Dunkirk: ’n filmbespreking

  • 4

Dunkirk
Regie: Christopher Nolan
Draaiboek: Christopher Nolan
Met: Fionn Whitehead, James D’Arcy, Kenneth Branagh, Harry Styles, Cillian Murphy, Tom Hardy, Jack Lowden, Mark Rylance, Tom Glynn-Carey en Barry Keoghan.

Spoiler alert: Onderstaande teks is geskryf deur ’n dosent in die geskiedenis en mag sekere kinkels en intriges in die film verklap.

Operasie Dynamo was die amptelike titel van die halsoorkop-beplande ontruiming van Britse en ander geallieerde troepe van die strand by Duinkerken, Noord-Frankryk vanaf 26 Mei tot 4 Junie 1940. Dit staan in die Britse volksmond eenvoudig bekend as Dunkirk. Die ontruiming kan seker gesien word as ’n suksesvolle poging, omdat 350 000 Britse en ander geallieerde troepe veilig na Engeland terug vervoer was voordat die Duitse weer-en lugmagte hulle kon oorrompel. Dit is ’n feit dat die Duitsers Duinkerken omsingel het en sodoende die laaste bastion van hul vyande tot in die see wou dryf. Die geallieerdes was in die moeilikheid en moes iets doen om 400 000 manskappe oor die Engelse kanaal te bring. Dink net hoe sterk sou Hitler en sy militêre magte gewees het as hulle 400 000 krygsgevangenisse gehad het met wie hulle Churchill tot oorgawe kon dwing. Die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) sou verby gewees het nog voordat dit regtig begin het. Dit is die soort geskiedkundige narratief hierdie wat produksiehuise se mond vir seker laat water as gevolg van die dinamika in die reeds-geskrewe plot (omdat geskiedenis ’n verfilmbare storie so mooi in die hande van die moderne filmvervaardiger laat val) en ook die majestueuse poging wat so ’n film sou vereis om die verlede ’n visuele werklikheid te maak. ’n Ervare en diepsinnige regisseur met ’n ingeligte draaiboekskrywer is dus nodig om die gravitas van hierdie suksesvolle ontruiming en die impak wat dit in die Britse publiek se psige gelaat het, tot vervulling op die silwerskerm te bring. Christopher Nolan (bekend vir sy suksesvolle Batman-films, maar ook sy intellektueel uitdagende films soos Inception, Interstellar en The Prestige) het in hierdie film sommer albei verantwoordelikhede op sy skouers geneem.

Nolan probeer om die storie van die Duinkerken-ontruiming te vertel uit die sosiaal-militêre perspektief van Britse en Franse soldate. Hy vertel van die ervarings wat Britse soldate (met ’n Franse kameraad tussenin), vegvlieëniers, vlootoffisiere en mediese personeel en laastens ook die burgerlike samelewing gehad het gedurende die ontruiming. Hy vleg die ervarings van die bovermelde betrokkenes in ’n nieliniêre narratief omdat die ervarings nie dieselfde hoeveel tyd geneem het om te gebeur nie, maar iewers wel met mekaar in kontak kom. Die ervaringe van Tommy (Fionn Whitehead) en sy makkers, soos Alex (Harry Styles), strek oor ’n week soos wat hulle met die duisende ander soldate gewag het om ontruim te word. Hierdie gedeelte van die film staan bekend as “The Mole”. Hulle poginge om uit Frankryk te kom en na Engeland te vaar word stuk vir stuk vertel totdat hulle op ene meneer Dawson se skip kan klim en terug na Engeland toe kan vaar. Die karakter Tommy is natuurlik nie op ’n spesifieke soldaat se ervaringe by Duinkerken gebaseer nie, maar word aangebied as die algemene ervaring (die frustrasies, hoogtepunte, vrese en begeertes) van die Britse “Tommy” met die ontruiming by Duinkerken. Die werklikheid van die oorlog word dadelik onder die gehoor se aandag gebring soos wat die openingstoneel wys hoe Britse soldate probeer om weg te kom uit Duinkerken, maar waar hulle maklik deur Duitse skote afgemaai word. Hulle loop wel stadig na hul ontmoetingspunt, omdat hulle die Duitse propagandablaadjies bestudeer wat deur Duitse vlieëniers oor die stad versprei is. Die blaadjies was eenvoudig: die woorde “You are surrounded” met ’n kaart in rooi gedruk maak die gehoor onmiddellik bewus dat die soldate op die skerm in die knyp is en moet vlug. Die skote wat dan klap en die sparteling van die vlugtende soldate stoot die tempo van die film tot by die vlak waar dit moet wees: ’n vinnige tempo van haastigheid en desperaatheid. Maar die tempo herstel dan weer sodra die soldate by die strand kom en genoeg tyd het om in rye te staan en te wag vir iemand om hulle te kom haal. Nolan slaag daarin om die idee van desperaatheid oor te dra, maar nie van haastigheid nie. Nolan sukkel ook om die indruk te skep dat 400 000 soldate gewag het om ontruim te word. Deur gebruik te maak van die moderne tegnologie kon hy dit maklik gedoen het sonder om duisende ekstra akteurs te gebruik. As Wolfgang Pietersen dit kon doen met Troy amper 13 jaar gelede, waarom was meneer Nolan dan nou so agtelosig? As mens ’n strand vol afwagtende soldate gesien het met net ‘n minimum aantal vaartuie op die water, dan sou ieder en elk kon besef het: “O Magtag! Hier kom moeilikheid.”

Die antagonis van die film is die gesiglose Duitse mag wat stadig maar seker die Geallieerdes bereik. Net deur middel van Duitse vegvliegtuie wat die vegvlieëniers (Jack Lowden en Tom Hardy) aanval, kom die indruk dat die Duitsers wel ernstig is om die Geallieerdes te oorwin. Om die waarheid te sê, die dele waar die Duitse vliegtuie deur die vlieëniers aangeval word, is opwindend en dit is maklik om die bekommernis van Hardy se karakter te deel soos wat sy brandstof minder word en die arme Lowden se karakter amper ’n watergraf kry. Hartsnoere word geroer met die vrywillige diens wat die burgerlike seevaarders gegee het om die troepe by Duinkerken te gaan haal. Hul storie word vertolk op die skip Moonstone waar ’n meneer Dawson (Mark Rylance) sy tienerseun (Tom Glynn-Carey) en dié se tienermaat George (Barry Keoghan) saamneem om ’n verskil te gaan maak. Die lot van George simboliseer die hartseer van ’n jongmens se dood wat wel die lot was van duisende soldate wat in Frankryk gesneuwel het gedurende die nege dae van die ontruiming, maar vir dié wat wel teruggekom het, is die karakter van die bibberende soldaat (Cillian Murphy) met sy bomskok-kondisie net so in die kol. Die vlees het dalk Duinkerken oorleef, maar die gees was gebroke en amper onherstelbaar. Beide Murphy en Rylance het hul karakters briljant vertolk. Dit kan toegeskryf word aan die feit dat Rylance die Britse militêre museums besoek het om historiese opnames van Duinkerken te bestudeer en hom daardeur in die historiese werklikhede in te leef. Dit is natuurlik die aanduiding van ’n ervare akteur wat sy kuns ernstig opneem. Van Murphy kan dieselfde gesê word. Hy moes die effekte van posttraumatiese stres by soldate bestudeer om te bepaal hoe sy karakter die vernietigende effek van oorlog en moedeloosheid sou beleef en uitleef.

Mens raak wel “de hel in” vir kommandant Bolton (Kenneth Branagh) wat glad nie so bekommerd lyk soos sy eweknie kolonel Winnant (James D’Arcy) oor die lot wat op hulle wag sodra die rooi, wit en swart swastikavlag ten volle bo die dakke van Duinkerken pryk nie. Kommandant Bolton (wat gebaseer is op ander vlootoffisiere wat daar was) lyk te rustig en staan maar op die landingsplek met die wete dat die Britse vloot nie meer skepe sal stuur om die troepe te kom oplaai nie. Sy reaksie toe hy die burgerlike seevaarders se skepies deur sy verkyker gewaar en die trane swaar in sy ooglede gepak gelê het, kalmeer die frustrasie met hom en mens verstaan hoe hy moes gewroeg het met die idee dat Churchill dalk almal by Duinkerken aan die genade van die Duitsers oorgelaat het (vir ’n Suid-Afrikaner is daardie gevoel maklik verstaanbaar wanneer mens die naam Tobruk noem).

Soos wat die soldate nie verafsku word as ’n ontruimde mag wat nie die Duitsers kon stop nie, leer mens hoe voordelig dit vir die Britse bevolking was om maar net die minimum inligting oor die oorlog in Europa te kon hê voordat die Duitse magte self met hul vegvliegtuie die kanaal oorgesteek het (die sogenaamde Battle for Britain). In die een uitbeelding aan die einde van die film word dit duidelik aangebied: Alex skiet ’n ouer man se kompliment af met “All we did was to survive”, maar vir ’n oomblik staan hy verbaas wanneer die ou man se wysheid syne oortref met: “That is enough.” In oorlog is dit mos belangrik: oorleef die slag, want dis genoeg. Dit is dalk die les wat Nolan die gehoor wil leer. In moeilike tye is dit nodig om te oorleef, al moet mens tydelik so bietjie terugtrek om op ’n ander dag die stryd vir oorlewing verder aan te durf. Dit laat my wonder of Nolan daardie les nou spesifiek beklemtoon in hierdie tyd waar Brittanje worstel met hul toekoms as ’n wêreldmoondheid met Brexit, terreuraanvalle en die druk van onafhanklikheidsbewegings in Skotland en Noord-Ierland. Dalk is so ’n gevolgtrekking te diep vir ’n verhaal wat Nolan net wou vertel oor hoe die troepe by Duinkerken net-net ontvlug het en toe eers moes wag vir Eisenhower en sy Amerikaanse troepe om Noord-Frankryk, saam met ander Geallieerdes, weer oop te breek.

Die laaste toneel waar Hardy sy Supermarine Spitfire verbrand en toe krygsgevangene geneem word sluit die film weer met ’n simboliese voorstelling af. Die Britse magte was gewond, maar nie oorwonne nie. Hul krygstuig was vernietig en steeds besig om óf te brand óf te sink in die Engelse kanaal, hul manskappe was dood, gewond, gevange geneem of veilig maar geskaad, maar die Duitsers sou moes wag op ’n terugkerende Britse mag wat die oorlog anders, en kragtiger, sou aanpak. Die lig aan die einde van die donker tonnel?

Dunkirk gaan die publiek se idee oor die ontruiming by Duinkerken verander. Dit gaan selfs die algemene benadering en verwagtinge ten opsigte van toekomstige oorlogsfilms verander deur die vereiste van die inskakeling van die menslike faktor en die veranderinge wat daarmee gepaardgaan in die narratief – ’n nuwe maatstaf word deur Nolan se werk geskep vir die verfilming van geskiedkundige konflikte. Daar is natuurlik ander gevalle wat die bovermelde idee beter en duideliker kan illustreer. Kan iemand dalk vir meneer Nolan vertel wat by Tobruk en Sidi Rezegh gebeur het?

  • 4

Kommentaar

  • Koos Holtzhausen

    Dit herinner aan" The Snow Goose" die kort novelle van Paul Gallico (een van ons voorgeskrewe boeke déstyds), waarin 'n kluisenaar-vuurtoringwagter soos Wolraad Woltemade verskeie reddingsvaarte na Duinekerke onderneem het om die vasgekeedes te ontset. Op elke reddingstog het die sneeugans, wat deur die vuurtoringwagter versorg is, bo die boot gevlieg. Uiteindelik het net die gans teruggekeer na Frith, die jong meisie wat deur die sneeugans se toedoen sy geesgenoot geword het.

    https://en.wikipedia.org/wiki/The_Snow_Goose:_A_Story_of_Dunkirk

    http://www.arvindguptatoys.com/arvindgupta/snowgoose.pdf

  • Tom McLachlan

    Dit is inderdaad 'n aangrypende en ontroerende rolprent wat tref deur onderbeklemtoning eerder as deur bloed en binnegoed en die oorromantisering van heldemoed. Tog moet enkele goed in die "dosent in die geskiedenis" se stuk genoem word:
    Dit sou nader aan die waarheid gewees het om te sê "voordat die Duitse weer- en lugmag hulle oorrompel het " as "voordat die Duitse weer- en lugmag hulle kon oorrompel", want die enigste rede waarom die Geallieerde mag nié oorrompel is nie, is die feit dat Hitler genl Heinz Guderian beveel het om sy pantsermag 'n paar kilometer van Duinkerken af terug te hou. Hitler het dit om twee redes gedoen: enersyds omdat Guderian so vinnig gevorder het dat Hitler bevrees was dat die res van die invalsmagte nie kon byhou nie en Guderian se pantsers dus afgesny kon word, en andersyds omdat Hitler steeds gehoop het dat Brittanje tot ander insigte sou kom en die oorlog beëindig kon word (vgl Werner Maser en Basil Liddell-Hart).
    Die Britse vlootoffisier van wie Coetzee praat, was 'n kommandeur ("commander"), nie 'n kommandant nie; daar was en is nie 'n rang "kommandant/commandant" in die Britse of Suid-Afrikaanse vloot nie. Mnr Dawson het ook beslis nie in 'n "skip" gevaar nie, maar in 'n boot, en die talle klein vaartuie wat die Duinkerken-redding moontlik gemaak het, was insgelyks nie "skepies" nie.
    Verder is verreweg die algemeenste naam "Battle of Britain", nie "Battle for Britain" nie – vgl bv https://www.rafbf.org/battle-of-britain?gclid=EAIaIQobChMI8aW57N6_1QIVy7vtCh0iAwQPEAAYAiAAEgIYP_D_BwE
    Dit is hopelik net 'n vingerfout, maar "400 000 krygsgevangenisse"? Tog seker "400 000 krygsgevangenes"! En die WAT bevat nie 'n woord soos "hartsnoer" nie – dis "hartsnare" wat geroer word.
    Dis dalk muggiesiftery, maar presisie is tog ook belangrik.

  • Koos Holtzhausen

    Jan Taljaard verwys in vandag se Weekliks in Rapport ook na The Snow Goose en deel my sentimente.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top