Eisteddfod-pret: ’n resensie

  • 1

Eisteddfod-pret: Gedigte, monoloë en samesprake vir die laerskool
Samestellers: Gloudine Kellerman en Jonelle du Toit

Illustrasies: Maja Sereda
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798175982

Eisteddfod-pret is gebore uit ’n noodkreet van ouers, opvoeders en kinders wat ’n liefde het vir en betrokke is by eisteddfods. Meestal is dit ’n allerverskriklike soektog na nuwe, vars materiaal. Dié boek, die enigste in sy soort vir laerskoolleerders in Afrikaans, uitgegee deur Human & Rousseau, is ’n welkome toevoeging tot die literatuur en ’n enorme hulpbron vir menige ouer, kind en opvoeder.

Die bundel bestaan uit oorspronklike, ongepubliseerde werke van die Fynbosskrywers en bevat 108 gedigte, 24 monoloë en 20 samesprake wat geskik is vir laerskoolleerders. ’n Welkome hulp is die inleiding deur Louise Lachenicht wat afrigters, onderwysers en ouers wenke gee vir hoe om die deelnemer se volle potensiaal te ontwikkel. Die samestellers het hul goed van hul taak gekwyt en het baie ondervinding wat hul in die regte rigting gestuur het. Die gedigte is lekker vars, jonk, stimulerend en vermaaklik. Jonelle met haar MA-graad in Drama, rigting kinderteater, het verskeie kinderteaterproduksies geskryf en opgevoer. Gloudine was ’n onderwyser en eisteddfod-sameroeper. As deel van die Fynbosskrywers-groep het haar stories en gedigte al in verskeie publikasies verskyn.

Eisteddfods dateer terug na die 12de eeu, waar ’n musiek- en gedigtefees in die Walliese kultuur gehou is. Die woord beteken “sessie” en dien as beskrywing vir uitvoerende kunste-kompetisies. Die eerste aangetekende eisteddfod het in 1176 by die Cardigan Castle onder toesig van Lord Rhys plaasgevind. Hier het uitgenooide digters en musikante opgetree en die beste een is beloon met ’n sitplek aan tafel by Lord Rhys self.

Die gebruik is deur die eeue voortgesit en kinders trek voordeel deur ’n wye spektrum aktiwiteite wat geletterdheid en gesyferdheid ontwikkel. Hier is die Nasionale Eisteddfod van Suid-Afrika die gekose platform om geleentheid te bied aan jong kunstenaars om hul talent te deel, hetsy in musiek, dans, teater of beeldende kunste. Dis ’n ideale manier om selfvertroue onder jongmense op te bou. Pretoria Eisteddfod is die grootste in SA en is in 1923 gestig. Jaarliks neem daar meer as 1 000 skole en organisasies deel, dus is dit ’n enorme platform om deelnemers se liefde en kultivering vir die kunste aan te moedig.

Volgens Marlene Fraser, onderwyseres en eisteddfod-sameroeper by Laerskool Bredasdorp, is Eisteddfod-pret ’n absolute plesier vir ’n juffrou om deur te blaai en aan te skaf. “Soveel arme opvoeders word by skole nadergetrek om leerders vir die eisteddfod af te rig, sonder dat hul enige opleiding ontvang het of selfs ooit daaraan deelgeneem het. Die inhoudsopgawe verlig al klaar so ’n juffrou se stres, want sommer met die oopmaak, kan jy sien dat jy in hierdie boek hulp gaan kry.” Sy sê Eisteddfod-pret is gebruikersvriendelik en verskaf stap vir stap leiding vir die leek en ook vir die meer ervare afrigter. Die gedigte is van kort na lank gerangskik en is modern en van pas vir die hedendaagse kind. “Vir die eerste keer weet ek ook van vertolkingstekens, metrum en infleksies. Hierdie jaar gaan ek beslis nie vir dae op die internet rondsoek vir gepaste materiaal vir ons eisteddfod-deelnemers nie. Ek sal dit beslis aanbeveel vir elke afrigter en nuwe leerkrag – sommer ook net vir gebruik in haar klas tydens mondelinge en wanneer sy self lewendige vertellings in haar klas moet lewer. Ek wens die samestellers geluk met ’n besondere boek en uitstekende hulpmiddel. Dit behoort deel te vorm van elke juffrou se boekrak!”

Jana Marais, Graad 6-leerder by Laerskool Bredasdorp, sê sy hou veral van die groot verskeidenheid gedigte – gedigte wat sy nie in ander boeke kon opspoor nie. “Dis ’n boek wat my nog baie gaan help. Dis lekker om ’n keuse van samesprake en monoloë in een boek te hê. Die boek gee riglyne hoe om voor te berei, dus spaar dit tyd. Ek sal beslis Eisteddfod-pret vir alle laerskoolleerders aanbeveel.”

Wynand Wessels, ook ’n Graad 6-leerder by Laerskool Bredasdorp, stem saam dat dit ’n verbruikersvriendelike boek is en baie oulike gedigte bevat om eisteddfods en skoolwerk te vergemaklik. “Dis ’n boek wat laerskoolkinders gerus in die huis kan hê.”

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top