Eerste daar deur WS van der Waals: ’n lesersindruk

  • 3

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Eerste daar
WS van der Waals
Uitgewer: Protea Boekhuis
2021 

Willem Stephanus (Wim) van der Waals is op 2 Mei 1941 in Apeldoorn in Nederland gebore – vandaar sy latere bynaam Kaas, soos sommige na hom in Suid-Afrika verwys. Sy eerste paar lewensjare het hy dus in Nazi-besette Nederland deurgebring, insluitende die “hongerwinter” van 1944. Hy kan uiteraard min van die oorlog onthou, maar wel die oorverdowende lawaai wat Geallieerde bomwerpers gemaak het – en ook die bevryding van Nederland (deur Kanadese soldate) in 1945. Ten einde ’n beter toekoms te verseker, het die Van der Waals-gesin aan die einde van 1955 na Suid-Afrika geëmigreer. Na voltooiing van sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Roodepoort het die jong Van der Waals, wat van kindsbeen af ’n belangstelling in militêre sake ontwikkel het, by die Suid-Afrikaanse Leërgimnasium in Voortrekkerhoogte (die huidige Thaba Tshwane) buite Pretoria aangemeld ten einde sy gekose militêre loopbaan te begin.

........

En wat ’n ongelooflik interessante loopbaan in uniform het daar nie gevolg nie! Gelukkig het Van der Waals sy herinneringe opgeteken, en met die oog op die herdenking van sy geboortedag 80 jaar gelede is sy outobiografie in 2021 gepubliseer.

.........

En wat ’n ongelooflik interessante loopbaan in uniform het daar nie gevolg nie! Gelukkig het Van der Waals sy herinneringe opgeteken, en met die oog op die herdenking van sy geboortedag 80 jaar gelede is sy outobiografie in 2021 gepubliseer. Wat in dié boeiende boek ontvou, is die lewensverhaal van ‘n offisier wie se loopbaan gekenmerk is deur veelsydigheid: van valskermsoldaat, operasionele diens in Angola en in die destydse Suidwes-Afrika (SWA; sedert 1990 Namibië) en Rhodesië (sedert 1980 Zimbabwe), tot militêre diplomaat in Angola en Paraguay, die destydse Suid-Afrikaanse Weermag (SAW; sedert 1994 deel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, SANW) se hoof van buitelandse betrekkinge, dosent in strategiese studies, en ’n kenner van revolusionêre oorlogvoering en strategie. Sy veelsydigheid en uitgesprokenheid het hom met sommige gesagsfigure in die SAW in botsing gebring, maar hom ook besonder wyd aanwendbaar gemaak – sowel in Suid-Afrika as in die buiteland.

Eerste daar is hoofsaaklik aan die hand van vyf meesal lang hoofstukke gestruktureer, elk in kleiner onderafdelings verdeel. In hoofstuk 1 beskryf Van der Waals sy jeugjare in Nederland (1941–1955) en verblyf en verdere skoolopleiding in Suid-Afrika (1955–1959). In hoofstuk 2 stel hy die vroeë militêre tydperk (1960–1970) van sy loopbaan aan die orde, insluitende sy opleiding by die Suid-Afrikaanse Leërgimnasium en Suid-Afrikaanse Militêre Kollege (1960–1961), en diens in die Spesiale Diensbataljon en in die Valskermbataljon in Bloemfontein (1962–1969). In dié tyd het hy ook met studies aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS; vandag die Universiteit van die Vrystaat, UV) begin, is hy getroud, en het hy sy eerste “grensdiens” in die noorde van SWA gedoen.

Van der Waals se middel-militêre tydperk (1970–1979) word in hoofstuk 3 onder die loep geneem. Dit sluit in sy werk as visekonsul in Angola van 1970 tot 1973 – dus toe dié gebied nog ’n Portugese kolonie was. Vervolgens was hy in Kimberley (1974) en in Pretoria (1975) gestasioneer, waarna hy aan Operasie Savannah deelgeneem het (September–November 1975), en vervolgens weer in Pretoria gestasioneer was (1976–1979). In hoofstuk 4 kom sy laat militêre tydperk (1979–1992) aan bod: weermagsattaché in Paraguay (1980–1982), direkteur Suider-Afrika by Afdeling Militêre Inligting (1984–1986), adjunkhoof van die takke Nasionale Vertolking en Strategie by die sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad (1987–1989), direkteur Operasies van die SAW (1990–1991), en direkteur buitelandse betrekkinge van die SAW (1991–1992). Hoofstuk 5 handel oor die namilitêre tydperk (1993–2004), wat insluit Van der Waals se rol as uitvoerende direkteur gemeenskapsveiligheid (1993–2001).

Die boek bevat ook drie bylaes, ‘n bibliografie, en ‘n register (wat help om die inhoud van 222 bladsye vir die navorser en ernstige leser te ontsluit), asook ses kaarte en 61 toepaslike foto’s.

Uit Eerste daar blyk dit dat Van der Waals se loopbaan inderdaad ’n hele aantal eerstes ingesluit het. Hy was byvoorbeeld onder meer by die eerste Grensoorlog-operasie (Augustus 1966) teen guerrillas van die South West African People’s Organisation (Swapo) betrokke gewees; en hy was die SAW se eerste skakeloffisier en kontingentbevelvoerder by die União Nacional para a Indepêndencia Total de Angola (Unita; Unie vir die Algehele Onafhanklikheid van Angola) tydens die SAW se Operasie Savannah in Angola in 1975.

........

Eerste daar is ’n openhartige en op die man af outobiografie.

........

Eerste daar is ’n openhartige en op die man af outobiografie. Soos Leopold Scholtz tereg opgemerk het, gebeur dit selde in die Suid-Afrikaanse militêre omgewing dat ’n professionele offisier ook ’n intellektueel en akademikus is. Maar dít was (en is) Kaas van der Waals – en veel meer. In sy outobiografie beskryf hy sy lewensverhaal op ’n hoogs leesbare manier, maar hy vertel nie bloot wat hy alles beleef en meegemaak het nie, want getrou aan sy akademiese en intellektuele aard analiseer hy ook sy wedervaringe en gewaarwordinge (bl 1). In 1993 is ook reeds ’n boek van hom gepubliseer, naamlik Portugal’s war in Angola 1961–1974 (Rivonia: Ashanti). En in 1990 het hy ’n doktorsgraad aan die UOVS verwerf.

Wat dus aan die hand van ’n inleiding, vyf hoofstukke en slotgedagtes ontvou, is die aangrypende verhaal van ’n veelsydige, belese en dapper “officer and gentleman” wat sy aanneemland Suid-Afrika (waar hy hom in 1955 vanuit Nederland kom vestig het) en die SAW met toegewydheid gedien het. Sy kleurvolle militêre loopbaan (1960–1992) omsluit min of meer die eerste drie dekades van die “ou” of “eerste” Republiek van Suid-Afrika (1961–1994) se militêre geskiedenis. Die boek is inspirerend, bevat insiggewende perspektiewe ten opsigte van sowel die SAW se betrokkenheid in Angola as ander aspekte van dié weermag se geskiedenis, en is ’n waardevolle toevoeging tot die Suid-Afrikaanse (militêre) historiografie. Kaas van der Waals se Eerste daar bied inderdaad veel stof tot nadenke en verdien om wyd gelees te word. Hopelik sal die boek ook debat stimuleer; en sal dit hopelik ook ander senior SAW/SANW-offisiere (en andere) aanspoor om ook hul oorlogservaringe en/of ander herinneringe ten opsigte van hul militêre loopbaan te boek te stel. Hierdie belangrike publikasie word sterk aanbeveel.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    hennie van deventer

    Meer as 50 jaar gelede mekaar laas gesien. Die boeiende lewensverhaal het my ver laat terugdink aan goeie tye in die Oorlogsmuseum.

  • Avatar
    hennie van deventer

    Gegroet uit die bos. Eerste keer in 18 maande by my hartsplek in Sabiepark langs die Krugerwildtuin.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top