Die diefstal van e-boeke is tans skerp onder die soeklig nadat skrywers en uitgewers agtergekom het boeke word onwettig op aanlyn kletsgroepe versprei. Blykbaar vind dié diefstal op enorme skaal plaas, en uitgewers stel reeds maande lank ondersoek in. Die vermoede is dat sindikate agter dié onwettige aksies sit en munt slaan uit die verspreiding van gesteelde materiaal aan kletsgroeplede.
Jaco Jacobs, Suid-Afrika se gewildste kinderboekskrywer, verduidelik hoe hy hiervan bewus geword het: “Mense het vir my skermskote op my Facebook-blad begin aanstuur van WhatsApp-groepe by laerskole waar ma’s onwettige PDF’s van my boeke versprei. Ek het daarna op sosiale media mense genooi om vir my sulke skermskote te stuur sodat ek dit na die regte mense kan verwys, en ek is oorval met bewyse dat mense my eie en ander skrywers se boeke so versprei.”

Fanie Viljoen (Foto: verskaf)
Fanie Viljoen het van die situasie verneem toe sy uitgewer, LAPA, hom gevra het of hulle sy publikasiekontrak kan insluit by die klagstaat wat hulle teen e-plunderaars wil lê. ’n Swetterjoel titels uit Viljoen se pen is ter sprake: “Boeke soos Uit, Prooi, Leeus met letsels en Pleisters vir die dooies word onder andere gedeel,” sê hy.
Sophia Kapp, wie se Kanaän onlangs verskyn het, is deur ’n medeskrywer wat ’n kletsgroep geïnfiltreer het ingelig dat haar titels gewilde prooi onder e-boekdiewe is. “Dit is nie net my boek wat so gesteel en gedeel is nie. Baie ander skrywers se boeke was ook daar – Deon Meyer, Steve Hofmeyr, Carla van der Spuy, Didi Potgieter, Elsa Winckler, om maar net ’n paar te noem.” Toe Sophia op die kletsgroep lawaai maak, is sy sonder seremonie afgesmyt.

Sidney Gilroy (Foto: verskaf)
Sidney Gilroy, skrywer van Klikbek en Middernag, het een van die “sindikate” wat sy boeke onwettig versprei, geïnfiltreer. Volgens hom besef lede van kletsgroepe blykbaar nie eens dat hulle deel van sindikaatbedrywighede is nie. “Hulle is andersins wetgehoorsame mense wat, volgens my, nie die vaagste benul het van die skade wat hulle aanrig nie.” Maar die inisieerders van dié plundergroepe se motiewe is bepaald duister: “Daar is alreeds ’n handvol wat boeke teen 90% minder ‘verkoop’ as wat jy byvoorbeeld op Amazon daarvoor sou moes betaal,” sê hy.
Gilroy vertel dat hy by ’n groep aangesluit het en telefonies met ’n administrateur kontak gemaak het. Nadat hy ’n boodskap op ’n selfoonnommer gelaat het, het hy ure later ’n antwoord ontvang: Dis nie my groep nie. Soos ek vir ’n ander vrou gesê het. 2018 en 2019 het ek resepte en vriendinne groepe gehad en ek het meeste van my groepe aan ander dames gegee. So wat dié dames daarna met die groepe gemaak het weet ek nie. Admins van groepe kan groepname verander soos hulle wil. Doen jouself die guns en tik daai link uit wat daar staan … (sic). Skynbaar het ’n kletsgroep waar resepte tussen “dames” gedeel is, ontaard in ’n ruimte vir sluikhandel in e-boeke.
Uiteindelik word Sidney lid van die groep nadat hy op ’n skakel geklik het. En nog voordat hy kan vra dat iemand ’n titel met hom deel, sien hy daar woed alreeds ’n oorlog oor die etiek rondom die deel van boeke. Wat is ’n biblioteek dan? vra ’n lid. Daar is 1 boek en hordes neem hom uit, lees en vat terug. Wie word aangekla? Ek vra maar net. Die stelling word gevolg deur emoji’s van apies wat hul oë en monde toehou. Die argument wat blykbaar gevoer word, is dat skrywers moet ophou worry en kla, en dankbaar moet wees dat iemand hul boeke lees.
“Onmiddellik is my moermeter in die rooi,” vertel Sidney. “Lang, lang ure van oorskryf, regtrek, gaan-dink-weer, beplanning en navorsing, en familie en vriende wat eenkant toe geskuif word, flits verby. Manuskripte vreet ure en dae op.”
Kort voor lank spoor Sidney die administrateur van die groep in haar salon in ’n dorpie in Limpopo op. “Sy gebruik dieselfde nommer wat aan die stuur van die boek-uitruildiens staan om haar besigheid mee te adverteer.”
Hoe sou jy voel as die publiek by jou salon moes instroom om verniet van jou dienste gebruik te maak? vra Sidney. Dit is onwettig. Wat julle doen is krimineel. En soos kriminele, moet julle vervolg word.
Na dié interaksie is Sidney soos blits van die groep verwyder en geblok, maar nie voordat daar ’n string groeplede hulleself vinnig uit die voete gemaak het nie. Met haar haastige uitvaart het een dame angstig aangevoer dat haar kleinseun moet kyk, want ek het dan gevrá om verwyder te word.
Later die dag is Sidney deur ’n kennis ingelig dat die administrateur aangekondig het die groep sal stiptelik om 22:00 vanaand vir altyd sal sluit. “Asof dit ’n besigheid was. Wat gebeur tot 22:00? Voorraad skuif? Die till op-cash? Gou-gou die laaste spore uitvee? Of dalk die delers en stelers na ’n ander groep oorskuif?” wonder Sidney.

Sophia Kapp (Foto: verskaf)
Sophia Kapp skryf die skynbaar naïewe ingesteldheid van mense wat aan steelgroepe behoort toe aan die opvatting dat ’n mens geregtig is op gratis inligting. “In hierdie digitale era waarin ’n mens met die klik van ’n knoppie inligting oor bykans enige onderwerp onder die son op die internet kan opspoor, glo die meeste mense natuurlik dat digitale inligting geredelik beskikbaar moet wees, en dat dit wat beskikbaar is, allemansgoed is.” Mense vergeet egter dat digitaal en gratis nie dieselfde ding is nie.
“As iemand inligting op ’n e-platform kry wat deur die eienaar daarvan gratis beskikbaar gestel is, doodreg. Kopiereg op boeke verval ná 50 jaar, of 50 jaar ná die outeur se afsterwe. Daar is dus baie apps waar jy derduisende boeke gratis kan lees. Nuwe boeke word egter deur die kopieregwet beskerm en kan nie net blindelings gedeel word nie,” verduidelik Sophia.
Van die mense op die kletsgroep waarvan Sophia kortstondig lid was, was onthuts omdat sy hulle diewe genoem het. “Sommige beskou hulleself as Robin Hood-figure wat van die rykes (dis nou skrywers) steel en vir die armes uitdeel; hulle weet natuurlik hulle is rowers, hulle het dit net gerasionaliseer. Maar ander dink hulle is mededeelsaam om leesstof in hierdie vreemde, afgesonderde tyd uit te ruil.”
E-boekdiewe wat hul buit uitdeel, het blykbaar geen skaamte nie. Sophia vertel van ’n vrou wat op Facebook ’n foto van ’n boekvoorblad geplaas het, saam met haar foonnommer en ’n boodskap dat mense wat die boek wil hê, haar kan skakel; sy stuur dit dan in PDF-formaat. “Enige platform waar mense betreklik anoniem kan bly, is ’n teelaarde vir sulke onderduimsheid,” sê Sophia.
Maar hoe kry mense dit reg om e-boeke te versprei nadat dit aangekoop is? Jaco Jacobs verduidelik: “Die onwettige PDF’s word skynbaar geskep deur (wettige) e-boeke se beskermingsprogrammatuur te verwyder. Daar is glo selfs al groepe waar jy ’n lidmaatskapsfooi betaal om aan te sluit, en daarna kan jy deel in die onwettige e-boeke wat op die groep beskikbaar is.”
Fanie Viljoen brei uit oor die impak wat dié aktiwiteite op die bedryf het: “Mense koop een e-boek, breek die sekuriteit en versprei dan die boek op WhatsApp-groepe. Een van die groepe wat ek gesien het, het 246 lede gehad. Een boek word dus onmiddellik met 246 mense gedeel, en hulle gaan deel dit weer met hoeveel ander mense. Skrywers se boeke word hanteer soos nikswerd pamflette wat by ’n verkeerslig uitgedeel word.
“Mens sal nooit hierdie gesteelde boeke uit die kuberruim kan terugkry nie. Dit sal vir altyd op die een of ander manier rondswerf. Skrywers is dus nie net van ’n huidige inkomste beroof nie, maar ook van ’n toekomstige inkomste,” sê Fanie.
Deon Maas het intussen op sosiale media kritiek teen skrywers uitgespreek wat ontsteld is oor die vlaag e-boekdiefstalle. Onder die hutsmerk #jullemaakjullenaamgat het hy skrywers daarop gewys dat e-boeke hopeloos te duur is en dat die formaat waarin dit beskikbaar is, die bedryf kwesbaar maak vir die verspreiding van roofkopieë:
Volgens Deon is die boekebedryf tans op presies dieselfde plek as waar die musiekbedryf in die laat 1990’s en vroeë 2000’s was, met Napster en ander forums wat die onwettige aflaai van musiek bevorder het. “Dit het hulle meer as ’n dekade gevat om weer beheer oor hul eie produk te kry. Hulle wou nie luister nie en het die gevolge daarvan gedra.” Toe hy in Nigerië gewerk het, het Deon besef dat “die rowers die bedryf heeltemal beheer”, en daar het hy agtergekom die verspreiding van roofkopieë is die gevolg van twee elemente – koste en beskikbaarheid. “As jy ’n produk bekostigbaar en maklik beskikbaar maak, is rowery minder.”
In Duitsland, waar Deon die afgelope paar jaar woon, word boekpryse gereguleer. “Ek koop nuwe boeke van debuutskrywers vir so min as 4 euro in Berlyn. In Berlyn word boekverkope as ’n essensiële diens beskou en winkels is oop tydens die pandemie. Boekpryse in Duitsland is fixed. Niemand mag dit vir meer of minder as die aanbevole prys verkoop nie.”
Izak de Vries, bemarkingsbestuurder van LAPA, sê dat uitgewers in Suid-Afrika behoorlik bollemakiesie moet slaan om boeke winsgewend aan die mark te lewer. Hy vra: “Wie betaal die redigeerder? Wie betaal die uitlegkunstenaar? Wie betaal die proeflesers? Dan betaal ons tussen 50% en 70% aan die platforms wat e-boeke verkoop.” Nadat die platforms hulle deel gevat het, moet skrywers nog tantième kry. “Wat bly dan oor vir die uitgewers? Deon het duidelik nie ’n idee wat dit kos om ’n boek te maak nie,” sê hy.
Volgens Nicol Faasen, voorsitter van die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (PASA) se komitee vir regsaangeleenthede, is digitale materiaal ook aan die Outeursregwet onderhewig. “Dit is waar dat tegnologie vinnig ontwikkel en dat skrywers en uitgewers gedurig uitgedaag word om vernuwend te dink om aan ontwikkelende behoeftes te voorsien en moontlikhede te benut.” Op ’n ironiese manier is e-boekdiefstal musiek in Nicol se ore, want dit beteken mense wíl lees! “Maar diefstal bly diefstal,” waarsku hy. “Ons moet wel onderskei tussen diegene wat onkundig is oor die gevolge daarvan en dié wat net geniet om dit te lees, en diegene wat doelbewus en wetend oortree.”
Vir uitgewers is daar verskeie moontlikhede om e-boekdiefstal te benader. Nicol Faasen sê: “Dit strek van sensitiwiteit om behoeftes beter te verstaan en gepaste produkte te lewer, tot regstappe.” ’n Grootskaalse bakleiery met gebruikers blyk egter nie die beste opsie te wees nie.
Volgens wet kan oortreders ’n boete van tot R10 000 of selfs tronkstraf van 10 jaar opgelê word.
Skrywers werk saam met uitgewers om die probleem hok te slaan. En waar skrywers kan, steek hulle vure van bewusmaking aan die brand. Fanie Viljoen het byvoorbeeld met ’n veldtog op Facebook begin deur mense aan te moedig om ’n raam om hul profielfoto’s te plaas met die leuse: Boeke is my taal se bloed – moet dit asseblief nie steel en deel nie.
Intussen is skrywers se boodskap aan Afrikaanse lesers dringend. Sophia Kapp sê: “Mense wat Afrikaanse produkte onwettig uitruil, of dit nou boeke, tydskrifte, koerante, woordeboeke, onderrigmateriaal, hekelpatrone, resepte of enige ander kreatiewe produk is wat aan die skepper ’n inkomste moes besorg, ontneem die skepper en die mense wat saam aan die produk se totstandkoming gewerk het van ’n rede om nog so ’n produk te skep. Wat beteken Afrikaans se kreatiewe skat gaan stagneer. Om dit prontuit te stel: Sulke mense steel Afrikaans dood.”
Kommentaar
Ek haal prof. Elize Botha se woorde aan: "boeke is brood".
Brood vir die leser maar ook brood op die tafel vir die skrywer.
Hoekom moet woordkunstenaars en kunstenaars oor die algemeen altyd hulle werk goedkoop aanbied?
Soms word daar selfs van sangers byvoorbeeld verwag om verniet of byna verniet - asseblief tog, by 'n funksie die gaste te kom vermaak.
Goedkoop is 'n relatiewe term.
Mense is meer as bereid om vir 'n enkel maaltyd in 'n eetplek meer te betaal as vir die produk waaraan 'n skrywer/kunstenaar maande en jare gewerk het. Dit is 'n skande!
So Deon Maas koop 'n boek teen sowat R 85 maar Suid-Afrikaners betaal R250 of R350 vir 'n boek. En neem in ag ons is 'n baie armer land as Duitsland. Dit laat my wonder oor daardie 'platforms' waarvan daar hier geskryf word wat glo tot 70% van die koek vat. Kan daar werklik nie goedkoper alternatiewe aanlyn platforms geskep word nie? Hoe kry ander lande dit reg om nuwe boeke teen R 85 te verkoop? Ek onthou my pa het altyd gereeld gesê hy wil so graag 'n boek koop, maar hy los dit liewer want dis te duur. En ek is seker daar is nog baie sulke mense wat ook boeke sou koop as hulle R85 kon betaal in plaas van R300.
Skoolhandboeke word ook sonder toestemming van skrywers op 'n e-platform geplaas en kopieë dan afgelaai vir leerlinge.
Ek sal graag meer detail wou weet, maar soos dit vir my lyk, is die *.pdf's kwesbaar. Kindle-formaat is 'n ander kwessie. Uit 'n IT oogpunt is dit eintlik logies. Adobe het die PDF-formaat ontwerp om dokumente van een rekenaar na 'n ander te skuif. Trouens, PDF = Portable Document Format. Sekuriteit van PDF's is gebaseer op die feit dat stuurder en ontvanger van die dokument die dokument se wagwoord tussen hulle deel. In die geval van Kindle, is die dokument op 'n bediener (server) gesentreer en toegang word vandaar bewerkstellig. As die dokument skuif, dan verander kenmerke van die dokument (soos datum geskep en die rekenaar se MACH adres ens.) en daarom het die leser 'n nuwe sleutel vanaf die Kindle-bediener af nodig. Die voordeel van Kindle is: jy verloor nooit die boek nie, al word jou rekenaar gesteel, want jy is 'n geregistreerde kliënt op die Kindle-bediener. Wanneer jy jouself as kliënt identifiseer sal die Kindle-bediener 'n nuwe kopie met die nuwe sleutel verskaf. Dit is 'n moeiliker stelsel om te "kraak".
Ek sal graag meer detail wou weet, maar soos dit vir my lyk, is die *.pdf's kwesbaar. Kindle-formaat is 'n ander kwessie. Uit 'n IT-oogpunt is dit eintlik logies. Adobe het die PDF-formaat ontwerp om dokumente van een na 'n ander rekenaar te skuif. Trouens PDF = Portable Document Format. Sekuriteit van PDF's is gebaseer op die feit dat stuurder en ontvanger van die dokument die dokument se wagwoord tussen hulle deel. In die geval van Kindle, is die dokument op 'n bediener (server) gesentreer en toegang word vandaar bewerkstellig. As die dokument skuif, dan verander kenmerke van die dokument (soos datum geskep en die rekenaar se MACH-adres ens) en daarom het die leser 'n nuwe sleutel vanaf die Kindle-bediener af nodig. Die voordeel van Kindle is, jy verloor nooit die boek nie, al word jou rekenaar gesteel, want jy is 'n geregistreerde kliënt op die Kindle-bediener. Wanneer jy jouself as kliënt identifiseer, sal die Kindle-bediener 'n nuwe kopie met die nuwe sleutel verskaf. Dit is 'n moeiliker stelsel om te "kraak".
Iemand het so 'n jaar gelede vir my 'n pas verskene boek aangestuur. Die boek was rooiwarm en het later in die tien-duisende verkoop. Ek het een bladsy gelees om te sien waaroor die boek gaan en dit daarna dadelik van my rekenaar verwyder.
Ek lees altyd bladsy 69 van 'n boek wat ek optel om te besluit of ek dit wil aanskaf. Daardie bladsy 69 was so swak geskryf dat ek in elk geval nie die boek sou aanskaf nie, en ek het nie.
Barend van der Merwe, ek wil net graag aan jou uitlig dat Deon Maas as skrywer, die tyd vir navorsing vir sy boek ingesit het. Daarna het hy vir dae, dalk maande voor sy rekenaar gesit om daardie boek te skryf. Nadat hy klaar is, moes hy daardie boek noukeurig deurgaan om dit gereed te kry vir instuur na sy uitgewers. Daarna het hy dit ingestuur. Wanneer dit aanvaar word, begin die skaafwerk van voor af. So nog ure en dae van lees en weer lees en verander soos jou uitgewer dit wil hê word spandeer. Daarna word die veranderings aangebring en word dit weer na die skrywer gestuur vir finale deurgaan en afteken voor dit publiseer word.
Wanneer ander mense saam met hul gesinne ontspan oor naweke of selfs in weeksdae, is skrywers besig om te skryf sodat die publiek leesstof kan kry om hulle mee te vermaak. Ja, dit is 'n passie, want niemand sal deur soveel werk gaan as dit nie was nie, maar ek glo dat die lesers of baie min van hulle enige idee het hoeveel werk in 'n boek in gaan wanneer hulle dit in hul hande hou.
Verder, as iemand 'n prokureur, regter, boekhouer is - dink jy vir een oomblik hierdie mense sal hulle dienste verniet weg gee? Stellig nie! Elke boek wat 'n skrywer skryf is soos 'n deeltjie van hul hart en persoonlikheid wat hulle deel.
Die ekstra kostes is vir dinge soos die strepieskode wat elke boek op moet kry, eksemplare wat aan die Nasionale Biblioteek in SA gestuur word, bemarking kostes van die uitgewer en ook druk kostes.
Dus is daar meer aan om 'n boek uit te gee as wat dit mag bleik. E-boeke is vir so min as R65.00 van uitgewers verkrygbaar. Daar is dus geen rede hoekom mense 'n onwettig verspreide e-boek opraap en lees, maar vir jou vertel dat hulle liewer 'n boek in hul hande wil hou nie. As hul 'n onwettig verspreide boek kan opraap en lees, hoekom kan hulle nie wettig 'n e-boek van die skrywer by die uitgewer bestel en lees nie?
Ek sê maar net!