Beste Jacobus,
Jou skrywe oor die "Eerste Mens" is aangrypend, want dit is ’n Suid-Afrikaanse nasionale erfenis wat bewaar moet word vir die hele wêreld.
Die grootskaalse ontmoeting in die binneland van Suid-Afrika tussen Germaans- en Bantoesprekendes was tussen gelyke mense van dieselfde soort: beesboere met geartikuleerde tale.
Die ontmoeting tussen San- en Bantoesprekendes daarteenoor, was tussen skepsels van verskillende planete, by wyse van spreke. Die San, die eerste groep wat van anatomies moderne mense afstam, was jagters- en versamelaars. Hulle was ook relatief klein, en het deur middel van klik-klanke gekommunikeer. Vir Bantoesprekendes met hulle ge-artikuleerde taal en beesboerdery, was die San geen groot politieke en militere opponent nie. Op die evolusieleer was beesboere bo en versamelaars onder. Daar was geen gelyke geleenthede nie.
Tot vandag toe is die benaming Boesman ’n belediging vir ’n Bantoe.
Die benaming San, is niks anders as ’n ou beledigende term vanaf die kant vanaf die pastorale Khoi vir die Boesman. Raar maar waar.
Die benaming Khoi self is op sy beurt weer ’n mooier en meer aanvaarbare term vir Hottentot.
Die nou baie bekende woord Khoisan is op sy minste verkeerd gespel. Khoi-San is meer akkuraat, maar steeds kunsmatig. Nader aan die historiese werklikheid is: Sanmense en Khoimense, want laasgenoemde was pastoraal. Pastorale mense en jagters kan met die beste wil in die wereld nie om dieselfde kultuurvuur sit nie, weens botsende belange.
Ek dink Germaanssprekendes, insluitend Engelse en Afrikaners, het die geskiedenisverhaal van die Eerste Mens nie verhelder nie, maar dalk eerder verduister met mooi en "wyse" woorde, soos Khoisan as een polities-korrekte begrip.
Meneer Mandela het San-DNA, en met sy gesag sou hy iets kon doen om die erfenis van die Eerste Mens, die San in Suid-Afrika te bewaar. Helaas is sy stem nou stil, dog ek dink dat in sy nie-dreigende optrede as Staatspresident, het hy ’n soort San-erfenis uitgeleef.
Sy latere opvolgers is egter stoere boere-Bantoesprekendes, meneer Zuma is ’n tradisionele Zoeloe met beeste in Nkandla, en hulle het van nature ’n ander uitkyk op die land en lewe.
Ran Doodt

