Dying for Gold: ’n filmresensie

  • 0

’n Skermgreep van die dokumentêr Dying for Gold

Mynbou is nie net sinoniem met hoogs gesogte metale soos goud nie, maar ook met swaarkry, seerkry en verwoeste lewens. Talle mynwerkers staar ’n aftrede van pyn en leiding in die gesig, met siektes soos silikose en tuberkulose wat hulle voorland is. Dit is ongelukkig die realitiet van meer as 500 000 mynwerkers, tog is dit nie alombekend nie.

Dit is dus juis wat die dokumentêr Dying for Gold poog om te doen: die kollig te plaas op die verdoemende feite van die mynbougeskiedenis van Suid-Afrika se invloed op sy mynwerkers en meer spesifiek hulle gesondheid.

Die dokumentêr kyk na die omgewings- en politieke landskap van Suid-Afrika en hoe dit beïnvloed is deur die mynbedryf oor die afgelope eeu. Dying for Gold is ’n interessante blik op die mynbedryf van Suid-Afrika, die geskiedenis daarvan, die destydse uitbuitende werwingspogings in Suider-Afrika, en die impak daarvan op talle mynwerkers. ’n Geskiedenis van uitbuiting, kolonialisme en rassisme.

’n Skermgreep van die dokumentêr Dying for Gold

Hierdie dokumentêr word onder meer beskryf as die “ongekende verhaal van die vorming van Suid-Afrika”, en verken die talle maniere waarop die mynbedryf ’n sleutelrol gespeel het in in die vorming van apartheid Suid-Afrika.

Vir lank het honderde duisende swart mans uit sub-Sahara-Afrika hul gesinne verlaat om in die myne te werk en grawe vir goud, en so Suid-Afrika se belangrikste bron van rykdom te produseer. Ongelukkig het dié werkers van oral oor Suider Afrika nooit die vrugte van hul harde werk gepluk nie.

Hulle moes in die wêreld se grootste myne, teen die goedkoopste moontlike prys vir hul arbeid werk om te verseker dat ander mense ryk word van hulle arbeid. Behalwe vir die klein loon wat hulle kon huistoe stuur was daar nie veel nie.

Dit, en die silikose en tuberkulose ‒ longsiektes wat hulle opgedoen het in die myne as gevolg van die silika in die stof in die myne. Die deursigtige giftige stof. En die ergste onthulling van die dokumentêr?

Die feit dat die grootbase en mediese kundiges al vroeg geweet het van die gesondheidsgevare van die myne, maar verkies het om niks daarvan te noem of daaraan te doen nie. Wins was die enigste motief, die welstand van die werkers het sleg tweede gekom.

Richard Pakleppa en Catherine Meyburgh is die skeppers van hierdie roerende dokumentêr wat ’n kragtige kykie op die gesondheidsimpak bied op die mynwerkers wat hulle lewe feitlik ondergronds deurgebring het.

Die dokumentêr maak gebruik van argiefbeeldmateriaal uit die koloniale- en apartheid tydperk, tesame met onderhoude met mynwerkers wie se lewens deur silikose en tuberkulose aangetas is. Só toon die film hoe Suider-Afrika se inheemse samelewings vernietig is in die naam van goedkoop arbeid.

Dying for Gold

Die rolprentmakers het maande lank in staatsargiewe gesoek na  historiese materiaal en afgekom op filmbeeldmateriaal en dokumente wat dit duidelik maak dat die mynboubedryf bewus was dat die werk wat deur mynwerkers gedoen is, potensieel lewensbedreigend was. In die dokumentêr word daar onder andere argiefbeeldmateriaal gewys van 1921 waar daar toe al van die “dust that kills” gepraat word.

Deur middel van die onderhoude met mense van die betrokke gemeenskappe en mynfamilies regdeur Suider-Afrika, wat geraak is deur die gevolge van die mynboubedryf, vertel Dying for Gold die verhaal van hoe ons by hierdie buitengewone situasie gekom het, en vra die dokumentêr geregtigheid vir die mynwerkers.

Volgens die dokumentêr is 500 000 goudmynwerkers van Suid-Afrika, Mosambiek, Swaziland, Lesotho, Botswana en Malawi besig om van silikose en tuberkulose te sterf as gevolg van die werk in die myne.

Tot op hede is die meeste van die betrokke mynwerkers nie skadevergoeding gegee as kompensasie vir die skadelike invloed wat die myne op hulle gesondheid gehad het nie. Hulle word eerder teruggestuur na hulle landelike gemeenskappe waar hulle geliefdes vir die res van hulle lewens na hulle gesondheid moet omsien, met beperkte fondse en hulpbronne.

Daarom maak die dokumentêr die stelling dat Suid-Afrika se rykdom ten koste van soveel mynwerkers is. Vandag het daardie gemeenskappe regoor Suider-Afrika, waar die broodwinners afhanklik was van hul mynbouwerk niks om te wys vir die rykdom wat hulle vir Suid-Afrika geskep het nie.

’n Skermgreep van die dokumentêr Dying for Gold

Om geregtigheid te eis, het mynwerkers ’n klasaksie regsgeding teen die goudmynmaatskappye begin wat in Mei 2018 buite die hof afgehandel is. Die dokumentêr verduidelik hoe mynbase en grootkoppe vir 120 jaar versuim het om myne veilig te maak van skadelike toestande wat hierdie siektes veroorsaak.

Alhoewel wetgewing, om mynwerkers teen die dodelike silikastof te beskerm, volgens beeldmateriaal in die dokumentêr, reeds sedert 1903 in plek is, is mynmaatskappye nie aanspreeklik gehou vir die oortreding van hierdie wette nie, en het hulle ook nie voldoende mediese sorg verskaf vir mynwerkers wat siek geraak het nie.

Vyf mynmaatskappye het intussen ooreengekom op ’n skikking van R5 miljard, om mynwerkers wat longsiektes opgedoen het, te vergoed. Maar die proses om die geld uit te betaal, waarsku die dokumentêr , sal waarskynlik uitgerek en kompleks wees ‒ en sal enige bedrag geld ooit regtig kan vergoed vir die vernietiging wat deur meer as ’n eeu van mynbou veroorsaak is?

Dus, die vraag wat die dokumentêr wil vra: wat is die ware koste van goud? Is dit ’n persoon se lewe werd?

Hierdie is ’n aangrypende dokumentêr wat die kyk die moeite werd is. Goed nagevors met feite wat ’n mens koud laat. Dit is veral die onderhoude met mynwerkers wat die dokumentêr ’n menslike aspek gee en die kyker lank bybly.

Dis een ding om die harde feite te gee (en dit tref ’n mens reeds), maar sodra die onpersoonlike feite persoonlik raak, en daar regte mense met regte stories op die skerm verskyn, dán tref die wrede realiteit van dekades se uitbuiting ’n mens éérs.

Dankie aan Encounters South African International Documentary Festival vir die vergunning om die dokumentêr te kyk vir die doel van die skryf van 'n resensie.

  • Foto's: verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top