewonder;
Dink jy soms aan ons muskussweet?


