Die susters Adeline en Lili Radloff se boek Een stad drie rooikoppe sewe dae is op 19 April by The Book Lounge in Kaapstad bekendgestel. Die susters het saam aan hierdie genre-buster geskryf, wat bietjie misdaad, bietjie romanse en sommer baie grappies bevat. Tydens die gesprek met Chopper Charlie, die zef-blog-koning van Wat Kyk Jy-faam, het een van die twee Radloffs verduidelik wat hulle met hierdie roman wou bereik: "Ons wou net fun gehad het en speletjies gemaak het."
Die Radloff-susters is groot Deon Meyer-aanhangers, en dus kan lesers verwag om 'n goeie skoot aksie en spanning in hulle boek aan te tref.
"En," wou Chopper op 'n stadium weet, "hoekom het julle die titel by Deon Meyer gesteel?"
"Maar ons het nie!" keer die susters uit een mond. "Hy het sy titel by ons gesteel!" Hulle boek was klaar teen die tyd dat 7 dae op die rakke was. 'n Klassieke geval van great minds ...
Adeline en Lili sê die ideale leser van hulle boek is "cool mense" - as jy jouself dus in hierdie kategorie klassifiseer, of daarna streef, skaf onmiddellik 'n eksemplaar van Een stad drie rooikoppe sewe dae aan.
Titel: Een stad drie rooikoppe sewe dae
Skrywer: Adeline en Lili Radlof
Kategorie: Fiksie
Klik hier en koop Een stad drie rooikoppe sewe dae nou by Kalahari.net!




Chopper: Wie was die lekkerste om te skryf?
Lili: Saskia was lekker, omdat sy so fokken bitch is. (Aan haar ma in die gehoor:) ‘Skuus, Mamma!

Adeline: Dis weird om 'n sex scene saam met jou suster te skryf.
Lili: Mens weet nie of dit werk nie.
Ma Radloff (uit die gehoor): Dit werk!
Radloff-koor: Dankie, Mamma!



