Eet my woorde: Inskrywings (8)

  • 0

Foto: Unsplash

Hier is die agtste groep inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Eet my woorde" ontvang is.

Let wel: Hierdie kompetisie het op 21 Januarie 2022 gesluit.

Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
Klik hier om nog inskrywings te lees.

..........

Inskrywings word chronologies geplaas in die volgorde waarin LitNet dit ontvang het.

Die volgende mense se inskrywings verskyn op hierdie blad:

Gezania de Jongh Demi Erasmus Bianca Gouws Drikus Pretorius
Amanda de Witt Elizabeth Kendall Chantell Groenewald Marléne Swartz
Gabriël Plaatjies Antoinette du Bruyn Riette Hugo Estelle Rubow
Danette Sevenster Tian Cronje Morné du Preez Kobie van Rensburg
Elmarie Greyling Floris van Zyl Anushka Joubert Ann-Marié Lindeque
Joan Rosenberg Schönrad Jordaan Emmerensia Coetzee Desmond Gird
Elyna Wasserman Stewie Theron Jeanette E Dykstra Odette Karsten
Mientje Afrika Ansie Nel Therèsa Ross Ansie de Beer
Danielle Leonhardt Surina Jansen Carina Combrink Anneke Maurer
Katé Möller Marga Botha Claudia Nel Vanessa Carelse

Gezania de Jongh

Hongersnood

as die alewige honger
jou rypdruk
soos die bruin lewelose vlekke
van ’n oorryp kaalgatperske

dis dan wat jy
die mes van waarheid
subtiel vlymskerp slyp
om daardie teerheid
bewusteloos, genadeloos
stukkie vir stukkie te ontbloot

die nostalgie
dat jy lankal
jou pruilende lippe rondom
die naaktheid moes omvou
die keuse
dat jy die ashoop
jou rou wanhoop
ewig toevertrou

maar as jy mooi kyk
sien jy nog die goudgeel vlees
wat vasklou om die verrimpelde binne-pit
vir ’n oomblik
huiwer jou tong
druppend, tydsaam
suigend aan die soet nektar
vir oulaas se onthou

 

 

Demi Erasmus

Op soek

Die gekraak van bottels
Gekrap van karton
Op soek
Op soek na iets
Om die leemte te vul

Ja, hy is honger
Maar dit is soveel meer as net dit
Op soek na hoop
Op soek na iets om vandag meer draaglik te maak
Op soek na iets
Om sy leemte te vul

Maar daar is niks
Sleepvoet stap hy na die volgende sypaadjie
die volgende swart baken van hoop
Om daar verder te krap
Om daar te soek na iets
Om sy leemte te vul

Soekende oë staar na myne
’n Hopelose staar
Op soek na genoeg rede om aan te hou soek
Na iets om sy leemte te vul

Maar soos die dag homself ruil vir die nag
Stap hy terug
Terug na sy wêreld
Sy wêreld sonder hoop
En met ’n leemte binne hom
Sal hy môre opstaan steeds op soek

 

 

Bianca Gouws

Verslind

Werk my keelgat toe met jou woorde
Verstik aan ou liefde
En kots ons uit

Laat my leë ribbes jou houe vat
My longe brand van jou aanraking
En my maag krimp met jou reuk

Vertel my om net te eet
"Wat is so moeilik daaraan?"

Wurg jou vrede af in my keel
Besmeer my mond met jou beloftes
En knip my tong af vir terugspoeg

 

 

Drikus Pretorius

Wat gemaak met kaste

Wat gemaak met kaste vol, wat gemaak met kaste leeg,
’n besem kan nie eers die uiterste wegveeg,
met borde en messe en vurke gaan dit maar dol,
hoe maak jy as jy mors en daar sit ’n kol?

Dis dinge soos eet en dit geniet, soms is dit verniet,
eintlik word dit nie uit bome uit gegiet,
jy kan dalk jou vleis loop en skiet,
maar wie gee jou die reg om dit te verbied?

’n Honger magie hier, ’n vol magie daar,
sal die mense hulle juis aan die verskil skaar,
eet jy groente rou of eet jy dit gaar,
dis eintlik die vraag van waarheen gaan die skip vaar?

Vervoer mens in jou kar net koeke, of sakke vol inkopies,
daar is seker ’n doel as hulle net drink hul sopies,
wat nie eintlik kos is vind mens net in boeke,
is daar altyd iets te nuttig of is dit iets te soeke?

So wonder ek maar oor die hele lewe,
soms laat dit ’n traan nader bewe of ’n voël swewe,
die honger, die eet, en die kos,
sal ons wel vir iemand anders ’n stukkie los?

 

 

Amanda de Witt

Roosmaryn

Kos is mos liefde
En liefde is mos kos
Soos die leë verlange wat net ’n lintwurm kan los
Koekblikke vol tuisgebak wat ruik soos seks en moederliefde
Verwarrend. Maar almal verstaan.

Stop jou mond vol. Propvol. Wurg dit af.
Wíl dit af na die gat waar jou hart moet wees
Maar iewers in die soeke na liefde
Weg weg weggeraak het
tussen verwronge sielsoekers
wat jou soos ’n appel skil met roekelose onverskilligheid

Miskien help hierdie happie vir die leemte
Dalk is hierdie slukkie die olie op die troebel seer
Ek dobbel met dopamien en kalorieë
Smul my dik aan ons verlede
En nou verstik ek aan jou gal en droom maar van
Toe jy nog versiersuiker op my lippe was
Jou soene my moerbei-lippe gekneus het
Toe ek nog die enigste ding was wat jou versugtinge kon blus
Al kon jy my nie insluk nie

Nog kos, nog, en nog, en nóg,
’n Smorgasbord van smartverdrukkers
Kortstondige ontploffings van genot in my mond
Bevrediging tussendeur die trane en geknakte trots
tot ek terstond besef
Jy kan nie die roos van die maryn skei nie
Of my aptyt en lus vir jou wegbaklei nie
Jou woorde weerklink soos hongerpyne
In die rou holtes van my ingewande
En tog soek ek nog.

Wie’t geweet niks is ook ’n ding wat jou kan volmaak nie?

Die niks loop by my holtes uit soos marinade
Spoel stroperig en klotsend om my brein
Poel dik in my keel
Loop paadjies by die hoeke van my oë uit
Herinner my jy hou van kreef en marjolein
Uit my vingerpunte drup dit plof plif plof in die stof tussen ons
Vul die bodemlose put tussen my ribbekas en verstand
Stoot op en op en op

Ek druk my vinger in my keel en smeek jou uit
Oor en oor
Tot my oë saam met jou wil uitval
Totdat ek en my longe op die badkamervloer lê
En ek wonder wat gaan ons nou weer eet

 

 

Elizabeth Kendall

Kos is oppie tafel

Jy maak vir ons bobotie in ons groen kombuis
met kerrie, amandels en peper
suurlemoensap hang nat druppels
aan jou vingerpunte

goeie, gawe geure kuier en klou
hier waar ek sit en versies skryf –
ek sien weer my ma op haar agterstoep staan
blou voorskoot aan langs die krismisrose
tafel gedek
al drie haar kinders op hul plek
roep sy ons pa om te kom eet

Toe ek aan tafel sit langs jou
vou ek my gisters vredig op
verwonderd oor die geel kombers
op die heerlike dis –

dís mos wat liefhê is

 

 

Chantell Groenewald

Gif

Glinsterende glans van suikerstroop oor jou
Kraakvars soos my lippe en tong jou omvou,
Geen selfbedwang,
Geen weerhou
in jou strik gevang
’n oomblik verlore in jou –

GIF vir my gemoed
GIF vir my
UIT IS JY!

Genoeg.
Verlate.
Alleen.

’n oomblik se smag
... dae se ween ...

Genoeg.
Verlate.
Vervreem.

 

 

Marléne Swartz

’n Ma se seer

As die honger jou vat,
En ’n vuur jou van binne af verteer ...
Wanneer jou kop nie meer kan reg dink nie,
En jy nie meer weet hoe om nog ’n dag vir jou kind te sê, daar is niks nie.

Met trane in jou hart stuur jy hulle straat toe ...
Jy bid en smeek en bargain met God ...
Want hoe maak mens? Hoe gaan jy aan?
Hoe maak jy jou kind groot met die wete dat jy as ouer net eenvoudig gefaal het in jou mees basiese taak ... om vir jou kind te kan sorg?

 

 

Gabriel Plaatjies

Dertien

Versadig vir my asseblief
Stil die pyn in my binneste
Ek krap in die drom want ek’s nie ’n dief
Daaglikse oorlog teen hongerte

Sit my weer in die skool
My ouma is siek, nou moet ek sorg
Dit is net ek, sy en ’n onwettige pistool
Ouma het niks geld vir brood en borg

Volgende week raak ek dertien
Geen partytjie vir my nie
Meer trane as glimlagte wat ek sien
Kos en klere is nie vry nie

Te jonk vir die gewig op my skouer
Maar ek dra dit volhardend
Ouma se welsyn is belangriker
Myne is soms afhangend

Ouma het my geleer pap maak
Na my mammie heengaan bly ek hier
Die area is rof waar ek groot raak
Dis gevaarlik om my vir brood te stuur

Ten spyte van alles wat daar tekort is
Leef my ouma en ek met vertroue
gevoed met waarheid wat verfris
Warm gehou deur Jesus in die koue

 

 

Antoinette du Bruyn

Tong in die kies

eers die afwagting,
die half opgewonde
gevoel wat in jou
binneste woel ...
die blye weersiens,
die reuk van jou
wat ek in my
geheue hou ...
die saggies vat
ademloos
jou soet wat
altyd troos ...
ek is mal
oor die smaak
wat jy in my
mond
loslaat ...
sag smeltend
proe ek jou
weer en weer
wanneer sal ek
tog leer ...
en dan
die skuldgevoel
as ek nog
’n stukkie afbyt
en die leë papier
wegsmyt ...
ai,
die lekker is
baie meer
as die skade
van ’n skelm
stukkie
sjokolade!

 

 

Riette Hugo

Hoekom het jy weggegaan?

Elandsbaai
Nei, nêrens innie wêreld sal djy beterer kan kry
as snoek op kole en patats da’by.
Pasop net vir grate sluk
ma’kry ve’ djou ’n lekka stuk
Da’s alikreukel en viskopsop
al wat kort is papsakskop.

Kôsibaai
Maak ’n poetoe-wors met jou hand
skroei die njama op vuurrooi vlam; nou’t
ons oeboentoe om ’n driepootpot!
Doop blokkies vleis in growwe sout
Shlêga dan oor tot oor met spierwit tand
Sjêsja, sjêsja die kos word koud;
Onthou met dank
voorvaders aan die ander kant.
Aizeeko hiervan in anderland.

Verulam Vaaibs
Skep hara-kiri-kerrie in ’n halwe brood
met sambals wat jou oë betraan
sit aan by Annapoerna-feeste
bedink olifantgode met vele slurpe
vuurlopers vereer hul boggelbeeste
"Just try it, try it ...
You must hurry ...
It’s not hot, it’s just spicy"
"Nothing like our Durban curry."

Nantes
Twee kaalkoppe* span saam:
Nataniël en Erik is hul naam
soek en France na Hugenote-goed.
Trois petit pois
in kordate ry;
Beetcoulis is bloed soos op die plavei
by La Rochelle
Paupiettes de Saumon op puree van prei
Dis so chic, mens wil nie verteer
mens wil net die élègance
bewonder en begeer
Merci, Messieurs le Roux,
saam kan ons
ons herkoms
in jul koskreasies
proe ...

Jongensfontein – Kersfees 2021
Niks smaak beter as karringmelk of rosynbeskuit
gedoop in kondensmelkkoffie op ’n vroeë stoep
Ruik anysgeur in die oggendlug,
snags wink tjokkabote met flikkerlig.
Tuur na wydoop see en duiwevlug
luister na janfrederik en piet-my-vrou wat roep.
Kom van heinde; kom van ver
van Kanada-met-sneeu en
Engeland met haar gure weer.
Met beskuit en koffie is jy
keer op keer
in die warm hartsholte van
jou
komvandaan.
Hoekom het jy weggegaan?

*Met apologie aan Jan Rabie se Drie kaalkoppe eet tesame

 

 

Estelle Rubow

Plaaskombuis

Clafoutis, cassoulet,
keurig met groot sorg voorberei
crêpes, croissant en crème brûlée
prentjies op ’n bord.

Gee my maar die lekker kos
ouma se flessies in rye
sy wat die son kon bêre
in ’n pluksel plomp ryp vye

boontjiebredie en wildspastei
op die koolstoof voorberei
warm brood en gouestroop
met ’n smeersel vet daarby

melkkos met kaneel
op ’n koue wintersaand
die olielamp op die tafel
’n warmte wat ons deel.

Of kom hou by my ’n braai
met skaaprib en ’n worsie
dalk skilpadjies of ’n tjop
bring jy maar net slaai en dop.

 

 

Danette Sevenster

Dit pyn

Dit pyn
Ek kyk links en regs
Dit brand
Ek hoop ek kom weg

Dit rommel
Net ’n lemoen of ’n peer
Dit grom
Laat niemand my keer

Dit klem
Gou in die sak
Dit kramp
My hande, altyd bak

Dit roggel
My maag voel al warm
Dit skree
Daar is ’n hand op my arm

Dit pyn ...

 

 

Tian Cronje

Ek weet nie, my kind

Beurtkrag slaan hard
Die netwerk, mikrogolf, tv, ja, alles af!

"Mamma, wat een ons?"

Die pizzaplek se oonde af
McDonald’s se burgers rou
Kentucky se hoenders wei

O krisis, wat nou?

"Rice Krispies en koue melk, my kind"

Maar, in 1902
In kampe van skande
Wit en swart
Uitgeteerde gebeentes

"Mamma, wat eet ons nou?"
"Ek weet nie, my kind ..."

 

 

Morné du Preez

Koekie

Eet-sum-mor, maar wat is jou koekiebeleid
het jy opsies ja of nee?
o wat de fok weet ek van meer eet
meer eet meer seks meer meer van niks
stukkende jeans, ou hemp en my boep wat uitsteek
poets kry die krummels
en die res eet die hele fokken koekie!

 

 

Kobie van Rensburg

Versadigdheid

Les my dors
Vul my honger
Al wat die lewe bring is kommer.

Versadigdheid.

Eet wat in die kas is
Koffie en beskuit.

Ek hunker na versadigdheid.

Was jy al so honger dat al wat jy kon doen is eet?
Die kol op jou maag
laat jou soms vergeet

Die werklike gat sit in jou hart
Die kos wat dit vul is Lewendig
Dit vee weg al jou pyn en smart.

Hoe kan ’n honger mens dan Brood weier?

 

 

Elmarie Greyling

Oor( )eet

Groot gesonke oë tussen
spierwit angsbevange wangbene
daag my sonder skroom uit,
terwyl dun buisies skarlaken spiese
die lewensare red
en skend.

As die louter naar
om my kieue kom groen
en die sjoebroeke begin goiingsak
gryp ons na grotesk bó beenvel
plomp aanloopbane vir armpies
bó groen oë wat wonder
maar wéét.

Kanker, waar's jou angel?
Ek het sjokolade beet.

 

 

Floris van Zyl

Avondsmaal

Die meganika van die kaak
kners onverpoos
verslete voort
soos
kranksinnig'
klas 3-hefboom kou
aan die nou
finale avondsmaal.

Smulpaappreperaat
smaakloos
in kitsvorm
in aar gepreserveer
perpetueel mastikeer
ons aan leë kalorie-belofte
osoon-onvriendelike vlees
Monsanto-gemanipuleerde vrees
in gefortifiseerde oeste,
verskuil in die vetvrye –
versuikerde konsentraat
wat are vernou en
triomfantlik swel
tot barspunt
soos
kleurvol koolhidraat
cholesterol
konfetti-bomme!

Binne
voedselpiramiede(skema)
breek (bank)balans,
ewewigtigheid ewig
disproporsioneel
verdeel tussen
die hiërargie van hongerte,
tog
na alles;
van troggevreet en
middelklas spys én drank(ies)
tot bekroonde
Michelin-maaltye en
koninklike karmenaadjies,
bly avondsmaal
se drol
gesuspendeer
tussen peristalse
en die dood ...

Vir nou eet ons voort ...

 

 

Anushka Joubert

Mislukte resep

Jou rissiepit-woorde vloei al weer soos olie
dit vryf sout in my wonde en brand soos warm whiskey.
Die heuning en melk is weg, vrot.

Jou keuses is verdwaalde naeltjies,
myne – bly standvastig soos vleis en been,
versigtig afgemeet, die soet, die sout.

Ons resep vir liefde was koningskos –
vol roosmaryn en tiemie, diep soos goeie wyn.
En jy het kom bitter bygooi.

Jou aksies gebrande neute, in ’n ander se slaai.
En ek bly maar agter – ek het besluit
om eerder nuwe kaneel in botter te braai.

 

 

Ann-Marié Lindeque

(ver)gryp

dank ’n god vir alles wat jy het
geen poeding vir jou
prop jou eers vol

BARS

dan beloon

brood vir brekfis doodgewoon
nou meng ek drie girtspappe om my rykdom te toon

walglik loer sy vir my terug
die spieëlbeeld wat aan haar woorde wurg
nooit genoeg
vir hartseer
vir geluk
’n trofee vir wanneer jy die vrugte pluk

dis kamma in my bene
diep in die gene
verskonings met roomys om jou kamma te troos

die skaal van jou sonde is altyd groot
liefde iets wat jy altyd verstoot

al raak jou brein slimmer
en die kilo’s effens minder

is die skade reeds gedoen

jou maag
jou siel
jou selfhaat

reeds

vol

 

 

Joan Rosenberg

My spys

Van kindsbeen af is lekkerte ’n vingerlengte lank,
en as dit verby was het ek altyd getjank.
Dan sou mamma ’n soetdingetjie gee,
sodat ek die trane van my hartseer gesiggie kan vee.

Nou is ek groot en wis,
hoekom die lewe so is.
Die lewe lyk altyd so maklik en gerieflik,
maar dis net ander se beeld, heel bedrieglik.

Te veel van iets is nooit goed nie,
behalwe ’n moeder se liefde vir haar liefie.
Voedsel hou my liggaam gesond,
maar wat van die duiwels onder die grond.

 

 

Schönrad Jordaan

Verslawing

My volronde lyf
smag na die verbode vrug
verglans verskans
in alle vorme uit die Paradys.

Ek sink my tande
in skaapwagtersnye vars brood
gestip met geel gesoute botter
en soetsuur klonte goudoranje appelkooskonfyt.

Tongtippie proe-proe
aan strooptaai vlegsel-koeksisters.

Ek verlustig my in kraakbros gebruinde
gesondheid uit die grond uit.

My oordadige rondings
skreeu na nog net een keer se vergryp
aan kaneel-pampoenpoffers
onskuldig roomwit blomkool in trekkerige kaassous
vet Karooskaap
sielloos gebraai oor ’n spit
en toffiekaramel-Sondagpoeding.

Ek gee magteloos oor aan die finale ...
gitswart koffie met hompe heuwels room
afgerond met ontploffing in die mond
likeursjokolade.

Miskien na ek alles wellustig
verorber
opgegobbel
lippesnakkend
en met oorgawe geniet het
sal ek dink ...

aan môre, ’n nuwe week
en die nuwe dieet ...

op my yskas.

 

 

Emmerensia Coetzee

Trag

Dis douvoordag
Ons koskas is leeg
Wie loop en trag
En dink om te steel

Die son sit warm
My voete is seer
In my arms
’n Appel en ’n peer

Die maan skyn hoog
Die hitte van ’n vuur
Kook ’n pot vol poog
Vir wat ons mage verduur

Hongerte in wêreldgemeenskappe
Verlore hoop deur die teleurstelle

 

 

Desmond Gird

doodeet

my telomere het dalk nanometers verkort
toe ek asvaal byna my vaal aars afskrik
nadat ’n spontane webwerfskakel-klik
onthul Skoppensboer is op my kosbord

dit blyk vernielsugtige vrye radikale
skuil in die heerlikste lekkerny
tjips soetgebak soutvleis en margarien
alles wat ’n lekkerbek kwalik kan vermy

vrye radikale is ter duiwels
wat kop in een mus met erge stres
kwaai inflammasie en rumatiek kan stook
wat kankergroei kan aanjaag ook
hulle torring jou chromosoom-ente los
en verkort jou telomere en jou lewe so

met anti-inflammatoriese kos op die tafel
soos die bewese mediterreense dieet
tesame met ’n rustige leefstyl
kan mens kan die dodelike duo hokslaan
keer dat jou chromosoom-ente snel uitrafel
help om jou telomere en lewe te verleng

maar as jy die reg-eet-stryd verloor
het jy nog ’n billike oorlewingskans oor
as jy glad nie stres daaroor

 

 

Elyna Wasserman

Die baas

Met my gaan dit nie so goed,
Sonder jou is dit net nie so soet nie.
Ek moet eers my hande was
Voor ek kan kyk wat is in die yskas.

My dieet gaan nie so goed nie,
Want ek weet ek mag nie vir jou soek nie
My voete sleep my
Na die wit reghoek in die huis.

Ek los maar vir nou eers die vas,
En kyk binne-in die yskas ...
Daar voor my
Dis ’n lekker groot sny
Sjokoladekoek
En ek weet dit is wat ek nou soek.

Ek vat toe eers net ’n klein stukkie
Maar na ’n rukkie
Kon ek myself nie help nie ...
Die dieet-ding is net nie vir my nie!

 

 

Stewie Theron

Woord na smaak

Woorde is woorde
verwoord elkeen se smaak
een eet geskraapte afval
koningskos
met silwer eetgerei
uit fyn porselein
een uitgekrapte afval
oorskietkos
met plastiekvurk of -lepel
hoe groter die honger
hoe knaender die lus
geskraapte kop en pootjies
uitgekrapte vis en skyfies
wie eet die koningsmaal
wie drink die Eno’s
skilpadjies en pofadder
of skilpad-in-sy-dop
en geelvet pofadder
veldkos is geil
sê ek jou geil
veldresep proe goed
wie sluk die Eno’s
wie breek ’n wind op
braai is braai
smul is smul
versadig gul
ieder na sy woord.

 

 

Jeanette E Dykstra

Byt my

Die kleure van die reënboog,
vol smaak, trek my oog.

Ek proe deur papier, deur ’n lens,
die sesde sintuig van die mens?

Al sou ek dalk my smaak verloor
Is die woorde "Byt my" wat my brein bekoor.

Deur my oë
Sonder klank
Vêr van my hand
Sonder reuk
Sonder smaak

Byt my.

 

 

Odette Karsten

Uitstap

Woensdag is uitstapdag by Rietbron se koshuis
en soos rysmiere voor die reën
laat ons nie op ons wag,
Woensdag is uitstapdag by Rietbron se koshuis
jy sou sekerlik sien as ons só oopmond lag.
Hande taai, tonge en tande pikswart
in elke kies ’n nikkerbol of twee,
20c kougom en lollies
selfs ’n pienk plastiekring
om Vrydag vir Mamma te gee.

Woensdag was uitstapdag in Rietbron
en as die Blouwinkel kon praat,
sou jy weet hoe ’n groot glimlag
’n nikkerbol op ’n stofgesig kan laat ...

 

 

Mientje Afrika

Januariemaand ...

na desember se oorvloedfees
sal daar nou êrens honger wees!
’n gestopte kalkoen en slaai
dalk in oorvloed vleis gebraai,
roomys, koffie en brandewyn
het gesorg vir lekker samesyn ...

maar nou is dit januariemaand
en amper elke aand,
is daar êrens ’n honger kind
wat net ’n leë bordjie vind ...
’n mamma met trane in haar oog,
want die geldkraantjie het opgedroog

en die maand voel soos ’n jaar
vir almal bitter baie swaar ...
soms is honger ’n stukkie droë brood,
partykeer ... die nood meer groot!
juffrou gee toebroodjies vir haar klas,
al moet sy ook meet en pas

so sukkel dit aanmekaar
januariehonger, elke jaar,
en kom desemberfeestyd weer ...
dan gebeur dieselfde nog ’n keer!

en ek, ek doen my bes
ek skryf hierdie hongerles:
bestee jou bonusgeldjie reg,
sit tog iets vir januarie ook weg.

 

 

Ansie Nel

Feesgety

Die skaapboud netjies ontbeen
Versierde tafel, slaaie, ham;
Die Kerstafel het gekreun.
Soos gewoonlik.
Oujaar eet ons weer feestelik;
besluit ons sal van môre af dieet.
Soos gewoonlik.

Op ’n straathoek in die dorp
sit verwaarloosde klein Rob
soos gewoonlik.
Sy middagmaal uit die asblik:
oorskiet slaptjips; dit laat hom hik.
Hy verlang so na sy ma.
Meer as gewoonlik ...

 

 

Therèsa Ross

Vir spys en drank

Vir spys en drank gee ons U dank, maar Vader, laat die beker my verbygaan ...

Tjoklits, koek, Jelly Tots en water
Droëwors, biltong, brandewyn en Diet Coke

Kerk toe gaan, reëls nakom, hou links in die pad
As jy jou mooi genoeg gedra, sal ek jou deur die drive-through vat

Onmin, huismoles, PMS of kwaad
Vir alles het roomys, swiets en koekies baie goeie raad

Sal die demone ooit ophou om verby-vervaldatum-vitamiendrome, wense en trane in my lyf te voer?
Emosionele kos-hoer.

Vat vir jou, verloorder!:
Hamburgers, pizza, ribbetjies en bier
Kos is mos jou tier:
Jou vriend = jou vyand. Jou kruk = jou dood.

 

 

Ansie de Beer

Genadebrood

Ek sien nog vir Ma met haar voorskoot aan,
daar waar sy voor die koolstoof staan
en kyk hoe die potte vrolik prut,
terwyl Pa op die bank met die Landbouweekblad sit.
Ek ruik nog die geure,
en weet dit is die Here
wat sorg vir die eenvoudiges,
sodat niemand ooit sal uitmis
op die vreugde om saam met geliefdes aan tafel te sit,
te luister hoe Oupa bid,
dankbaar te eet aan elke skeppie op jou bord,
sodat jy slim en sterk kan word.
En die geestelike voedsel bly ook nie agterweë,
want as Pa vra ons moet die Bybel aangee,
en lees van die Here se liefde so groot,
weet ek hier eet ons genadebrood.

 

 

Danielle Leonhardt

Lyndans in die kombuis

Liewe Here

dit is al ses jaar sonder haar.
ses jaar sonder appeltert na ete
of soet koffie
en die alombekende
anysbeskuit
’n skelm happie heuning
of my gunsteling –
Dianette se deurmekaartert
dit is al ses jaar sonder haar.

haar mond was vars vrugte,
’n skaam skaterlag
wat deur die plaaskombuis
gebars en gebloei het
soos granate
uitgedroogde bloedlemoene
wat teen die venster hang
het gelyk nes
gebrandskilderde glas
Sint Pietersbasiliek in ons huisie

sy het die mooiste gelyk
– en die kos het die lekkerste geproe –
wanneer sy deur die kombuis
op Elvis gelyndans het

Here
ek weet nie of U
goed oor die weg kom
met Zeus nie
maar laat hom my ouma
se deurmekaartert proe
gee hom ’n happie
van haar heuning
– dit smaak beter as ambrosia en nektar

en Here
laat haar net eenmaal
in jou koningskombuis
met die engele lyndans
sy het tog altyd soos een van hulle gelyk.

 

 

Surina Jansen

Mamma, ek is honger

Soos ’n motor brandstof nodig het om te beweeg
So het die liggaam voeding nodig om te oorleef

Vleis en groente is duur
Brood en pap is nie

Dis die einde van die maand
My man en kinders is honger
Die kaste is leeg
En my hart is in stukke na die woorde

Mamma, ek is honger

Ek het 20 rand gevind tot my verligting
Voeding sonder krag is my opsies

Nou is die hartseer realiteit

Brood of pap

 

 

Carina Combrink

Hoekom

Ek het baie vrae wat kilo’s dra.
Hoekom is kos so lekker?
Kookkos, nagereg, vleis of cracker ... dit bly maar net alte lekker.

Ek is op moedverloor se gronde, vetjies optel is ’n sonde.
Geen nagrus vir my, net ’n skuldgevoel wat bly.
Ag, hoekom is kos so lekker?

 

 

Anneke Maurer

Sluk terug

Die woorde is swaar
en nie eers die masker kon dit keer nie.
Sou ons dit nie maar
soos alfabetnoedelsop weer kon eet nie?

 

 

Katé Möller

Ek en Mamma in die kombuis

Mamma leer my hoe om kos te maak.
Mamma vertel oor die dae wat tannie Marét jou klere gesteel het – want dis mos wat sussies doen.
Mamma vertel my oor liefde en hartseer,
geloof en die belangrikheid van fun lewenslesse.

"ROER, sussie, ROER!"
Kyk hoe mooi lyk die witsous nou.

Pappa sit en kyk TV en wag stroopsoet vir ons twee om klaar te maak.
’n Smeer sjokoladedeeg is oor Mamma se voorkop.
Mamma sing ’n AC/DC-treffer en gooi die dances moves.
Mamma se oë blink.
Mamma is gelukkig.
Ek is gelukkig.

Kosmaak was my en Mamma se ding.
Dit was ons taal.
Dit was my gunstelingtyd van die dag.
Die kombuis was warm en vriendelik.
Dit het my altyd nader gekoester.
Dit was my happy place.

Nou is dit leeg.
Mamma, sonder jou is die kombuis koud.
Mamma, sonder jou is kosmaak net metodies.
Net voedsel. Nie meer liefde.
Dit is nou ’n plek waar ek vir Mamma probeer onthou.

Mamma se oë het geblink.
Mamma was gelukkig.
Ek was gelukkig.

 

 

Marga Botha

Vir oulaas honger

Vir oulaas het ek jou erkenning gesoek
om hierdie eensame kol in my menswees te vul
die honger na jou aanvaarding bly steeds ’n vloek
en om aan te hou soek het ek myself verkul

Soos ’n stuk rou lewer wat jy op wit satyn gooi
het my hongerpyne intens begin bloei
Teen my beterwete het ek jou afbrekende self ingenooi
en toegekyk dat jy my bestaan vernietigend begin snoei

Maar soos brood altyd die hongerte kan stil
gaan ek nou aan my toekoms bak
sodat my opinies, inspirasies en my eie wil
ook kan verskyn op die wêreld se deskundige rak

Ek is dalk honger vir jou eksotiese dis
maar sal in die toekoms tevrede wees met brood
nooit weer sal ek na jou komplimente of aanvaarding vis
en jou nommer is nie meer die een wat geskakel word in nood

Vaarwel, my sorge en my hongerpyne
My sukses hang nie meer af van jou
Ek is uniek, ek is bekwaam en ek is Syne
Al wat ek voel as my gedagtes na jou dwaal is berou

 

 

Claudia Nel

Dis tussen my en jou

Ek en jy is soos ’n ongewenste verhouding
Waar ek die gevaarlike tekens ignoreer en jy wat lief daarvoor is om my te manipuleer.

Maar wie is jy? Dit is die vraag!
Ek soek liefde, geduld en aandag by jou,
In sommige plekke kort hulle jou.
Maar hier in my wêreld raak jy te veel
Toe ek klein was kon ek jou nog vertrou.
Jy’s soos een van my verledes wat ek altyd skelmpies die deur voor oophou.

Maar nog steeds sal ek sê,
As ek in die hemel kom en jy is nie daar nie
Dan draai ek om, al moet ek met my ekstra
Rolle vet en bolle na jou toe hardloop.
Ander mense moet hulle opinies vir hulself hou
Want die verhouding is tussen ons,
Dis tussen my en kos

 

 

Vanessa Carelse

Kasteelland

Is dit skaars of net weg,
waarheen geneem of dalk gesteel.
Die kosmandjie is leeg en
broodtrommel lyk soos ’n kasteel,
Leeg en koud, leweloos van aard.

Oupa lyk verleë, dalk bewoë
stil, bebaard en bepeinsend diep.
Die groentetuin van eers is weg
nuwe huisie het sy tuiste kom kry.
Vroulief heengegaan en oupa alleen.

Voedingskaarste al hoe groter,
dis wat oupa sê, luister, kom staan nader.
Klipoerwoud gaan vernietig,
gryp nou in, spaar die skaarste.
Honger dae sal vinnig volg, ja, glo my nou,
stop klipoerwoud van ’n nuwe tuiste.


 

Aangebied in samewerking met die

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top