Ek geniet metamorfose in my truspieël

  • 0

Foto: Canva

Ek geniet metamorfose in my truspieël

Skuins na sewe ry ek werk toe. By die eerste rooi verkeerslig kyk ek in my truspieël. Sy sit agter die stuurwiel van haar wit kar, ’n jong dame. Sy lyk nie mooi nie. My pa het die manier gehad om nooit te sê ’n vrou is lelik nie. “Nee,” sou hy keer, “sy het ’n goeie gesig.” My pa, die ou boerediplomaat.

Dié vrou het ook ’n goeie gesig, sonder potensiaal vir verbetering.

Voor die lig groen raak, sit sy onderlaag aan. By die volgende verkeerslig loer ek weer agtertoe. Sy poeier haar haar wange en verf blosser aan. Voor die derde robot wend sy versigtig blou oogskadu aan. Ons moet weer aanbeweeg. Haar oë se balans is uit. Amper soos ’n minibustaxi met ’n gebuigde onderstel wat ry soos ’n krap wat loop. Nou goed, maar darem nie só erg nie. By die volgende stopplek is die ander oogbank aan die beurt. Haar oë is in perfekte balans. Pas voor ons wegtrek, kyk ek met toenemende nuuskierigheid in die spieël. Sy omlyn haar onderooglid swart.

Diep in Newton Park moet ons weer stilhou. Ek kyk tru. Wanneer sy haar lippe met sagte pienk bestryk, lyk haar mond voller, soenbaar. Wat ’n verrassende verskil! Sy lyk perfek afgerond en pragtig, ’n totaal ander wese as die vaal, verlepte Eva toe sy die eerste keer in my spieël kom kuier het.

Toe draai sy af. Ek wonder wie die rit die meeste geniet het, ek of sy.

Ek kan nie help om elke oggend uit te kyk vir die dame-met-die-goeie-gesig nie. Menige oggend ry sy weer agter my werk toe. Ek geniet die metamorfose en ons twee bou ’n verhouding waarvan sy salig onbewus is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top