“Ek beskou myself as bevoorreg en werk soos ’n malle elke dag”: ’n onderhoud met Nataniël

  • 0

“Inspirasie is die minste van my probleme. Ek het miljoene temas, idees en projekte wat soos bakterieë in my broei.”

Inspirasie is die een ding waarvan hy oorgenoeg het, sê Nataniël. Dit is eerder tyd wat die probleem is. Daar is hopeloos te min tyd vir alles wat hy nóg wil aanpak.

Die veelsydige Nataniël is juis eersdaags weer op die verhoog te sien by Aardklop in Classic Nataniël, ’n musiekvertoning met ’n paar van sy kenmerkende Afrikaanse staaltjies.

Nataniël gesels met Marli van Eeden oor Classic Nataniël, sy hoogtepunte en lewenslesse, en sy mening oor die toekoms van Afrikaans, wat volgens hom die “mees holruggeryde onderwerp op aarde” is. “Solank dit gepraat word, is alles reg.”

Nataniël, jy is vanjaar by Aardklop te sien. Vertel ons meer oor Classic Nataniël.

Dit is ’n versameling uit die musiek wat my lewe, opvoeding en loopbaan gevorm het, van die ernstige klassieke musiek wat ek studeer het tot dit waarmee ek nou my loopbaan voer. Ek het ’n classic gekies uit alle genres, van klassiek tot gewyd, tot pop, jazz, soul, blues, gospel en wêreldmusiek. Elke lied verteenwoordig ’n tyd in my lewe; dis die mooiste musiek wat ek ken en ek voer dit uit met die beste musikante wat ek ken.

Hoe het jy met die idee van Classic Nataniël vorendag gekom?

Dit was die pianis Charl du Plessis se idee. Omdat ek al meer as 31 jaar op die verhoog is, en voor dit as pianis en orrelis gewerk het, kan ’n mens nou so iets aanpak. Hy wou dit al jare terug aanbied; ek was net te lui om al die woorde te leer.

Waar kry jy jou inspirasie vir dit wat jy alles aanpak?

Inspirasie is die minste van my probleme. Ek het miljoene temas, idees en projekte wat soos bakterieë in my broei. Daar is min tyd, min teaters in perfekte toestand; alles word duurder, maar die publiek kla oor kaartjies te duur is, terwyl dit belaglik goedkoop in Suid-Afrika is; paaie is onveilig en sekuriteit is twyfelagtig, so dis nie altyd maklik om alles wat in my kop is, te laat vergestalt nie. Maar ek beskou myself as bevoorreg en werk soos ’n malle elke dag.

Jy leef jouself graag uit in Afrikaans. Wat is jou mening oor die debat rondom die toekoms van Afrikaans?

Die toekoms van Afrikaans is die mees holruggeryde onderwerp op aarde. Ek vermoed dit interesseer net dié wat wil koning kraai in akademiese kringe of debatte wil oorheers – ek stel glad nie daarin belang nie. Solank dit gepraat word, is alles reg. Diegene wat dit nog wil bly afdwing waar dit nie hoort nie, moet eerstens gaan kyk na die persentasies van mense en kulture in die land en daarna hulle koppe laat lees.

Wat is jou mening oor kunstefeeste? Dink jy dit speel ’n belangrike rol in die bevordering van die kunste in Suid-Afrika?

Dit speel ’n rol vir diegene wat andersins nie gereeld op die verhoog sou wees nie en dié wat dit andersins nie te sien sou kry nie. Dit het dus baie gedoen op ’n tyd toe teater redelik dood was. Dit het egter ook net soveel skade berokken aan teaterkultuur en etiket – halfgebakte lokale en swakgeklede gehore is nie my ding nie. Maar die feeste is daar en elkeen moet dit benut of vermy volgens sy smaak, omstandighede of keuse.

Wat is sommige van die hoogtepunte van jou loopbaan en sommige van die belangrikste lewenslesse wat jy al oor die jare geleer het?

Waarmee ek ook al tans besig is, is my hoogtepunt. Ek is mal van vrees, obsessief oor detail, naar van spanning, smagtend na aanvaarding, neuroties oor my geheue en doodbenoud iemand sien ’n kostuum vir ’n tweede keer. Hierdie hele hel vind plaas elke aand voor ek op ’n verhoog stap. Ek self is my ergste en enigste kritikus en weet wat reg is vir my, niemand anders nie, dit het ek geleer en dit is wat ek vertrou. Ek weet ook as ek op my eie werk is ek die beste, so "collaborations" is uit. En ek moet geniet wat ek doen; ek sal onmiddellik ophou die oomblik as ek begin twyfel.

Wat hou die toekoms vir jou in; watter projekte het jy in die pyplyn?

Daar is ’n heerlike Kersfeesproduksie, Messenger, wat in November open. Daar is twee boeke op pad. Ek het heelwat nuwe produkte wat teen die einde van die jaar verskyn en ’n paar opwindende, spesiale (tematiese) konserte wat in 2019 wag. Verder toer ek nonstop soos Wena Naudé.


 

Sedert 1987 het Nataniël al 19 CD’s bekendgestel, 19 boeke gepubliseer en meer as 80 oorspronklike produksies op die planke gebring. Oor die afgelope dekade vestig hy homself as sanger, liedjieskrywer, storieverteller, regisseur, ontwerper en openbare spreker. Nataniël het sy eie produksiemaatskappy, Nataniël House Of Music; hy is die stigter van die Kaalkop-leefstylreeks en bedryf ook sy eie liefdadigheidsprojek, The Nataniël Progress Project.

Die geselskap van Classic Nataniël bestaan uit Nataniël, Charl du Plessis (klavier), Juan Oosthuizen (kitaar), Werner Spies (bas), Peter Auret (tromme), Leonie Greyling (viool), Daline Wilson (viool), Kate Moore (altviool) en Susan Mouton (tjello).

Classic Nataniël is op 2 Oktober by Aardklop te sien. Die eerste vertoning vind om 17:00 plaas en die tweede vertoning om 20:00. Vir meer inligting besoek Aardklop se webtuiste by www.aardklop.co.za. Aardklop vind 2–7 Oktober plaas.

Foto's: Lorinda van den Berg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top