Eerste aankondiging: Die SA Akademie wag tans nominasies in vir sy gesogte Akademiepryse vir 2023

  • 0
Die SA Akademie wag nominasies in vir die toekenning van Akademiepryse in die kategorieë wat in 2022 aan bod kom.
Die finale sluitingsdatum vir nominasies is 15 Februarie 2023 (behalwe waar anders vermeld).

Graag vestig ons u aandag op die Akademiepryse wat gedurende 2023 vir toekenning oorweeg word. Volledig gemotiveerde voorstelle vir enigeen van hierdie pryse word ingewag. Die volgende geld ten opsigte van die voorstelle:

  • Voorstelle moet verkieslik in Afrikaans wees en moet deur ’n voorsteller en ’n sekondant onderteken wees. 
  • Die voorstel moet duidelik motiveer waarom die bepaalde kandidaat/instansie vir die bepaalde bekroning voorgestel word. Daar moet ook duidelik aangetoon word watter spesifieke publikasies/bydraes as bekroningswaardig beskou word. 
  • Die voorstel moet gesteun word deur die nuutste curriculum vitae en publikasielys van die kandidaat, indien van toepassing. 
  • Die grootste mate van vertroulikheid moet gehandhaaf word. Onder geen omstandighede mag die kandidaat bewus wees dat hy/sy vir ’n prys genomineer word nie. Daar mag geen verwagtinge by potensiële kandidate geskep word wat vir die betrokke kandidaat en vir die SA Akademie groot verleentheid kan veroorsaak nie. 
  • By die toekenning van pryse is die Akademieraad se besluit finaal. In die geval van ’n nominasie wat nie suksesvol was nie, sal geen korrespondensie of gesprekke ná die toekenning gevoer word nie.
  • Reglemente vir die onderskeie pryse is op aanvraag beskikbaar.
  • ’n Nominasievorm kan aangevra word by linda@akademie.co.za.

 

Geesteswetenskappe

NP van Wyk Louwprys vir Geesteswetenskappe

Die prys word jaarliks toegeken aan ’n persoon vir sy/haar skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en die volgehoue uitbouing van ’n vertakking of vertakkings van die geesteswetenskappe en wat as ’n wesenlike en belangrike bydrae tot die bevordering van die geesteswetenskappe beskou kan word. Die prys kan ook toegeken word aan persone wat werk van die hoogste gehalte gelewer het ter bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur.

Die prys is een van die toppryse van die Akademie en word toegeken vir ’n betekenisvolle bydrae tot die bevordering van die geesteswetenskappe en kan daarom slegs een maal aan ’n persoon toegeken word. ’n Kandidaat moet naas hoëgehaltepublikasies ook bewys lewer van die bevordering van sy/haar vakgebied in Afrikaans. Dit kan onder meer inhou studieleiding; redaksionele werk in Afrikaans; populêre bydraes in die media; optredes by kongresse of seminare; bereidheid om werk in Afrikaans te laat vertaal, ensovoort.

Stalsprys

Die Stalsprys is ’n jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op die gebied van die geesteswetenskappe en kan net een maal aan ’n bepaalde persoon toegeken word. Die prys word toegeken vir die volgende:

  • ’n Hoogstaande publikasie of ’n reeks sodanige publikasies wat wetenskaplike werk van die hoogste gehalte verteenwoordig;
  • Individuele of gesamentlike wetenskapsbeoefening en/of die lewering van individuele of gesamentlike produkte van hoogstaande gehalte.

Indien die werk van ’n kandidaat wie se wetenskaplike werk grootliks in Engels of ’n ander taal gelewer is, moet bewys gelewer kan word van die bevordering van sy/haar vakgebied in Afrikaans. Dit kan onder meer inhou: studieleiding; redaksionele werk in Afrikaans; populêre bydraes in die media; optredes by kongresse of seminare; bereidheid om werk in Afrikaans te laat vertaal, ensovoort.

Die vakgebiede roteer jaarliks en in 2023 kan ’n prys in een van die volgende vakgroepe toegeken word: Sosiale wetenskappe waaronder antropologie; maatskaplike werk; kriminologie; sielkunde; sosiologie; filosofie; geskiedenis, politieke wetenskap; joernalistieke navorsing.

Markus Viljoenmedalje vir Joernalistieke Prestasie

Die Markus Viljoenmedalje vir Joernalistiek word driejaarliks toegeken vir betekenisvolle hoogstaande werk in die Afrikaanse joernalistiek, hetsy in koerante, tydskrifte, vir televisie of radio. Die medalje kan slegs een maal aan ’n persoon toegeken word.

Protea Boekhuistoekenning

Die prys word jaarliks toegeken en roteer tussen ’n ongepubliseerde magisterverhandeling, ongepubliseerde doktorale proefskrif en ’n gepubliseerde boek in Afrikaans oor geskiedenis of kultuurgeskiedenis.

In 2023 kan die prys toegeken word vir die beste magisterverhandeling (verhandelinge van persone wat in die voorafgaande drie jaar ’n graad ontvang het, kom in aanmerking).

Sluitingsdatum vir nominasies vir hierdie prys: 20 Januarie 2023

Erepenning vir Geesteswetenskap en Kuns

Die Erepenning word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die geesteswetenskappe en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang. Dit kan ook toegeken word vir prestasie in die kunste (visuele en uitvoerende kunste). Die erepenning mag meer as een maal aan dieselfde persoon in dieselfde afdeling toegeken word.

Jacques van der Elstprys

Die prys word toegeken vir die beste artikel wat gedurende 2022 in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe gepubliseer is.

Natuurwetenskappe

MT Steynprys vir Natuurwetenskappe

Die prys word beskou as die topprys vir natuurwetenskap en tegnologie en kan daarom net een maal aan ’n persoon toegeken word.

Die prys word jaarliks toegeken aan ’n persoon wat ’n betekenisvolle bydrae gelewer het tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskappe en/of die tegnologie (of ’n vertakking of vertakkings daarvan) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang.

Dit sal ’n sterk aanbeveling wees indien ’n kandidaat naas hoëgehaltepublikasies (patente, en dergelike) ook bewys lewer van die bevordering van sy/haar vakgebied in Afrikaans. Dit kan onder meer inhou: studieleiding; redaksionele werk in Afrikaans; populêre bydraes in die media; optredes by kongresse of seminare; bereidheid om werk in Afrikaans te laat vertaal, ensovoort.

Havengaprys

Die Havengaprys is ’n jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegniese gebied en kan net een maal aan ’n bepaalde persoon toegeken word.

Die belangrikste vereiste by die beoordeling van kandidate is navorsingspublikasies.

Dit sal ’n sterk aanbeveling wees indien ’n kandidaat naas hoëgehaltepublikasies (patente, en dergelike) ook bewys lewer van die bevordering van sy/haar vakgebied in Afrikaans. Dit kan onder meer inhou: studieleiding; redaksionele werk in Afrikaans; populêre bydraes in die media; optredes by kongresse of seminare; bereidheid om werk in Afrikaans te laat vertaal, ensovoort.

Die vakgebiede roteer jaarliks en in 2023 kan die volgende vakgebiede in aanmerking kom vir die prys: Navorsing op lewende materiaal, die mens uitgesluit, bv. in die landbou-, biologiese, veeartsenykundige wetenskappe, ensovoorts).

Erepenning van die Fakulteit Natuurwetenskap en Tegnologie van die SA Akademie

Die Erepenning word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskappe en/of die tegnologie (of ’n vertakking of vertakkings) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang.

Die erepenning mag meer as een maal aan dieselfde persoon in dieselfde afdeling toegeken word.

Junior Kaptein Scott-gedenkmedalje

Die prys kan jaarliks toegeken word aan studente wat reeds ’n M.Sc.-graad verwerf het in die voorafgaande twee jaar vir die beste verhandeling ingedien by ’n Suid-Afrikaanse universiteit, om die beurt in die dierkundige of plantkundige wetenskappe.

Die verhandeling moet ’n bydrae tot wetenskaplike kennis lewer en moet bewys van oorspronklike navorsing lewer.

Elke universiteit word tot die insending van een verhandeling beperk. Verhandelinge in elektroniese formaat word aanvaar.

Douw Greeffprys

Die prys word toegeken vir die beste artikel wat gedurende 2022 in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gepubliseer is.

Kunste

SA Akademieprys vir Drama

Die prys is een van die toppryse van die Akademie op die gebied van die kunste en word toegeken vir ’n betekenisvolle bydrae tot drama in Afrikaans en kan daarom slegs een maal aan ’n persoon toegeken word.

Die prys word driejaarliks toegeken vir dramawerk in Afrikaans in die wydste sin: Radiodrama; toneel- en verhoogkuns; rolprent en TV (akteurs, regisseurs, vervaardigers, ensovoorts).

Deleen Bekkerprys vir die beste draaiboek in Afrikaans

Die prys kan jaarliks toegeken word en in 2023 kom TV-draaiboeke vir Afrikaanse drama aan die beurt:

TV-draaiboeke (hetsy ’n enkel drama of een episode uit ’n reeks) wat in die voorafgaande drie jaar gebeeldsend is, kom in aanmerking vir die toekenning.

Literêre pryse

(Slegs boeke wat deur uitgewers voorgelê word, word beoordeel)

Hertzogprys vir Poësie

Die prys is beperk tot oorspronklike bellettristiese werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir prosa, poësie en drama in dié volgorde. In 2023 kom poësie aan die beurt.

Eugène Maraisprys

Die toekenning van hierdie prys word jaarliks oorweeg vir ’n eerste of tweede bellettristiese Afrikaanse werk van ’n skrywer in enige genre.

Akademieprys vir Vertaalde Werk

Die toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir vertalings in Afrikaans van bellettristiese werk uit enige ander taal.

By die beoordeling van die vertaling word gelet op die aansien wat die vertaalde werk binne die eie letterkunde geniet én op die juistheid en gehalte van die vertaling.

LW Hiemstraprys vir Niefiksie

Die toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir ’n oorspronklike niefiksiewerk in Afrikaans wat nie beperk is tot die vakspesialis nie.

CL Engelbrechtprys vir Letterkunde in Afrikaans

Die prys roteer tussen ’n gepubliseerde Afrikaanse letterkundige werk en ’n taalwetenskaplike publikasie/produk wat oor en/of (by voorkeur) in Afrikaans op taalwetenskaplike terrein gepubliseer of vrygestel is.

In 2023 kom letterkundige werk aan die beurt. Wenners van die Hertzogprys en die LW Hiemstraprys vir niefiksie wat pryse ontvang het binne die voorafgaande vyf jaar wat die CL Engelbrechtprys toegeken word, kom in aanmerking.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top